PSALMS 50:1-23
PSALMS 50:1-23 Bybel vir almal (ABA)
'n Psalm van Asaf. Dit is God, God die Here, wat praat. Hy roep al die mense op die aarde, Hy roep hulle van waar die son opkom tot waar die son ondergaan. God laat sy lig skyn uit Sion, die mooiste van al die plekke. Ons God kom, Hy bly nie stil nie, 'n vuur brand voor Hom, en daar is 'n groot storm rondom Hom. Hy roep na die hemel daarbo en na die aarde, Hy wil sy volk oordeel. Hy sê: “Bring bymekaar die mense wat in My glo, die mense wat 'n offer gebring het en wat met My 'n verbond gemaak het.” Almal in die hemel sê dat God reg sal doen aan mense, want Hy is self die Regter. Sela God sê: “My volk Israel, julle moet luister, Ek wil praat. Ek wil getuie wees teen julle. Ek is God, Ek is julle God. Ek wil sê julle doen verkeerd. Hoekom wil Ek dit sê? Sê Ek dit omdat julle offers bring, of omdat julle aanhou om vir My brand-offers te bring? Nee. Ek vra nie bulle uit julle stalle of bokke uit julle krale nie, want al die wilde diere in die bos en die diere op duisende berge is Myne. Ek ken al die voëls op die berge, en al die baie diertjies in die veld behoort aan My. Wanneer Ek honger word, dan sal Ek nie vir julle kos vra nie, want die wêreld en alles daarop is Myne. Ek eet nie die vleis en Ek drink nie die bloed van die bulle en bokke wat julle offer nie. Nee, die offer wat jy vir God moet bring, is dit: Jy moet vir Hom dankie sê vir alles. En jy moet doen wat jy belowe het aan My, die Hoogste God. Jy moet tot My bid wanneer dit sleg gaan. Ek sal jou red, en jy sal My eer.” Maar God sê vir die mens wat verkeerd doen: “Dink jy dat jy reg doen? Jy sê wat Ek wil hê en jy praat oor die verbond wat Ek met julle gemaak het, maar jy haat wat Ek vir jou wil leer en jy doen nie wat Ek sê nie. Jy is vriende met elke dief wat jy sien en jy pleeg ook egbreuk wanneer ander mense dit doen. Jy wil altyd iets sê wat dit sleg sal laat gaan met iemand anders, jy vertel leuens oor mense. Jy sit en praat teen jou eie broer en jy beskuldig hom. “Jy het al hierdie dinge gedoen, en toe Ek stilgebly het, het jy gedink Ek is soos jy. Maar nou sê Ek vir jou dat jy verkeerd doen, Ek kyk in jou oë en Ek sê dit reguit vir jou. “Julle wat maak of daar nie 'n God is nie, julle moet asseblief luister na wat Ek sê. As julle dit nie doen nie, dan sal Ek word soos 'n leeu wat vir julle doodbyt, en niemand sal julle red nie. Die belangrikste offer wat Ek wil hê van die mens wat My eer, is dat hy vir My dankie moet sê vir alles. Jy moet dankie sê vir alles. Wanneer 'n mens reg lewe, dan sal Ek hom laat sien hoe dit is wanneer God hom red.”
PSALMS 50:1-23 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
'N PSALM van Asaf. Die God van die gode, die HERE, spreek en roep die aarde, van die opgang van die son af tot sy ondergang toe. Uit Sion, die volkomenheid van skoonheid, verskyn God in ligglans. Onse God kom en kan nie swyg nie. Vuur verteer voor sy aangesig, en rondom Hom storm dit geweldig. Hy roep na die hemel daarbo, en na die aarde, om sy volk te oordeel: Versamel my gunsgenote vir My, hulle wat my verbond by die offer sluit! En — die hemele verkondig sy geregtigheid, want God staan gereed om te oordeel! Sela. Hoor, my volk, dat Ek kan spreek; Israel, dat Ek jou dit kan inskerp: Ek is God, jou God! Oor jou offers bestraf Ek jou nie, en jou brandoffers is altyddeur voor My. Ek hoef uit jou huis geen stier te neem of bokke uit jou krale nie; want al die wilde diere van die bos is myne, die vee op berge by duisende. Ek ken al die voëls van die berge, en wat roer op die veld, is van My. As Ek honger het, sal Ek jou dit nie sê nie; want die wêreld is myne en sy volheid. Sou Ek vleis van stiere eet of bloed van bokke drink? Offer dank aan God, en betaal jou geloftes aan die Allerhoogste; en roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp, en jy moet My eer. Maar aan die goddelose sê God: Wat vertel jy nog my insettinge en neem jy my verbond in jou mond — terwyl jy die tug haat en my woorde agter jou werp? As jy 'n dief sien, dan geval dit jou by hom, en jou deel is met die egbrekers. Jou mond laat jy los in boosheid, en jou tong vleg bedrog. Jy sit en praat teen jou broer, die seun van jou moeder beskimp jy. Hierdie dinge het jy gedoen, en sou Ek swyg? Jy dink Ek is net soos jy! Ek gaan jou straf en jou dit ordelik voor oë stel. Verstaan dit tog, o Godvergeters, sodat Ek nie verskeur sonder dat iemand red nie. Die een wat dank offer, eer My; en die een wat op sy weg ag gee, hom sal Ek die heil van God laat geniet.
