PSALMS 59:1-17

PSALMS 59:1-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Red my van my vyande, o God. Laat my vyande my nie in die hande kry nie. Bevry my van dié wat boosheid bewerk; red my tog van dié wat bloeddorstig is. Want kyk, hulle lê my voor. Gedugte mense span saam teen my al het ek nie oortree of gesondig nie, HERE. Hoewel ek onskuldig is, bestorm hulle my, gereed vir die aanval. Ontwaak en help my! Kyk tog wat hulle doen! O HERE, God die Almagtige, God van Israel, gryp tog in en straf al die nasies. Betoon geen genade aan bose verraaiers nie. Sela Hulle kom terug in die nag, hulle grom soos honde wat in die stad ronddwaal. Kyk hoe hulle my beledig met hulle monde! Hulle wys hulle tande terwyl hulle dink: “Wie sal ons hoor?” Maar, HERE, U lag vir hulle. U spot met al die nasies. My sterkte, op U wag ek, want U, o God, is my skuilplek. My troue God sal my tegemoetkom. God sal my laat neersien op my vyande. Moenie hulle dadelik doodmaak nie, want my volk vergeet so gou; laat hulle steier deur u krag, en bring hulle tot ’n val, Here, ons skild. Weens die sonde uit hulle mond, weens die woorde van hulle lippe, laat hulle gevang word deur hulle hoogmoed, weens hulle vervloekings en hulle leuens. Vernietig hulle in u toorn! Wis hulle geheel en al uit! Dan sal hulle weet dat God in Jakob regeer en tot by die einde van die aarde. Sela Hulle kom terug in die nag, hulle grom soos honde wat in die stad ronddwaal. Hulle aas rond op soek na kos, maar kry nie genoeg nie, dan tjank hulle. Maar ek sal sing van u mag en in die oggend jubel oor u trou. Want U was my toevlug, ’n veilige skuiling in tye van nood.

PSALMS 59:1-17 Bybel vir almal (ABA)

Vir die leier van die koor: Dieselfde musiek soos vir die lied “Moenie verwoes nie.” Van Dawid. 'n Lied, toe Saul manne gestuur het om by Dawid se huis wag te staan, sodat hulle hom kon doodmaak. My God, U moet my red van my vyande, U moet my beskerm teen die mense wat my wil aanval. U moet my red van die mense wat slegte dinge doen, U moet my beskerm teen die moordenaars. Want U moet dit weet, dit is sterk mense wat vir my wag en wat my wil aanval. Ek het niks verkeerd gedoen nie, ek het nie 'n fout gemaak nie. Ek het niks gedoen nie, maar hulle maak vinnig gereed om my aan te val. U moet my kom help, U moet kyk wat hulle doen. U, Here, God wat oor alles regeer, God van Israel, U moet nou begin om al die volke te straf, U moenie genadig wees vir verraaiers nie. Sela Dit is hulle wat elke aand terugkom en soos honde raas en om die stad loop. U moet hoor wat hulle alles sê, hulle woorde is so skerp soos swaarde, hulle dink dat U dit nie hoor nie. Maar U, Here, U lag vir hulle, U lag vir al die volke. Dit is die Here wat my sterk maak, ek sal aanhou wag dat Hy my moet help, want by Hom is ek veilig. Hy is die God wat vir my sal doen wat Hy belowe het, Hy sal my vyande voor my laat val. U moenie vir hulle dadelik doodmaak nie, dan kan my volk onthou dat U my laat wen het. U moet hulle na al die kante toe jaag, U is sterk, U moet hulle op die grond laat val. My Here, U beskerm ons. U moet dit doen, want hulle doen sonde wanneer hulle praat. U moet hulle straf, want hulle is hoogmoedig, hulle vervloek mense en hulle lieg. U moet wys dat U kwaad is, U moet hulle laat sterf, U moet hulle almal laat sterf. Dan sal almal weet dat dit God is wat regeer oor sy volk Israel en oor die hele aarde. Sela Dit is hulle wat elke aand terugkom en soos honde raas en om die stad loop. Hulle soek iets om te eet, en as hulle nie genoeg kry nie, dan huil en blaf hulle. Maar ek? Ek sal sing oor u krag, ek sal elke oggend juig omdat U doen wat U belowe. By U is ek veilig, U beskerm my wanneer dit vir my gevaarlik is.

