Van Dawid.
Voer 'n regstryd, HERE,
teen dié wat my aankla,
veg teen dié wat met my veg.
Neem 'n klein- en 'n grootskild,
en staan op om my te help.
Trek die spies en lans uit,
om my vervolgers tegemoet te gaan.
Sê vir my: “Ek is jou verlossing!”
Laat hulle wat my lewe soek,
beskaamd en verneder staan,
laat hulle wat kwaad teen my beplan,
terugdeins en verleë staan.
Laat hulle soos kaf
voor die wind wees,
terwyl die •Engel van die HERE
hulle wegvee.
Laat hulle pad donker
en glibberig wees,
terwyl die Engel van die HERE
hulle agtervolg.
Hulle het immers sonder rede
in die geheim vir my
hulle vangnet gespan,
sonder rede vir my
'n vanggat gegrawe.
Laat teenspoed oor hulle kom
sonder dat hulle dit weet,
en die net wat hulle gespan het –
laat dit hulle vang.
Deur teenspoed moet hulle daarin val.
Ek sal dan juig in die HERE,
ek sal jubel oor sy verlossing.
My hele wese sal sê:
“HERE, wie is soos U,
wat die magtelose red
van dié wat sterker as hy is,
ja, die magtelose en behoeftige
van dié wat hom beroof?”
Gewelddadige getuies staan op,
oor iets waarvan ek niks weet nie,
ondervra hulle my.
Hulle vergeld my met kwaad
vir goed;
ek is stoksielalleen.
Maar ek het, toe hulle siek was,
rouklere aangetrek;
ek het myself gefolter deur te vas.
Toe my gebed na my teruggekeer het,
was ek rusteloos
asof dit 'n vriend, my •broer, was.
Soos iemand wat oor 'n moeder treur,
was ek geboë en in rouklere.
Maar toe ek struikel, was hulle
verheug en het saamgedrom;
aanvallers het teen my
saamgedrom sonder
dat ek dit besef,
hulle het my sonder ophou
uitmekaargeskeur.
Hulle toets my,
hulle spot my met minagting,
hulle kners op hulle tande vir my.
My Heer, hoe lank gaan U toekyk?
Red my lewe van hulle vernietiging,
my enigste lewe van die jong leeus.
Dan sal ek U prys
in 'n groot vergadering,
tussen 'n menigte mense sal ek U loof.
Laat my vyande hulle nie valslik
oor my verheug nie,
laat hulle wat my sonder rede haat,
nie met die oog knik nie;
want dit is nie vrede
waaroor hulle praat nie.
Teen die mense wat stil is in die land
versin hulle woorde van bedrog.
Ja, hulle rek hulle monde wyd
oor my;
hulle sê: “Aha! Aha!
Ons het dit self gesien!”
U het dit tog gesien, HERE,
moet tog nie stilbly nie,
my Heer, moenie ver van my af
bly nie!
Word wakker! Staan op
vir my regte, vir my verdediging,
my God en my Heer.
Handhaaf my reg volgens u reg,
HERE, my God,
laat hulle nie oor my bly wees nie.
Laat hulle nie in hulle hart sê,
“Aha, net wat ons wou hê!” nie.
Laat hulle nie sê,
“Ons het hom verslind!” nie.
Laat dié wat hulle
oor my teenspoed verbly,
almal saam beskaamd
en verleë staan;
laat skaamte en vernedering
hulle soos klere bedek,
dié wat hulle teen my groot hou.
Mag dié wat graag wil hê dat reg
aan my geskied, juig en bly wees
en mag hulle aanhoudend sê:
“Groot is die HERE, wat vrede
vir sy dienskneg begeer!”
My tong sal dan mymerend
bly prewel oor u geregtigheid,
die hele dag lank oor die lof
wat U toekom.