PSALMS 50:1-23 Afrikaans 1983 (AFR83)
'n Psalm van Asaf. Die Here is God, Hy alleen is God. Hy spreek, Hy roep die hele wêreld op, van waar die son opkom tot waar hy ondergaan. Uit Sion, stad van volmaakte prag, verskyn God in glans. Ons God kom, Hy bly nie stil nie. Voor Hom uit brand 'n vuur, rondom Hom woed 'n storm. Hy roep die hemel en die aarde op vir die saak teen sy volk: “Maak bymekaar dié wat aan My getrou is en met 'n offer 'n verbond met My gesluit het.” Die hemel getuig: “God is regverdig, en Hý is die regter.” Sela “Luister, my volk, Ek wil my saak stel, Ek wil teen jou getuig, Israel. Ek is God, Ek is jou God! Dit is nie omdat jy nie offer dat Ek rekenskap van jou eis nie; jou brandoffers is immers gedurig voor My. Ek wil geen jong bul uit jou stal hê of bokke uit jou krale nie, want al die diere in die bos is Myne, die wild op duisende berge. Ek ken al die voëls van die berge; al wat roer op die veld, is Myne. Ek sou jou nie vra as Ek honger sou kry nie, want die aarde en alles wat daarop is, behoort aan My. Eet Ek miskien die vleis van die bulle wat julle offer, of drink Ek die bloed van bokke? Lof is die offer wat jy aan God moet bring. Betaal jou geloftes aan die Allerhoogste. Roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp en jy sal My eer.” Maar vir die goddelose sê God: “Waarom sê jy my voorskrifte een vir een op en beroep jy jou op my verbond, jy wat 'n afkeer het van wat Ek jou leer en jou nie steur aan wat Ek sê nie? As jy 'n dief raakloop, breek jy saam met hom in, en as jy die kans kry, pleeg jy egbreuk. As jy jou mond oopmaak, praat jy kwaad; jou tong ryg bedrog aanmekaar. Jy sit en praat teen jou broer, jou eie broer beswadder jy. “Moet Ek stilbly as jy sulke dinge doen? Dan sal jy dink Ek het soos jy geword! Nee, Ek eis rekenskap van jou, Ek kla jou aan! Julle moet luister na hierdie waarskuwing, julle wat nie met God rekening hou nie, anders verskeur Ek julle sonder dat iemand kan red. “Die mens wat My eer, is die een wat lof as 'n offer bring. Hy wat reg lewe, vir hom sal Ek red.”