PSALMS 59:1-17 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

VIR die musiekleier; op die wysie van: „Moenie verwoes nie.” Van Dawid. 'n Gedig, toe Saul gestuur het en hulle die huis laat bewaak het om hom dood te maak. Red my van my vyande, o my God! Beskerm my teen my teëstanders! Red my van die werkers van ongeregtigheid, en verlos my van die manne van bloed! Want kyk, hulle lê en loer op my lewe; sterkes val my aan, sonder oortreding en sonder sonde van my kant, o HERE! Buiten my skuld hardloop hulle en maak hulle klaar. Ontwaak, my tegemoet, en kyk! Ja U, HERE, God van die leërskare, God van Israel, word wakker om oor al die heidene besoeking te doen; wees al die ongeregtige trouelose nie genadig nie! Sela. Elke aand kom hulle terug; hulle huil soos honde en dwaal deur die stad. Kyk, hulle smaal met hul mond; swaarde is op hulle lippe, want — wie sou dit hoor? Maar U, o HERE, lag oor hulle; U spot met al die heidene. My Sterkte, op U wil ek wag, want God is my rotsvesting. My genadige God sal my tegemoetkom; God sal my op my vyande laat neersien. Moet hulle nie ombring nie, sodat my volk dit nie vergeet nie: laat hulle rondswerwe deur u krag, en werp hulle neer, o Here, ons Skild! Sonde van hulle mond is die woord van hulle lippe; laat hulle dan gevang word in hul trots, en vanweë die vloek en die leuen wat hulle vertel. Vernietig hulle in grimmigheid, vernietig hulle, sodat hulle daar nie meer is nie; en laat hulle weet dat God heers in Jakob, tot by die eindes van die aarde! Sela. En elke aand kom hulle terug; hulle huil soos honde en dwaal deur die stad. Húlle swerwe rond om voedsel te soek; as hulle nie versadig word nie, vertoef hulle die hele nag. Maar ék sal sing van u sterkte en elke môre jubel oor u goedertierenheid, want U was 'n rotsvesting vir my en 'n toevlug in die dag toe ek benoud was.

PSALMS 59:1-17 Afrikaans 1983 (AFR83)

Vir die koorleier: op die wysie van “Moet dit nie verwoes nie!” Van Dawid. 'n Gedig, na aanleiding daarvan dat hulle, in opdrag van Saul, Dawid se huis omsingel het om hom dood te maak. Red my van my vyande, my God, beskerm my teen my teëstanders, red my van die mense wat onreg doen, bevry my van hierdie moordenaars! Die geweldenaars lê my voor om my dood te maak, hulle wil my aanval. Maar ek het nie gesondig nie, ek het nie oortree nie, Here! Ek is onskuldig en tog bestorm hulle my en val hulle my aan. Kom help my tog! Kyk wat doen hulle! U is die Here God, die Almagtige, die God van Israel! Gryp tog in en straf al hierdie vyandige nasies! Moenie genade betoon aan sulke lae verraaiers nie. Sela Hulle kom altyd in die aand terug, hulle grom soos honde en loop in die stad rond. Die skuim staan om hulle bekke, en hulle wys hulle tande, want hulle dink niemand hoor hulle nie. Maar U, Here, U lag hulle uit, U spot met al die nasies! Ek wil my hoop op U gevestig hou, U, my Sterkte, want U is my veilige vesting! My God sal my te hulp kom in sy trou, God sal my laat neersien op my teëstanders. Moet hulle nie nou al doodmaak nie, sodat hulle straf nie ongemerk aan my volk verbygaan nie. Breek hulle stadig af deur u mag en laat hulle ondergaan, Here, ons Beskermer, oor hulle woorde, die sonde uit hulle mond. Laat hulle gevang word deur hulle hoogmoed, deur die vervloekings wat hulle uitspreek, en die leuens wat hulle praat. Vernietig hulle in u toorn, wis hulle heeltemal uit. Dan sal almal weet dat God oor sy volk Jakob en oor die hele aarde regeer. Sela Hulle kom altyd in die aand terug, hulle grom soos honde en loop in die stad rond. Hulle dwaal rond agter prooi aan en as hulle nie genoeg kry nie, tjank hulle. Maar ék sal sing van u mag, elke môre sal ek jubel oor u trou, want U is vir my 'n veilige vesting, 'n skuilplek in tyd van nood.

PSALMS 59:1-17 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Vir die •musiekleier. Op “Moenie verwoes nie”. Van Dawid. 'n Miktaam . Toe Saul mense gestuur het om die huis dop te hou en hom dood te maak. Red my van my vyande, my God; hou my buite die bereik van hulle wat teen my opstaan. Red my van hulle wat onreg pleeg en verlos my van mense wat bloed vergiet; want kyk, hulle lê my voor, sterkes val my aan. Nie omdat ek oortree of gesondig het nie, HERE – sonder dat ek sondeskuld het, hardloop hulle en neem teen my stelling in. Word wakker, sodat U my te hulp kan kom; sien dit tog raak! U, HERE God, Heerser oor alle magte, God van Israel, staan tog op om al die nasies tot verantwoording te roep; moenie genadig wees teenoor al die bose verraaiers nie. •Sela Hulle keer terug teen die aand; hulle gaan tekere soos honde en sluip in die stad rond. Kyk, uit hulle monde skuim woorde, daar is swaarde op hulle lippe: “Wie hoor dit?” Maar U, HERE, U lag vir hulle; U dryf die spot met al die nasies. My Sterkte, aan U wil ek vashou. Ja, God is my toevlugsoord. Die God aan wie ek toegewy is, sal my tegemoetkom; God sal my laat neersien op my vyande. Moet hulle nie doodslaan nie, sodat my volk nie vergeet nie. Laat hulle rondswerf deur u krag, en bring hulle dan tot 'n val, my Heer, ons Skild. Hulle sondig met hulle monde, met die woorde op hulle lippe. Laat hulle verstrik raak in hulle hoogmoed oor die vervloeking en die leuens wat hulle vertel. Delg uit in woede, delg uit, sodat hulle nie bestaan nie. Dan sal mense tot by die uithoeke van die aarde weet: God heers in Jakob. Sela Hulle keer terug teen die aand, hulle gaan tekere soos honde en sluip in die stad rond. Hulle dwaal rond op soek na kos; as hulle nie genoeg kry nie, grom hulle. Maar ek, ek sing van u krag. In die môre jubel ek oor u troue liefde, want U was vir my 'n toevlugsoord, 'n skuilplek op die dag van my nood.

PSALMS 59:1-17 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Verlos my van my vyande, o my God, verdedig my teen die wat teen my opstaan. Verlos my van die werkers van ongeregtigheid, en verlos my van bloedige manne. Want kyk, hulle loer op my siel; nie oor my oortreding of oor my sonde nie, HERE. Hulle hardloop en berei hulle voor sonder my skuld: word wakker om my te help, en kyk. U dan, HERE, God van die leërskare, die God van Israel, ontwaak om al die nasies te besoek; wees nie genadig teenoor enige goddelose oortreders nie. Sela. Hulle kom in die aand terug: hulle maak 'n geraas soos 'n hond en gaan in die stad rond. Kyk, hulle raas uit met hul mond; swaarde is op hul lippe; want wie, sê hulle, hoor? Maar U, HERE, sal oor hulle lag; jy sal al die heidene bespot. Vanweë sy krag sal ek op U wag, want God is my beskutting. Die God van my barmhartigheid sal my keer; God sal my laat sien wat my begeerte oor my vyande is. Moenie doodmaak nie, sodat my volk nie vergeet nie; verstrooi hulle deur U mag; en bring hulle neer, HERE, ons skild. Want die sonde van hulle mond en die woorde van hulle lippe, laat hulle selfs in hulle trots wees, en oor die vloek en die leuens wat hulle spreek. Verteer hulle in toorn, verteer hulle, sodat hulle daar nie is nie; en laat hulle weet dat God in Jakob heers tot aan die eindes van die aarde. Sela. En laat hulle in die aand terugkeer; en laat hulle raas soos 'n hond en om die stad gaan. Laat hulle op en af ronddwaal vir vleis, en huiwer as hulle nie versadig is nie. Maar ek sal sing oor u krag; ja, ek sal in die môre sing oor u goedertierenheid, want U was my skuilplek en toevlug op die dag van my benoudheid. Tot eer van jou, o my sterkte, wil ek sing, want God is my beskutting en die God van my goedertierenheid.