'n Psalm. Van Asaf.
Die God van die gode, die HERE,
het gepraat
en die aarde opgeroep –
van waar die son opkom
tot waar dit ondergaan.
Vanuit Sion, plek van volmaakte
skoonheid, laat God sy lig straal.
Ons God kom
en Hy gaan nie stilbly nie;
voor Hom brand 'n verterende vuur,
rondom Hom woed 'n geweldige storm.
Hy roep na die hemel daarbo,
en na die aarde,
om sy volk te oordeel:
“Maak my getroue volgelinge
vir my bymekaar,
hulle wat by die offers
my verbond hernu.”
Die hemel maak
sy geregtigheid bekend,
want God, Hy is regter. •Sela
“Luister tog, my volk,
Ek wil my saak stel,
Israel, Ek wil teen jou getuig:
God, jou God, is Ek.
Dit is nie oor jou offers
wat Ek jou wil teregwys nie;
jou •brandoffers is altyd voor My.
Ek sal nie uit jou stal 'n bul vat,
bokramme uit jou krale nie,
want aan My behoort
al die wild in die bos,
die diere op 'n duisend berge.
Ek ken al die voëls op die berge
en die insekte van die veld
is aan My bekend.
As Ek honger word,
sal Ek jou nie sê nie,
want die wêreld en die volheid
daarvan is myne.
Eet Ek die vleis van bulle,
en die bloed van bokramme,
drink Ek dit?
Offer dank aan God,
betaal jou geloftes aan die Allerhoogste.
Roep My aan in 'n tyd van nood;
Ek sal jou red, en jy sal My eer.”
Maar vir die goddelose sê God:
“Watter reg het jy
om my voorskrifte op te sê
en my verbond op jou lippe te neem?
Jy is die een wat vermaning haat,
en my woorde verwerp.
As jy 'n dief sien,
raak jy met hom bevriend,
en met egbrekers hou jy jou op.
Jy gee jou mond vrye teuels
vir boosheid,
en jy span jou tong in vir bedrog.
Jy sit en konkel teen jou broer,
jou moeder se seun beswadder jy.
Hierdie dinge het jy gedoen,
maar Ek het stilgebly.
Jy het gedink Ek is net soos jy!
Ek gaan jou teregwys
en vir jou die saak duidelik uiteensit.
Verstaan dit tog,
julle wat God vergeet,
anders verskeur Ek,
en daar is niemand wat kan red nie.
Wie dankoffers bring,
eer My en wie 'n weg baan –
Ek sal hom God se verlossing
laat ervaar.”