PSALMS 50:1-23 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
'n Psalm. Van Asaf. Die God van die gode, die HERE, het gepraat en die aarde opgeroep – van waar die son opkom tot waar dit ondergaan. Vanuit Sion, plek van volmaakte skoonheid, laat God sy lig straal. Ons God kom en Hy gaan nie stilbly nie; voor Hom brand 'n verterende vuur, rondom Hom woed 'n geweldige storm. Hy roep na die hemel daarbo, en na die aarde, om sy volk te oordeel: “Maak my getroue volgelinge vir my bymekaar, hulle wat by die offers my verbond hernu.” Die hemel maak sy geregtigheid bekend, want God, Hy is regter. •Sela “Luister tog, my volk, Ek wil my saak stel, Israel, Ek wil teen jou getuig: God, jou God, is Ek. Dit is nie oor jou offers wat Ek jou wil teregwys nie; jou •brandoffers is altyd voor My. Ek sal nie uit jou stal 'n bul vat, bokramme uit jou krale nie, want aan My behoort al die wild in die bos, die diere op 'n duisend berge. Ek ken al die voëls op die berge en die insekte van die veld is aan My bekend. As Ek honger word, sal Ek jou nie sê nie, want die wêreld en die volheid daarvan is myne. Eet Ek die vleis van bulle, en die bloed van bokramme, drink Ek dit? Offer dank aan God, betaal jou geloftes aan die Allerhoogste. Roep My aan in 'n tyd van nood; Ek sal jou red, en jy sal My eer.” Maar vir die goddelose sê God: “Watter reg het jy om my voorskrifte op te sê en my verbond op jou lippe te neem? Jy is die een wat vermaning haat, en my woorde verwerp. As jy 'n dief sien, raak jy met hom bevriend, en met egbrekers hou jy jou op. Jy gee jou mond vrye teuels vir boosheid, en jy span jou tong in vir bedrog. Jy sit en konkel teen jou broer, jou moeder se seun beswadder jy. Hierdie dinge het jy gedoen, maar Ek het stilgebly. Jy het gedink Ek is net soos jy! Ek gaan jou teregwys en vir jou die saak duidelik uiteensit. Verstaan dit tog, julle wat God vergeet, anders verskeur Ek, en daar is niemand wat kan red nie. Wie dankoffers bring, eer My en wie 'n weg baan – Ek sal hom God se verlossing laat ervaar.”
PSALMS 50:1-23 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Die magtige God, die HERE, het gespreek en die aarde geroep van die opgang van die son tot sy ondergang. Uit Sion, die volmaaktheid van skoonheid, het God geskyn. Ons God sal kom en nie swyg nie: 'n vuur sal voor Hom verteer, en rondom Hom sal dit baie onstuimig wees. Hy sal na die hemele roep van bo en na die aarde om sy volk te oordeel. Versamel my heiliges vir My; die wat 'n verbond met My gesluit het deur offerande. En die hemele sal sy geregtigheid verkondig, want God is self die regter. Sela. Hoor, o my volk, en Ek sal spreek; O Israel, en ek sal teen jou getuig: Ek is God, jou God. Ek sal jou nie teregwys oor jou slagoffers of jou brandoffers wat gedurigdeur voor my was nie. Ek sal geen bul uit jou huis haal nie, en ook geen bokke uit jou krale nie. Want al die diere van die woud is myne, en die vee op duisend heuwels. Ek ken al die voëls van die berge, en die wilde diere van die veld is myne. As ek honger was, sou ek dit nie vir jou sê nie, want die wêreld is myne en die volheid daarvan. Sal ek die vleis van bulle eet of die bloed van bokke drink? Offer aan God danksegging; en betaal jou geloftes aan die Allerhoogste. En roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou red, en jy moet My eer. Maar aan die goddelose sê God: Wat moet jy doen om my insettinge te verkondig, of dat jy my verbond in jou mond moet neem? want jy haat tug en werp my woorde agter jou aan. Toe jy 'n dief sien, het jy met hom ingestem en met egbrekers deel gehad. U gee U mond aan die kwaad, en U tong sweer bedrog. Jy sit en spreek teen jou broer; jy belaster jou eie moeder se seun. Hierdie dinge het jy gedoen, en ek het stilgebly; jy het gedink dat ek heeltemal so iemand soos jy was, maar ek sal jou bestraf en hulle voor jou oë orden. Let nou hierop, julle wat God vergeet, sodat ek julle nie verskeur en daar niemand is om te red nie. Wie lof bring, verheerlik My; en aan hom wat sy wandel reg rig, sal Ek die heil van God bekend maak.
