Psalms 60:1-12

Psalms 60:1-12 AFR20

Vir die •musiekleier. Op “Narsing van getuienis”. 'n Miktaam . Van Dawid. Om te onderrig. Toe hy geveg het teen Aram-Naharajim en Aram-Soba, en Joab teruggekeer en twaalfduisend Edomiete in die Soutvallei verslaan het. O God, U het ons verstoot, ons uitmekaar geslaan. U was toornig. Herstel ons! U het die land geskud, dit oopgekloof. Maak sy breuke heel, want dit wankel. U het u volk moeilike tye laat beleef; U het ons wyn laat drink wat ons laat steier. U het aan hulle wat vir U ontsag het, 'n banier gegee waaronder hulle byeen kan kom, weg van die boogskutters. •Sela Sodat u geliefdes gered kan word – verlos tog met u regterhand en antwoord ons! God self het in sy heiligdom verklaar: “Ek wil jubel, Ek wil Sigem verdeel, die vallei van Sukkot gaan Ek afmeet. Aan My behoort Gilead, aan My Manasse; Efraim is 'n beskutting vir my kop, Juda is my heerserstaf. Moab is my waskom, op Edom gooi Ek my sandaal; oor My moet jy juig, Filistea.” Wie sal my bring na 'n versterkte stad? Wie sal my lei tot by Edom? Is dit nie U, o God, wat ons verstoot het nie? U, o God, trek nie meer saam met ons leërs uit nie.