Psalms 37:5-24

Psalms 37:5-24 AFR20

Vertrou jou lewenspad aan die HERE toe, vertrou op Hom, en Hy sal optree. Hy sal jou •geregtigheid soos die oggendlig laat verskyn en jou reg soos die middagson. Wees stil voor die HERE, en krimp ineen van vrees voor Hom. Moet jou nie ontstel oor iemand wat sukses behaal op sy lewenspad nie, oor 'n mens wat komplotte smee nie. Moenie kwaad word nie en laat vaar die woede; moet jou nie ontstel nie, dit bring net kwaad. Want kwaaddoeners sal vernietig word, maar wie op die HERE wag – hulle sal die land besit. Nog net 'n rukkie, dan sal daar geen goddelose meer wees nie. Jy sal sy plek dophou, maar hy sal nie daar wees nie. Die verdruktes sal die land besit en hulle verlustig in die oorvloed vrede. 'n Goddelose beplan onheil teen die regverdige en kners op sy tande vir hom. My Heer lag vir hom, want Hy sien dat sy dag kom. Goddeloses trek die swaard en span hulle boog om die magtelose en behoeftige neer te vel, om dié wat opreg leef, af te slag. Hulle swaard sal hulle eie hart binnedring, en hulle boë sal gebreek word. Die bietjie wat 'n regverdige het, is beter as die oorvloed van baie goddeloses. Want die arms van goddeloses sal gebreek word, maar die HERE ondersteun regverdiges. Die HERE dra sorg vir die lewensdae van hulle wat onberispelik leef: Hulle erfdeel bly vir altyd behoue. Hulle sal nie beskaamd staan in 'n tyd van teenspoed nie, en in tye van hongersnood is hulle versadig. Maar goddeloses gaan tot niet, die vyande van die HERE – soos kosbare weiveld verdwyn hulle, in 'n rookwolk verdwyn hulle. 'n Goddelose leen en betaal nie terug nie, maar 'n regverdige is goedhartig en mededeelsaam. Ja, wie deur Hom geseën is, sal die land besit, maar wie deur Hom vervloek is, sal uitgeroei word. Danksy die HERE stap 'n jong man met ferm treë; en die HERE is tevrede met sy lewenspad. As hy val, sal hy nie neerslaan nie want die HERE hou hom aan sy hand.