PSALMS 68:1-35

PSALMS 68:1-35 Bybel vir almal (ABA)

Vir die leier van die koor: Van Dawid. 'n Psalm, 'n lied. Wanneer God opstaan, dan jaag Hy sy vyande na al die kante toe, dan moet almal vlug wat Hom haat. U jaag hulle weg soos rook wat wegwaai. Die mense wat verkeerd doen, sal voor God verdwyn soos iets wat smelt naby 'n vuur. Maar die mense wat reg doen, sal bly wees, hulle sal by God wees en hulle sal juig, hulle sal vrolik sing. Julle moet sing vir God, julle moet sing oor sy Naam. Julle moet vir Hom 'n pad maak, vir Hom wat deur die droë woestyn ry. Sy Naam is Here, en julle moet vir Hom juig. God is in sy gewyde woonplek. Hy is 'n Pa vir weeskinders en 'n Regter wat reg doen aan weduwees. God laat die mense wat alleen in die wêreld is, in 'n huis woon. Hy bring gevangenes uit die tronk en Hy laat dit goed gaan met hulle. Maar mense wat opstandig is teen Hom, moet woon op 'n kaal en droë plek. O God, toe U begin loop het voor u volk, toe U deur die wilde woestyn geloop het, Sela toe U gekom het, toe het die aarde gebewe, en reën het uit die lug geval. Want God was naby, Sinai-berg was hier, God was naby, Hy, die God van Israel. O God, U het oral baie reën laat val, U het u droë land weer laat lewe. Die mense wat aan U behoort, het daar gewoon, U was goed, o God, U het gesorg vir die mense wat swaarkry. Toe die Here gesê het hulle moet dit doen, het die vroue die goeie nuus gebring: “Baie soldate, konings en hulle leërs, het gevlug. Hulle het gevlug.” Die vroue wat by die huis gebly het, verdeel die goed wat hulle mans saamgebring het, niemand bly by die skaapkrale nie. Daar is beeldjies van duiwe, mense het hulle oorgetrek met silwer, en hulle vlerke is van goud. Toe die Almagtige die konings na al die kante toe gejaag het, het dit gesneeu op Salmon-berg. Basan-berg, jy wat 'n groot berg is, Basan-berg, berg wat baie hoë punte het, al die berge wat baie hoë punte het, hoekom is julle jaloers op die berg waar God wil woon, die berg waar die Here altyd wil woon? God het baie oorlogkarre, twee maal 10 000 en nog baie duisende. Die Here is in hulle. Soos Hy op Sinai-berg was, so is Hy nou in die tempel. Toe U opgegaan het teen die hoë berg, het U gevangenes saamgevat. U het presente van die mense geneem, ook van die mense wat opstandig was teen U. U, o Here, o God, het op die berg gaan woon. Ons wil die Here prys, Hy dra ons elke dag. Dit is God wat ons red. Sela Hy is ons God, die God wat ons altyd help. Die Here red mense sodat hulle nie sterf nie. Ja, God sal sy vyande se koppe stukkend slaan, die koppe van die mense wat aanhou sonde doen. God het gesê: “Ek sal julle vyande laat terugkom, uit Basan of uit die diep plekke in die see, sodat jy met jou voete in hulle bloed kan trap, en jou honde ook van die vyande se bloed kan kry.” O God, almal sien hoe U en almal by U na die tempel gaan. Dit is my God, my Koning, wat na die tempel gaan. Die mense wat sing, loop voor, die mense wat snaarmusiek maak, loop agter, en die meisies wat tamboeryne skud, loop in die middel. Daar is 'n groot vergadering, almal prys God, die nageslag van Israel prys die Here. Die leiers van Benjamin, die kleinste stam, is daar, hulle loop voor die ander leiers. Daarna kom die leiers van die Juda-stam, dit is baie baie mense. Daarna kom die leiers van die Sebulon-stam en die leiers van die Naftali-stam. Leiers van Israel, julle God het vir julle krag gegee. Dit is die krag van God. O God, U het uit u tempel u krag gebruik om ons te red, U het dit gedoen vir Jerusalem. Konings sal presente bring vir U. U moet hard raas met Egipte, daardie wilde dier tussen die riete, die volk wat sterker is as ander volke, soos bulle wat sterker is as kalwers, die volk wat trap op die stukke silwer wat ander volke vir hulle bring. U moet die volke na al die kante toe jaag, die volke wat lief is om oorlog te maak. Hulle moet vir die Here presente bring uit Egipte, die mense van die land Kus moet hulle hande uitsteek en tot God bid. Mense van al die lande op die aarde, julle moet sing vir God, julle moet die Here prys, Sela die Here wat deur die hemel ry, die hemel wat van die begin af daar is. Luister, Hy praat, Hy praat hard. Julle moet sing oor die krag van God, Hy wat Koning oor Israel is, Hy wys sy krag oral, tot in die wolke.

PSALMS 68:1-35 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

VIR die musiekleier. Van Dawid. 'n Psalm. 'n Lied. God staan op, sy vyande raak verstrooid, en sy haters vlug voor sy aangesig weg! Soos rook verdryf word, verdryf U hulle; soos was smelt voor die vuur, vergaan die goddelose voor die aangesig van God. Maar die regverdiges is bly, hulle juig voor die aangesig van God, en hulle is vrolik met blydskap. Sing tot eer van God, psalmsing tot eer van sy Naam, vul die pad op vir Hom wat deur die woestynvlaktes ry: HERE is sy Naam; en jubel voor sy aangesig! 'n Vader van die wese en 'n regter van die weduwees is God in sy heilige woning. God laat die eensames woon in 'n huisgesin, Hy lei die gevangenes uit in voorspoed; maar die wederstrewiges woon in 'n dor land. O God, toe U uitgetrek het voor u volk, toe U voortgestap het in die wildernis, Sela, het die aarde gebewe! Ook het die hemele gedrup voor die aangesig van God; hierdie Sinai voor die aangesig van God, die God van Israel! Met 'n milde reën het U, o God, u erfdeel besproei; en toe dit moeg was, het Ú dit versterk. U skare het daarin gewoon; U het dit in u goedheid berei vir die ellendige, o God! Die Here het die woord laat hoor — die vroue wat die goeie tyding gebring het, was 'n groot skare: Die konings van die leërskare vlug, hulle vlug; en sy wat tuis gebly het, verdeel die buit. As julle daar lê tussen die veekrale, is die vlerke van die duif oordek met silwer en sy vleuels met liggroen goud. Toe die Almagtige konings daarin verstrooi het, het dit gesneeu op Salmon. 'n Berg van God is die berg Basan, 'n berg met toppe is die berg Basan. Waarom kyk julle afgunstig, o berge met toppe, na die berg wat God begeer het vir sy woning? Ja, die HERE sal daar woon tot in ewigheid. Die waens van God is tienduisende, duisend maal duisende; die Here is onder hulle; dit is Sinai in heiligheid. U het opgeklim na die hoogte, U het gevangenes weggevoer, U het geskenke geneem onder die mense; ja, ook wederstrewiges om daar te woon, o HERE God! Geloofd sy die Here! Dag ná dag dra Hy ons; God is ons heil! Sela. God is vir ons 'n God van verlossinge, en die HERE Here het uitkomste teen die dood. Gewis, God sal die kop van sy vyande verbrysel, die harige skedel van hom wat in sy sondeskuld rondwandel. Die Here het gesê: Ek sal terugbring uit Basan, Ek sal terugbring uit die dieptes van die see; sodat jy jou voet kan steek in bloed, die tong van jou honde van die vyande sy deel kan hê. O God, hulle sien u optogte, die optogte van my God, my Koning in die heiligdom. Vooraan gaan die sangers, daaragter die snaarspelers, tussen jongmeisies in wat die tamboeryn slaan. Loof God, die Here, in die vergaderinge, julle wat is uit die fontein van Israel! Daar is Benjamin, die kleinste, wat oor hulle geheers het; die vorste van Juda — hulle menigte; die vorste van Sébulon, die vorste van Náftali. Jou God het jou sterkte gebied: betoon U sterk, o God, wat vir ons gewerk het! Ter wille van u tempel in Jerusalem sal die konings aan U geskenke bring. Dreig die wilde gedierte van die riet — die trop stiere saam met die kalwers van die volke — die wat hulleself onderwerp met stukke silwer. Hy het die volke verstrooi wat lus het in oorloë. Edeles sal uit Egipte kom, Kus sal haastig sy hande uitsteek na God. O Koninkryke van die aarde, sing tot eer van God; psalmsing tot eer van die Here! Sela. Van Hom wat ry in die hoogste hemele, wat uit die voortyd is; kyk, Hy verhef sy stem, 'n magtige stem. Gee sterkte aan God! Sy hoogheid is oor Israel en sy sterkte in die wolke.

