Psalms 55:1-23

Psalms 55:1-23 ABA

Vir die leier van die koor: Met snaarmusiek. 'n Lied van Dawid. O God, U moet luister na my gebed, U moenie maak of U nie hoor dat ek soebat nie. U moet luister en my antwoord. Ek is baie bekommerd, ek is bang wanneer ek hoor wat my vyande sê, wanneer die mense wat verkeerd doen, my wil laat swaarkry. Want hulle beskuldig my vals, hulle is kwaad en hulle haat my. My hart klop baie vinnig, ek is bang dat ek sal sterf. Ek het bang geword, baie bang, my hele liggaam bewe. Ek het gewens dat ek vlerke kan kry soos 'n duif, dan sal ek wegvlieg en op 'n ander plek gaan woon. Ja, ek sal ver wegvlug en in die woestyn gaan bly. Sela Ek sal gou gaan kyk waar ek kan wegkruip vir die stormwind, die wind wat my wil wegwaai. Here, U moet my vyande deurmekaar maak, die een moenie weet wat die ander een sê nie. Want ek sien daar is mense in die stad wat altyd wil slaan en baklei. Hulle hou aan, elke dag en nag, hulle loop op die muur om die stad, hulle doen slegte dinge aan die mense in die stad, hulle laat die mense swaarkry. Alles in die stad is sleg. Hulle verdruk die mense en lieg vir hulle op die oop stuk grond by die poort. Maar dit is nie my vyande wat my vals beskuldig nie. As dit my vyande was, dan sou ek dit verstaan het. Dit is nie die mense wat my altyd gehaat het en wat nou dink hulle is belangriker as ek nie. As dit húlle was, dan sou ek vir hulle weggekruip het. Maar dit is jy, 'n man soos ek, jy wat altyd my vriend en my maat was. Dit was altyd lekker om met jou te gesels toe ons tussen al die mense by die tempel rondgeloop het. Ek bid dat my vyande skielik moet sterf, hulle moet nog lewe wanneer hulle afgaan na die doderyk. Hoekom? Want daar is net slegte dinge in hulle huise en hulle harte. Ekself sal roep en vra dat God my moet help, en ek weet dat die Here my sal red. Ek kla en sug die hele dag lank, in die aand, in die oggend, in die middag, en die Here hoor wat ek vra. Hy red my en Hy gee vir my vrede ná die oorlog, ook wanneer daar baie vyande teen my is. God sal hoor en Hy sal hulle verneder, Hy wat Koning is van die begin af. Sela Hy sal dit doen, want my vyande wil nie verander nie, hulle wil nie gehoorsaam wees aan God en Hom dien nie. Die man wat my maat was, het slegte dinge gedoen teen my, teen my wat sy vriend was, hy het sy ooreenkoms met my gebreek. Hy het mooi dinge gesê, sy tong was so glad soos botter, maar daar was oorlog in sy hart. Sy woorde was sagter as olyf-olie, maar hulle was soos swaarde wat wil seermaak. Jy moet vir die Here vra om jou probleme te dra, Hy sal jou help. Hy sal 'n mens wat reg lewe, nie laat val en laat bly lê nie.