Vir die •musiekleier. Op “Moenie verwoes nie”. Van Dawid. 'n Miktaam . Toe Saul mense gestuur het om die huis dop te hou en hom dood te maak.
Red my van my vyande, my God;
hou my buite die bereik van hulle
wat teen my opstaan.
Red my van hulle wat onreg pleeg
en verlos my van mense
wat bloed vergiet;
want kyk, hulle lê my voor,
sterkes val my aan.
Nie omdat ek oortree
of gesondig het nie, HERE –
sonder dat ek sondeskuld het,
hardloop hulle en neem
teen my stelling in.
Word wakker,
sodat U my te hulp kan kom;
sien dit tog raak!
U, HERE God,
Heerser oor alle magte,
God van Israel,
staan tog op om al die nasies
tot verantwoording te roep;
moenie genadig wees teenoor
al die bose verraaiers nie. •Sela
Hulle keer terug teen die aand;
hulle gaan tekere soos honde
en sluip in die stad rond.
Kyk, uit hulle monde skuim woorde,
daar is swaarde op hulle lippe:
“Wie hoor dit?”
Maar U, HERE, U lag vir hulle;
U dryf die spot met al die nasies.
My Sterkte, aan U wil ek vashou.
Ja, God is my toevlugsoord.
Die God aan wie ek toegewy is,
sal my tegemoetkom;
God sal my laat neersien op my vyande.
Moet hulle nie doodslaan nie,
sodat my volk nie vergeet nie.
Laat hulle rondswerf deur u krag,
en bring hulle dan tot 'n val,
my Heer, ons Skild.
Hulle sondig met hulle monde,
met die woorde op hulle lippe.
Laat hulle verstrik raak
in hulle hoogmoed
oor die vervloeking
en die leuens wat hulle vertel.
Delg uit in woede, delg uit,
sodat hulle nie bestaan nie.
Dan sal mense tot by die uithoeke
van die aarde weet:
God heers in Jakob. Sela
Hulle keer terug teen die aand,
hulle gaan tekere soos honde
en sluip in die stad rond.
Hulle dwaal rond op soek na kos;
as hulle nie genoeg kry nie,
grom hulle.
Maar ek, ek sing van u krag.
In die môre jubel ek oor u troue liefde,
want U was vir my 'n toevlugsoord,
'n skuilplek op die dag van my nood.