PSALMS 68:1-35 Afrikaans 1983 (AFR83)

Vir die koorleier. Van Dawid. 'n Psalm. 'n Lied. As God verskyn, spat sy vyande uitmekaar, en dié wat Hom haat, vlug vir Hom. Soos rook wegwaai, so dryf U hulle weg; soos was in vuur smelt, so gaan die goddeloses tot niet as God verskyn. Maar vir die regverdiges sal daar blydskap wees, hulle sal juig voor God, hulle sal vrolik en bly wees. Sing 'n lied tot eer van God, sing tot eer van sy Naam, maak 'n pad vir Hom wat op die wolke ry, en jubel voor Hom wie se Naam Here is. 'n Vader vir weeskinders en 'n beskermer van die reg van weduwees is God in sy heilige woning. God laat eensames in 'n huisgesin woon en lei gevangenes uit na vryheid, maar wie teen God in opstand is, woon in 'n kaal woestyn. Toe U u volk uitgelei het, o God, toe U deur die woestyn gestap het, Sela het die aarde gebewe en het die hemel dit laat reën voor U uit, daar by Sinai, voor God, die God van Israel. U het oorvloedige reëns laat uitsak, o God, U het u verdorde land weer lewe gegee. U eie volk het daar gaan woon. In u goedheid, o God, het U dit vir u hulpelose volk bestem. Die Here het bekend gemaak: “Daar is goeie nuus: 'n groot leër, magtige konings, het gevlug, hulle het gevlug.” Terwyl die manskappe nog tussen die saalsakke gelê en rus het, was die vroue tuis al besig om die buit te verdeel: beeldjies van duiwe waarvan die vlerke oorgetrek is met silwer en die vlerkpunte met glinsterende goud. Dit het gesneeu op Salmonsberg toe die Almagtige die konings daar uitmekaargejaag het. Basansberg, ontsaglike berg, Basansberg, berg met hoë kruine, waarom, berg met jou hoë kruine, kyk jy met afguns na die berg wat God as sy woning verkies het, waar die Here vir ewig woon? Die skitterende strydwaens van God was duisende, duisende der duisende, toe die Here van Sinai af die heiligdom betree het. U het krygsgevangenes weggevoer, mense het vir U geskenke gebring, selfs dié wat teen U in opstand was. Toe het U opgegaan na die hoogte om daar te woon, Here God! Geloof sy die Here! Dag na dag dra Hy ons! God is ons hulp! Sela God is vir ons die God wat ons red, die Here ons God deur wie ons bewaar word in doodsgevaar. God verpletter die kop van sy vyande, die kop van dié wat in hulle sonde volhard. Die Here het gesê: “Uit Basan bring Ek my vyande, Ek bring hulle uit die dieptes van die see. Julle sal hulle bloed van julle voete afwas, die honde sal die bloed van julle vyande oplek.” Die mense sien u feesoptog, o God, die feesoptog van my God, my Koning, na sy heiligdom: vooraan die sangers, agteraan dié wat snaarinstrumente speel, en tussenin, meisies wat tamboeryne slaan. Hulle loof God in kore, die nasate van Israel loof die Here. Dáár is Benjamin, die jongste, hulle aanvoerder, dáár is die baie leiers van Juda, dié van Sebulon, dié van Naftali! Toon die mag, o God, waarmee U ons gered het, toon u mag, o God, hier uit u tempel in Jerusalem waar konings aan U geskenke bring. Tree op teen Egipte, daardie ondier tussen die riete, die magtige volk, die sterkste onder die volke, wat ander vertrap vir geld, wat volke uitmekaarjaag en hou van oorlog maak. Uit daardie selfde Egipte sal geskenke kom, en die Kussiete sal hulle hande smekend na God toe uitsteek. Koninkryke van die aarde, hef 'n lied aan tot eer van God, sing tot eer van die Here, Sela tot eer van Hom wat ry deur die hemele, die hemele wat van die begin af daar is! Hy laat sy stem, sy magtige stem, weerklink! Erken dat God magtig is! Hy heers oor Israel, Hy het mag oor die wolke!

PSALMS 68:1-35 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Vir die •musiekleier. Van Dawid. 'n Psalm. 'n Lied. God staan op, sy vyande spat uiteen, sy haters vlug van Hom weg. Soos rook weggewaai word, so waai U hulle weg; soos was smelt voor 'n vuur, so verdwyn die goddeloses voor God. Maar die regverdiges is bly, hulle jubel voor God, hulle juig van vreugde. Sing vir God, besing sy Naam! Verheerlik Hom wat op die wolke ry – HERE is sy Naam – jubel voor Hom! 'n Vader vir vaderloses, 'n regter vir weduwees, is God in sy •heilige woonplek. God laat eensames weer in 'n huisgesin woon, Hy lei gevangenes uit na voorspoed, maar hardkoppiges woon in 'n verskroeide land. O God, toe U voor u volk uitgegaan het, toe U vooruitgestap het in die wildernis, •Sela het die aarde geskud. Ook die hemel het gedrup voor God, die Een van Sinai, voor God, die God van Israel. Milde reën het U, o God, laat uitsak oor u erfdeel; wat uitgeput was, het U laat herleef – u woonplek waarin hulle woon. In u goedheid het U dit gereedgemaak vir magteloses, o God. My Heer het 'n boodskap uitgestuur; die vroue wat die goeie tyding bring, is 'n groot skare: “Die konings met leërs vlug, hulle vlug! Die mooi vroue tuis verdeel die buit. As julle tussen die saalsakke gaan rus – daar is duiwe, hulle vlerke is met silwer bedek en hulle penvere met geelgroen goud.” Wanneer die Almagtige die konings in die land uitmekaar jaag, sneeu dit op die berg Salmon. Massiewe bergreeks, bergrug van Basan, bergreeks met pieke, bergrug van Basan, waarom kyk julle met afguns, bergreekse met pieke, na die berg wat God gekies het as sy woonplek? Dit is ook waar die HERE vir altyd sal woon. Die strydwamag van God is tienduisende, duisende der duisende. My Heer het van Sinai af by die heiligdom aangekom. U het opgevaar na die hoogte om daar te woon, HERE God, nadat U gevangenes weggevoer het en skatplig gevorder het by mense, selfs by hardkoppiges. My Heer moet geprys word! Dag ná dag dra Hy ons, God is ons verlossing. Sela God is vir ons die God van verlossing, by die HERE, my Heer, is daar uitkoms uit die dood. God sal beslis die koppe van sy vyande verpletter, die harige hoofde van hulle wat in sondeskuld volhard. My Heer het gesê: “Uit Basan sal Ek hulle terugbring, Ek sal hulle terugbring uit die dieptes van die see, sodat jy jou voete in bloed kan afspoel, en die tonge van jou honde deel kan kry aan die vyande.” Mense sien u optogte, o God, die optogte van my God, my Koning, by die heiligdom: Vooraan is die sangers, daarna dié met snaarinstrumente tussen jongmeisies wat tamboeryne slaan. Prys God in die byeenkomste, die HERE by die bron van Israel. Daar is Benjamin, die jongste, hulle heerser, die leiers van Juda in hulle menigte, die leiers van Sebulon, die leiers van Naftali. Jou God het krag vir jou beskik. Toon u krag, o God, U wat in ons belang opgetree het vanuit u •tempel bo Jerusalem. Vir U sal konings geskenke bring. Bestraf die gediertes van die riete, die trop bulle tussen die kalwers van volke wat mense vertrap vir stukke silwer. Jaag volke uitmekaar wat graag oorlog voer. Bronsware moet uit Egipte kom. Die Kussiete sal dit vinnig aandra vir God. Koninkryke van die aarde, sing vir God; besing my Heer, Sela Hom wat ry deur die oeroue, hoogste hemel. Kyk, Hy laat sy stem, 'n magtige stem, weerklink. Erken die krag van God, dat Hy hoog verhewe oor Israel is en dat sy krag in die wolke lê.

