PSALMS 55:1-23

PSALMS 55:1-23 Bybel vir almal (ABA)

Vir die leier van die koor: Met snaarmusiek. 'n Lied van Dawid. O God, U moet luister na my gebed, U moenie maak of U nie hoor dat ek soebat nie. U moet luister en my antwoord. Ek is baie bekommerd, ek is bang wanneer ek hoor wat my vyande sê, wanneer die mense wat verkeerd doen, my wil laat swaarkry. Want hulle beskuldig my vals, hulle is kwaad en hulle haat my. My hart klop baie vinnig, ek is bang dat ek sal sterf. Ek het bang geword, baie bang, my hele liggaam bewe. Ek het gewens dat ek vlerke kan kry soos 'n duif, dan sal ek wegvlieg en op 'n ander plek gaan woon. Ja, ek sal ver wegvlug en in die woestyn gaan bly. Sela Ek sal gou gaan kyk waar ek kan wegkruip vir die stormwind, die wind wat my wil wegwaai. Here, U moet my vyande deurmekaar maak, die een moenie weet wat die ander een sê nie. Want ek sien daar is mense in die stad wat altyd wil slaan en baklei. Hulle hou aan, elke dag en nag, hulle loop op die muur om die stad, hulle doen slegte dinge aan die mense in die stad, hulle laat die mense swaarkry. Alles in die stad is sleg. Hulle verdruk die mense en lieg vir hulle op die oop stuk grond by die poort. Maar dit is nie my vyande wat my vals beskuldig nie. As dit my vyande was, dan sou ek dit verstaan het. Dit is nie die mense wat my altyd gehaat het en wat nou dink hulle is belangriker as ek nie. As dit húlle was, dan sou ek vir hulle weggekruip het. Maar dit is jy, 'n man soos ek, jy wat altyd my vriend en my maat was. Dit was altyd lekker om met jou te gesels toe ons tussen al die mense by die tempel rondgeloop het. Ek bid dat my vyande skielik moet sterf, hulle moet nog lewe wanneer hulle afgaan na die doderyk. Hoekom? Want daar is net slegte dinge in hulle huise en hulle harte. Ekself sal roep en vra dat God my moet help, en ek weet dat die Here my sal red. Ek kla en sug die hele dag lank, in die aand, in die oggend, in die middag, en die Here hoor wat ek vra. Hy red my en Hy gee vir my vrede ná die oorlog, ook wanneer daar baie vyande teen my is. God sal hoor en Hy sal hulle verneder, Hy wat Koning is van die begin af. Sela Hy sal dit doen, want my vyande wil nie verander nie, hulle wil nie gehoorsaam wees aan God en Hom dien nie. Die man wat my maat was, het slegte dinge gedoen teen my, teen my wat sy vriend was, hy het sy ooreenkoms met my gebreek. Hy het mooi dinge gesê, sy tong was so glad soos botter, maar daar was oorlog in sy hart. Sy woorde was sagter as olyf-olie, maar hulle was soos swaarde wat wil seermaak. Jy moet vir die Here vra om jou probleme te dra, Hy sal jou help. Hy sal 'n mens wat reg lewe, nie laat val en laat bly lê nie.

PSALMS 55:1-23 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

VIR die musiekleier; met snaarinstrumente. 'n Onderwysing van Dawid. O God, hoor my gebed en verberg U nie vir my smeking nie. Luister na my en verhoor my; in my onrus dwaal ek rond en is verward, weens die geroep van die vyand, weens die geraas van die goddelose; want hulle stort onreg op my af, en in toorn behandel hulle my as vyand. My hart krimp inmekaar in my binneste, en verskrikkinge van die dood het op my geval. Vrees en bewing kom oor my, en angs oordek my. Toe het ek gesê: Ag, had ek maar vlerke soos 'n duif, dan sou ek wegvlieg en wegbly! Kyk, ek sou ver wegvlug; ek sou vernag in die woestyn! Sela. Gou sou ek vir my 'n skuilplek soek teen die onstuimige wind, teen die storm. Verwar, Here, verdeel hulle spraak, want ek sien geweld en twis in die stad. Dag en nag omring hulle dit op sy mure, en binnekant is onreg en moeite. Wat onheil aanbring, is daarbinne, en verdrukking en bedrog wyk nie van sy markplein nie. Want dit is geen vyand wat my smaad nie, anders sou ek dit dra; dit is nie my hater wat hom teen my groot maak nie, anders sou ek my vir hom wegsteek; maar jy, 'n man soos ek, my vriend en my vertroude! Ons wat innig met mekaar omgegaan het, in die huis van God gewandel het met die woelige skare. Laat die dood hulle oorval, laat hulle lewendig in die doderyk neerdaal; want boosheid is in hulle woning, in hulle binneste. Maar ek, ek roep God aan, en die HERE sal my verlos. Saans en smôrens en smiddags klaag ek en steun, en Hy hoor my stem. Hy verlos my siel in vrede van die stryd teen my, want met menigtes is hulle teen my. God sal hoor en hulle antwoord; ja, Hy wat op die troon sit van lankal af, Sela; omdat by hulle geen verbetering is en hulle God nie vrees nie. Hy het sy hande uitgesteek teen die wat in vrede met hom geleef het; hy het sy verbond ontheilig. Glad is die botterwoorde van sy mond, maar sy hart is oorlog; sy woorde is sagter as olie, maar hulle is ontblote swaarde. Werp jou sorg op die HERE, en Hy sal jou onderhou; Hy sal nooit die regverdige laat wankel nie.