PSALMS 50:1-23 Die Boodskap (DB)
God, die Here, wat alles kan doen wat Hy wil, praat. Hy alleen is God. Hy roep die hele wêreld nader. Almal moet na Hom luister. Sion is ’n ongelooflike mooi stad. Daar verskyn God soos ’n verblindende lig. Ons God kom. Hy bly nie stil nie. Dit is of ’n storm rondom Hom losbreek en ’n vuur alles voor Hom wegbrand. Hy roep almal in die hemel en op aarde nader om te hoor wat Hy van sy volk gaan sê. Hy gaan sy volk oordeel. “Maak die mense bymekaar wat My so getrou dien. Ons het mos ’n ooreenkoms met mekaar.” Almal in die hemel stem saam: “God doen altyd wat reg is, ook as Hy mense oordeel.” “My mense, luister. Ek wil vir julle sê wat Ek teen julle het. Ek getuig teen julle. Ek is God, julle God. Ek is nie ongelukkig omdat julle nie vir My geskenke bring nie. Ek onthou altyd julle offers. Dis nie daaroor dat Ek rekenskap van julle eis nie. Ek het nie julle bokke of beeste nodig wat julle so offer nie. Alles behoort in elk geval aan My. Daar is duisende wilde diere wat Myne is. Ja, al die beeste wat jy op die berge sien wei, behoort aan My. Die voëls wat vlieg en die diertjies wat in die veld kruip, is almal Myne. Sê nou Ek is honger, sou Ek vir jou kos vra? Nee, want alles in die wêreld behoort aan My. Ek het nie jou bokke of beeste nodig nie. Ek benodig nie hulle vleis en hulle bloed nie. Wat Ek wel wil hê, is dat jy met jou lewe vir My dankie moet sê. Gee en doen vir My, die Allerhoogste, wat jy belowe het. As jy probleme het, roep My om te help en Ek sal jou help. En jy moet vir My dankie sê.” Vir die slegte mens sê God: “Hoekom praat jy nog oor die wil van die Here asof dit vir jou saak maak? Hoekom maak jy asof ons met mekaar ’n ooreenkoms het? Jy wil nie luister wat Ek jou leer nie. Jy doen ook nie wat Ek vra nie. Jy is tuis tussen diewe en mense wat niks van die huwelik dink nie. Jy maak nes hulle. As jy jou mond oopmaak, lieg en bedrieg en skinder jy; jy gee nie eens om of dit jou eie broer is wat jy so behandel nie. Jy smeer hom swart. “Terwyl jy so woes aangegaan het, moet Ek stilbly? Dan dink jy dalk Ek maak soos jy. Nee, Ek gaan jou laat deurloop. Jy gaan mooi verstaan waaroor dit gaan. Ek kla jou aan. Luister asseblief mooi as Ek julle waarsku, julle wat leef asof God nie daar is nie. As Ek julle begin straf, sal niemand julle meer kan help nie. “Weet julle watter geskenk maak my hart bly? As julle vir My dankie sê en loof deur julle optrede. Die mense wat so leef, sal Ek altyd help.”
PSALMS 50:1-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die HERE is God, net Hy is God. Hy praat en roep die hele aarde op van waar die son opkom tot waar dit ondergaan. Vanuit Sion, in volmaakte prag, skyn God in heerlikheid. Ons God kom nader, maar nie in stilte nie: Voor Hom verteer ’n vuur en rondom Hom woed ’n storm. Hy roep die hemel en die aarde om sy getuies te wees wanneer Hy regspreek oor sy volk: “Versamel dié wat getrou is aan My, en met offers ’n verbond met My sluit.” Die hemele maak sy regverdigheid bekend, want God self is die regter. Sela “My volk, luister as Ek praat, Ek sal teen jou getuig, Israel. Ek is God, jou God! Dis nie weens jou offers dat Ek jou berispe, of oor jou brandoffers wat gedurig voor My is nie. Ek soek geen bul uit jou stal, of bokke uit jou kraal nie. Want al die diere van die bos is Myne, ook die wild op duisende berge. Ek ken elke voël op die berge; al wat roer in die veld is Myne. Sou Ek honger wees, sal Ek jou dit nie sê nie, want aan My behoort die aarde en alles daarop. Eet Ek dalk die vleis van bulle, of drink Ek die bloed van bokke? Offer dankoffers aan God, en betaal jou geloftes aan Hom die Allerhoogste. Roep na My in die dag van nood. Ek sal jou verlos en jy sal My eer.” Maar vir die goddelose sê God: “Hoe durf jy my bepalings voorhou en jou op my verbond beroep? Want jy verwerp my vermanings en verontagsaam my opdragte. Wanneer jy ’n dief sien, maak jy soos hy; en met egbrekers vereenselwig jy jou. Jou mond verkondig kwaad, en jou tong praat bedrog. Jy sit en beswadder jou broer, en praat tot nadeel van jou eie broer. Dit alles het jy gedoen, maar Ek het stilgebly, en jy het gedink Ek het soos jy geword. Maar nou eis Ek rekenskap van jou en sal jou openlik beskuldig. Luister hierna, julle wat My misken, anders sal Ek julle uitmekaarskeur sonder dat iemand julle verlos. Hy wat ’n dankoffer bring, eer My. Aan hom wat my pad volg, sal Ek my verlossing bekendmaak.”