PSALMS 68:1-35 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Laat God opstaan, laat sy vyande verstrooi word; laat ook die wat Hom haat, voor Hom uit vlug. Soos rook verdryf word, so verdryf hulle; soos was smelt voor die vuur, so laat die goddelose voor God omkom. Maar laat die regverdiges bly wees; laat hulle juig voor God, ja, laat hulle uitermate bly wees. Sing tot eer van God, psalmsing tot eer van sy Naam; loof hom wat op die hemel ry by sy Naam JAHWEH, en juig voor sy aangesig. 'n Vader van die wees en 'n regter van die weduwees is God in sy heilige woning. God laat die eensames in families sit, die wat met kettings vasgebind is, bring Hy uit, maar die wederstrewiges woon in 'n droë land. O God, toe U voor u volk uitgetrek het, toe U deur die woestyn getrek het; Sela: Die aarde het gebewe, die hemel het ook gedaal voor God; selfs Sinai het geruk voor God, die God van Israel. U, o God, het 'n oorvloedige reën gestuur, waardeur U u erfdeel bevestig het toe dit moeg was. U gemeente het daarin gewoon; U, o God, het uit u goedheid vir die armes berei. Die HERE het die woord gegee: groot was die menigte van die wat dit uitgegee het. Konings van die leërs het vinnig gevlug, en sy wat by die huis gebly het, het die buit verdeel. Al lê julle tussen die potte, maar julle sal wees soos die vlerke van 'n duif wat met silwer bedek is en haar vere met geelgoud. Toe die Almagtige konings daarin verstrooi het, was dit wit soos sneeu in Salmon. Die heuwel van God is soos die heuwel Basan; 'n hoë heuwel soos die heuwel Basan. Waarom spring julle, hoë heuwels? dit is die heuwel waarop God wil woon; ja, die HERE sal daarin woon tot in ewigheid. Die strydwaens van God is twintigduisend, ja, duisende engele: die HERE is onder hulle, soos op Sinai, in die heiligdom. U het opgevaar na die hoogte, U het gevangenes gevange geneem; geskenke vir mense ontvang; ja, ook vir die wederstrewiges, sodat die HERE God onder hulle kan woon. Geloofd sy die HERE wat ons daagliks belas met weldade, ja, die God van ons heil. Sela. Hy wat ons God is, is die God van verlossing; en aan GOD behoort die HERE die vloeistowwe uit die dood. Maar God sal die kop van sy vyande verwond en die harige kopvel van iemand wat nog deur sy oortredinge voortgaan. Die HERE het gesê: Ek sal terugbring uit Basan, Ek sal my volk terugbring uit die dieptes van die see. Sodat jou voet in die bloed van jou vyande gedoop kan word en die tong van jou honde daarin. Hulle het u weë gesien, o God; selfs die wandel van my God, my Koning, in die heiligdom. Die sangers het voor, die instrumentspelers agterna; onder hulle was die meisies wat met tamboere speel. Loof God in die gemeentes, die HERE, van die fontein van Israel af. Daar is die klein Benjamin met hulle owerste, die vorste van Juda en hulle raad, die vorste van Sébulon en die vorste van Naftali. U God het U sterkte gebied; versterk, o God, wat U vir ons bewerk het. Ter wille van U tempel in Jerusalem sal konings geskenke aan u bring. Bestraf die menigte spiesmanne, die menigte van die bulle, met die kalwers van die volk, totdat elkeen hom met silwerstukke onderwerp het; verstrooi die volk wat 'n welbehae in oorlog het. Vorste sal uit Egipte trek; Ethiopië sal binnekort haar hande na God uitstrek. Sing tot eer van God, julle koninkryke van die aarde! Sing tot eer van die HERE; Sela: Aan hom wat op die hemele van die hemele ry, wat van ouds was; kyk, Hy stuur sy stem uit, en dit is 'n magtige stem. Gee krag aan God: sy hoogheid is oor Israel, en sy sterkte is in die wolke. O God, verskriklik is U uit U heiligdomme; die God van Israel is Hy wat krag en krag aan sy volk gee. Geseënd is God.