PSALMS 55:1-23 Afrikaans 1983 (AFR83)

Vir die koorleier: met snarespel. 'n Gedig van Dawid. Hoor my gebed, o God, moet tog nie onverskillig staan teenoor my smeking nie. Luister na my gebed en antwoord my: my sorge gee my geen rus nie. Ek is hewig ontsteld oor die dreigemente van my vyande en oor die druk van slegte mense op my. Hulle wil my met onreg breek; verwoed stook hulle vyandskap teen my. My hart krimp inmekaar in my, doodsangs oorval my, vrees en skrik oorweldig my, my hele liggaam bewe. Ek het gedink: ag, as ek maar vlerke soos 'n duif gehad het, sou ek wegvlieg en 'n woonplek soek; ek sou ver wegvlieg en in die woestyn gaan bly; Sela ek sou haastig probeer wegkom van hierdie onstuimige wind, van hierdie storm af. Dryf hulle uitmekaar, Here, maak hulle taal onverstaanbaar vir mekaar. Ek sien geweld en oproer in die stad; dag en nag maal hulle rond op sy mure; daarbinne is onreg en onheil. Daar heers wanorde in die stad, op sy pleine is daar net verdrukking en bedrog. As dit nog my vyand was wat my smaad aangedoen het, sou ek dit kon verdra; as dit 'n teëstander was wat my wou verneder, sou ek hom kon probeer vermy. Maar nou is dit jy, 'n man soos ek, my maat en my goeie vriend. Ons was so nou aan mekaar verbonde; opgewonde het ons saam na die huis van God toe gegaan. Mag die dood my vyande oorval! Mag hulle onverwags neerdaal na die doderyk, want in hulle huise en harte heers daar boosheid. Maar ek roep na God, na die Here wat my sal red. In die aand, in die môre en in die middag, heeldag kla en sug ek, en Hy hoor my roep. Hy sal my lewe red en my die oorwinning gee, al is daar so baie teen wie ek moet veg. God, wat van ewigheid af regeer, sal hoor en hulle verneder omdat hulle hulle nie bekeer nie en Hom nie dien nie. My vyand het skaars 'n ooreenkoms gesluit of hy verbreek sy beloftes van trou. Sy tong is gladder as botter, maar daar is oorlog in sy hart; sy woorde is so strelend soos olie, maar hulle is swaarde wat reg is om te steek. Laat jou sorge aan die Here oor, Hy sal vir jou sorg. Hy sal die regverdige nie in die steek laat nie.

PSALMS 55:1-23 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Vir die •musiekleier. Met snarespel. 'n Maskiel . Van Dawid. O God, luister na my gebed, verberg U nie vir my smeekbede nie. Luister tog aandagtig na my en antwoord my. Klaend dwaal ek rond; ek is verward oor die geraas van vyande, oor die getier van goddeloses, want hulle laat onreg op my neerstort, en in toorn is hulle vyandig teenoor my. My hart krimp ineen in my binneste, doodsangs het my oorval. Vrees en bewing oorweldig my, 'n rilling trek deur my liggaam. Ek het gedink, het ek maar vlerke gehad soos 'n duif! Ek sou wegvlieg en 'n tuiste vind; ja, ek sou ver weggaan om te ontvlug; ek sou in die woestyn oornag. •Sela Ek sou haastig vir my 'n skuilplek soek, weg van die rukwind, van die hewige storm. My Heer, verwar, verdeel hulle tonge, want in die stad sien ek net geweld en stryd. Dag en nag doen dit die rondte op die stadsmure, en binne die stad is daar onreg en geweld. Vernietiging is binne-in die stad, verdrukking en bedrog wyk nie van die stadsplein nie. Dit is immers nie 'n vyand wat my uittart nie – ek sou dit nog kon verduur; dit is nie my hater wat selfvoldaan is teenoor my nie; ek sou my vir hom kon versteek. Maar dat dit jy is, 'n mens soos ek, my boesemvriend en vertroueling – ons wat vertroulike gesprekke saam geniet het terwyl ons in die huis van God loop in die gedrang van mense! Mag die dood hulle onverhoeds betrap, mag hulle lewendig afdaal na die •doderyk; want boosheid is by hulle tuis, dit is in hulle midde. Ek, ek roep tot God, en die HERE sal my verlos. In die aand, in die oggend en in die middag het ek gekla en gesteun; maar Hy het my stem gehoor. Met vrede koop Hy my lewe vry van 'n geveg wat teen my gerig is, al is hulle in hulle hordes teen my. God hoor en sal hulle verneder – Hy regeer immers van die voortyd af, – Sela hulle by wie daar geen verandering is nie, en wat nie ontsag het vir God nie. Teen sy vriende het hy sy hand uitgesteek; hy het sy verbond geskend. Sy mond is gladder as botter, maar sy hart is die ene oorlog. Sy woorde is strelender as olie, maar dit is ontblote swaarde. Werp jou las op die HERE; Hy sal jou versorg, Hy sal nooit toelaat dat die regverdige wankel nie.

