Psalms 55:1-23

Psalms 55:1-23 AFR20

Vir die •musiekleier. Met snarespel. 'n Maskiel . Van Dawid. O God, luister na my gebed, verberg U nie vir my smeekbede nie. Luister tog aandagtig na my en antwoord my. Klaend dwaal ek rond; ek is verward oor die geraas van vyande, oor die getier van goddeloses, want hulle laat onreg op my neerstort, en in toorn is hulle vyandig teenoor my. My hart krimp ineen in my binneste, doodsangs het my oorval. Vrees en bewing oorweldig my, 'n rilling trek deur my liggaam. Ek het gedink, het ek maar vlerke gehad soos 'n duif! Ek sou wegvlieg en 'n tuiste vind; ja, ek sou ver weggaan om te ontvlug; ek sou in die woestyn oornag. •Sela Ek sou haastig vir my 'n skuilplek soek, weg van die rukwind, van die hewige storm. My Heer, verwar, verdeel hulle tonge, want in die stad sien ek net geweld en stryd. Dag en nag doen dit die rondte op die stadsmure, en binne die stad is daar onreg en geweld. Vernietiging is binne-in die stad, verdrukking en bedrog wyk nie van die stadsplein nie. Dit is immers nie 'n vyand wat my uittart nie – ek sou dit nog kon verduur; dit is nie my hater wat selfvoldaan is teenoor my nie; ek sou my vir hom kon versteek. Maar dat dit jy is, 'n mens soos ek, my boesemvriend en vertroueling – ons wat vertroulike gesprekke saam geniet het terwyl ons in die huis van God loop in die gedrang van mense! Mag die dood hulle onverhoeds betrap, mag hulle lewendig afdaal na die •doderyk; want boosheid is by hulle tuis, dit is in hulle midde. Ek, ek roep tot God, en die HERE sal my verlos. In die aand, in die oggend en in die middag het ek gekla en gesteun; maar Hy het my stem gehoor. Met vrede koop Hy my lewe vry van 'n geveg wat teen my gerig is, al is hulle in hulle hordes teen my. God hoor en sal hulle verneder – Hy regeer immers van die voortyd af, – Sela hulle by wie daar geen verandering is nie, en wat nie ontsag het vir God nie. Teen sy vriende het hy sy hand uitgesteek; hy het sy verbond geskend. Sy mond is gladder as botter, maar sy hart is die ene oorlog. Sy woorde is strelender as olie, maar dit is ontblote swaarde. Werp jou las op die HERE; Hy sal jou versorg, Hy sal nooit toelaat dat die regverdige wankel nie.