PSALMS 68:1-35 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

God sal opstaan en sy vyande verstrooi. Laat dié wat Hom haat, voor Hom vlug. Soos wind rook wegblaas, so blaas U hulle weg. Soos was in vuur smelt, só vergaan goddeloses voor God. Maar die vromes sal verheug wees, hulle sal bly wees voor God, hulle sal jubel van vreugde. Sing tot God, lofsing sy Naam! Huldig Hom wat ry op die wolke. Sy Naam is HERE – jubel voor Hom! ’n Vader vir wese, ’n beskermer van weduwees; dít is God in sy heilige woning. God gee aan die eensame ’n tuiste; dié wat gevange is, lei Hy na vryheid, maar opstandelinge woon in ’n verlate woestyn. O God, toe U u volk uitgelei het, toe U deur die woestyn getrek het, Sela het die aarde gebewe en die hemele het laat reën voor U, die God van Sinai, voor God, die God van Israel. O God, U het oorvloedige reëns gestuur om u uitgedorde erfdeel te verkwik. Daar het u volk hulle gaan vestig. In u goedheid het U, o God, ook vir die armes voorsien. Die Here het bekendgemaak: “’n Menigte vroue bring die goeie nuus. Konings en leërs het gevlug.” Hulle het gevlug, en vroue het tuis die buit verdeel. Waar julle eers by skaapkrale gewoon het, is julle nou oordek met silwer en goud soos ’n duif hom toemaak met sy vlerke. Toe die Almagtige die konings verstrooi, het ’n sneeustorm op Salmonsberg gewoed. Basanberg is ’n godeberg, ’n berg met hoë spitse is Basanberg. Berg met hoë spitse, hoekom kyk jy met afguns na die berg wat God as woning gekies het, daar waar die HERE vir altyd sal woon? Met derduisende skitterende strydwaens van God het die Here vanaf Sinaiberg na sy heiligdom toe gekom. Toe U opgegaan het na die hoogte, het U krygsgevangenes weggevoer. Mense het vir U geskenke gegee, selfs dié wat teen U in opstand was. Nou sal die HERE God onder ons kom woon. Prys die Here wat ons dag na dag in sy arms dra. Hy is die God van ons verlossing. Sela God is vir ons die God wat verlos! Die oppermagtige HERE het beheer oor die dood. Immers, God self verpletter die koppe van sy vyande, die koppe van hulle wat in sonde volhard. Die Here sê: “Ek sal my vyande bring uit Basan; Ek sal hulle bring uit die dieptes van die see. Julle sal hulle bloed van julle voete afwas, en die bloed van julle vyande sal julle honde oplek!” U feesoptog is in sig, o God, die optog van my God en Koning is op pad na sy heiligdom. Vooraan is die sangers, agter hulle, die musikante. Saam met hulle is jong meisies wat op tamboeryne speel. Prys God in die vergaderings; prys die HERE, die bron van Israel. Kyk, Benjamin, die jongste, is die aanvoerder. Dan volg die baie heersers van Juda en die heersers van Sebulon en Naftali. Toon u mag, o God. Toon u krag, o God, soos U dit voorheen vir ons gedoen het. Ter wille van u tempel in Jerusalem sal konings vir U geskenke bring. Bestraf vir Egipte, die ondier tussen die riete, wat soos troppe bulle tussen kalwers ander vertrap ter wille van geld. Verstrooi die nasies wat hulle verheug in oorlog. Uit Egipte kom kosbare geskenke; met uitgestrekte hande bid Kus tot God. Koninkryke van die aarde, sing tot eer van God. Sing lofsange tot eer van die Here, Sela sing tot eer van Hom wat deur die oeroue hemel ry terwyl sy magtige stem weerklink. Verkondig God se mag, sy majesteit oor Israel, sy mag oor die wolke.