PSALMS 55:1-23 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Luister na my gebed, o God; en verberg jou nie vir my smeking nie. Gee aandag aan my en luister na my; ek treur in my klag en maak 'n geluid; Vanweë die stem van die vyand, vanweë die verdrukking van die goddelose; want hulle werp ongeregtigheid op my en haat my in toorn. My hart is pynlik in my binneste, en die verskrikkinge van die dood het op my geval. Vrees en bewing kom oor my, en angs het my oorweldig. En ek het gesê: Ag, het ek vlerke soos 'n duif gehad! want dan sou ek wegvlieg en rus. Kyk, dan sou ek ver wegdwaal en in die woestyn bly. Sela. Ek sou my ontvlugting van die winderige storm en storm verhaas. Verdelg, HERE, en verdeel hulle tonge, want ek het geweld en twis in die stad gesien. Dag en nag trek hulle dit rond op sy mure; ook onheil en droefheid is daarin. Bodeloosheid is daarin; bedrog en bedrog wyk nie van sy strate nie. Want dit was nie 'n vyand wat my gesmaad het nie; dan sou ek dit kon dra; ook was dit nie hy wat my gehaat het wat hom teen my groot gemaak het nie; dan sou ek my vir hom weggesteek het: Maar dit was jy, 'n man van my gelyke, my gids en my bekende. Ons het saam goeie raad gehou en saam na die huis van God gestap. Laat die dood hulle oorval en laat hulle lewendig in die hel neerdaal, want goddeloosheid is in hulle wonings en onder hulle. Wat my betref, ek sal God aanroep; en die HERE sal my verlos. Ek sal saans en môre en middag bid en hardop roep, en hy sal my stem hoor. Hy het my siel in vrede gered uit die geveg wat teen my was, want daar was baie by my. God sal hoor en hulle verdruk, ook hy wat van ouds bly. Sela. Omdat hulle geen verandering het nie, daarom vrees hulle God nie. Hy het sy hande uitgesteek teen dié wat met hom vrede het; Hy het sy verbond verbreek. Die woorde van sy mond was gladder as botter, maar oorlog was in sy hart; sy woorde was sagter as olie, tog was dit ontblote swaarde. Werp jou las op die HERE, en Hy sal jou onderhou; Hy sal nooit toelaat dat die regverdige wankel nie. Maar U, o God, sal hulle afbring in die kuil van vernietiging; maar ek sal op U vertrou.

PSALMS 55:1-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Luister na my gebed, o God. Moenie my smeekbede ignoreer nie! Luister, asseblief, en antwoord my, want my moeilikhede gee my nie rus nie. Ek is ontsteld oor die dreiging van my vyande, oor die druk van die goddeloses. Hulle bring ellende oor my, en kweek vyandskap in hulle toorn. My hart pyn binne-in my. Die angs van die dood kom oor my. Vrees en bewing oorweldig my. Ek kan nie ophou bewe nie. Ek het gesê: “As ek maar vlerke het soos ’n duif, dan sal ek wegvlieg en rus hê!” Ek sou ver weg vlieg, ek sou in die woestyn gaan woon. Sela Ek sou my haas om te ontvlug van hierdie stormwind en onweer. Verslind hulle, Here, en verwar hulle spraak, want ek sien geweld en stryd in die stad. Dag en nag loop hulle rondom op die mure, maar die boosheid en onheil is in die stad! Verwoesting is aan die orde van die dag, verdrukking en bedrog heers in die strate. Dis nie ’n vyand wat my spot nie – dit sou ek kon verdra. Dis nie my vyand wat teen my grootpraat nie – ek sou vir hom kon wegkruip. Maar nou is dit jy, ’n man soos ek, my goeie vriend en my metgesel. Watter goeie kameraadskap het ons geniet! Ons het saam gegaan na die huis van God te midde van ’n skare mense! Laat die dood hulle oorval. Laat die doderyk hulle lewendig verslind, want boosheid heers in hulle huise en harte. Maar ek roep tot God, en die HERE sal my verlos. Saans, soggens en smiddae pleit ek en kla ek, en Hy hoor my stem. Hy red my lewe en bring my veilig uit die stryd wat teen my woed, want baie is vyandig teenoor my. God sal hoor en hulle verneder, Hy wat van altyd af regeer. Sela Want hulle bekeer hulle nie en dien God nie. My metgesel het teen sy vriende gedraai; hy het sy ooreenkoms verbreek. Sy woorde is so glad soos botter, maar sy hart vol oorlog. Sy woorde is strelend soos olie, maar dis soos ’n ontblote swaard! Gee jou kommer oor aan die HERE. Hy sal vir jou sorg. Hy sal gelowiges nie teleurstel nie.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid