Vir die •musiekleier. Van Dawid. 'n Psalm. 'n Lied.
God staan op, sy vyande spat uiteen,
sy haters vlug van Hom weg.
Soos rook weggewaai word,
so waai U hulle weg;
soos was smelt voor 'n vuur,
so verdwyn die goddeloses voor God.
Maar die regverdiges is bly,
hulle jubel voor God,
hulle juig van vreugde.
Sing vir God, besing sy Naam!
Verheerlik Hom wat op die wolke ry
– HERE is sy Naam –
jubel voor Hom!
'n Vader vir vaderloses,
'n regter vir weduwees,
is God in sy •heilige woonplek.
God laat eensames weer
in 'n huisgesin woon,
Hy lei gevangenes uit na voorspoed,
maar hardkoppiges woon
in 'n verskroeide land.
O God, toe U voor u volk
uitgegaan het,
toe U vooruitgestap het
in die wildernis, •Sela
het die aarde geskud.
Ook die hemel het gedrup
voor God, die Een van Sinai,
voor God, die God van Israel.
Milde reën het U, o God,
laat uitsak oor u erfdeel;
wat uitgeput was, het U laat herleef –
u woonplek waarin hulle woon.
In u goedheid het U
dit gereedgemaak
vir magteloses, o God.
My Heer het 'n boodskap uitgestuur;
die vroue wat die goeie tyding
bring, is 'n groot skare:
“Die konings met leërs vlug,
hulle vlug!
Die mooi vroue tuis verdeel die buit.
As julle tussen die saalsakke
gaan rus –
daar is duiwe, hulle vlerke
is met silwer bedek
en hulle penvere
met geelgroen goud.”
Wanneer die Almagtige
die konings in die land
uitmekaar jaag,
sneeu dit op die berg Salmon.
Massiewe bergreeks,
bergrug van Basan,
bergreeks met pieke,
bergrug van Basan,
waarom kyk julle met afguns,
bergreekse met pieke,
na die berg wat God gekies het
as sy woonplek?
Dit is ook waar die HERE
vir altyd sal woon.
Die strydwamag van God
is tienduisende,
duisende der duisende.
My Heer het van Sinai af
by die heiligdom aangekom.
U het opgevaar na die hoogte
om daar te woon, HERE God,
nadat U gevangenes weggevoer het
en skatplig gevorder het by mense,
selfs by hardkoppiges.
My Heer moet geprys word!
Dag ná dag dra Hy ons,
God is ons verlossing. Sela
God is vir ons die God van verlossing,
by die HERE, my Heer,
is daar uitkoms uit die dood.
God sal beslis die koppe
van sy vyande verpletter,
die harige hoofde van hulle
wat in sondeskuld volhard.
My Heer het gesê:
“Uit Basan sal Ek hulle terugbring,
Ek sal hulle terugbring
uit die dieptes van die see,
sodat jy jou voete
in bloed kan afspoel,
en die tonge van jou honde
deel kan kry aan die vyande.”
Mense sien u optogte, o God,
die optogte van my God,
my Koning, by die heiligdom:
Vooraan is die sangers,
daarna dié met snaarinstrumente
tussen jongmeisies
wat tamboeryne slaan.
Prys God in die byeenkomste,
die HERE by die bron van Israel.
Daar is Benjamin, die jongste,
hulle heerser,
die leiers van Juda in hulle menigte,
die leiers van Sebulon,
die leiers van Naftali.
Jou God het krag vir jou beskik.
Toon u krag, o God,
U wat in ons belang opgetree het
vanuit u •tempel bo Jerusalem.
Vir U sal konings geskenke bring.
Bestraf die gediertes van die riete,
die trop bulle tussen
die kalwers van volke
wat mense vertrap vir stukke silwer.
Jaag volke uitmekaar
wat graag oorlog voer.
Bronsware moet uit Egipte kom.
Die Kussiete sal dit vinnig aandra
vir God.
Koninkryke van die aarde,
sing vir God;
besing my Heer, Sela
Hom wat ry
deur die oeroue, hoogste hemel.
Kyk, Hy laat sy stem,
'n magtige stem, weerklink.
Erken die krag van God,
dat Hy hoog verhewe oor Israel is
en dat sy krag in die wolke lê.