PSALMS 35:1-28
PSALMS 35:1-28 Bybel vir almal (ABA)
Van Dawid. Here, U moet sê die mense wat my beskuldig, is self skuldig, U moet oorlog maak teen die mense wat oorlog maak teen my. U moet die groot skild en die klein skild gryp en U moet my kom help. U moet die spies vat en die mense keer wat my jaag en my wil vang, U moet vir my sê dat U my sal red. Die mense wat wil hê dat ek moet sterf, moenie wen nie, hulle moet verloor. Die mense wat wil hê dat ek moet sterf, moet ophou om my aan te val, hulle moenie weet wat om te doen nie. Hulle moet wees soos kaf wat in die wind wegwaai wanneer die Engel van die Here hulle wegjaag. Hulle paaie moet donker en glad wees, en die Engel van die Here moet hulle jaag. Ek het niks gedoen nie, maar hulle grawe vir my 'n gat om in te val, ek het niks gedoen nie, maar hulle wil my doodmaak. U moet dit sleg laat gaan met hulle, en dit moet gebeur voordat hulle besef dat dit gebeur het. Die vangnet wat hulle styfgetrek het, moet hulleself vang, hulle moet in die vangnet val en sterf. Maar ek? Ek sal juig oor wat die Here gedoen het, ek sal vrolik wees omdat Hy my gered het. Ek sal met my hele hart sê: Here, daar is niemand soos U nie, U wat die mens red wat homself nie kan red nie, die mens wat niks het nie, U wat hom red van die mense wat sterker is as hy en wat hom verdruk. Die mense wat my beskuldig, is my vyande, hulle sê ek het dinge gedoen, maar ek weet niks daarvan nie. Ek het goed gedoen aan hulle, maar hulle wil dit sleg laat gaan met my, en ek het niemand wat my kan help nie. Maar ek? Ek het rouklere aangetrek en sonder kos gebly toe hulle siek was. Ek het my kop gebuig en gebid soos ek vir 'n broer of 'n vriend bid. Ek het krom geloop en getreur, ek het gerou soos ek vir my eie ma sal rou. Maar toe dit sleg gaan met my, was hulle bly. Hulle het om my kom staan en hulle het my gespot. Mense wat ek nie ken nie, het aangehou om lelike dinge vir my te sê. Dit is vir die mense wat nie die Here dien nie, lekker om vir my te lag, hulle wil hê dat ek moet sterf. Here, hoe lank sal U dit nog sien en niks doen nie? U moet my red van hierdie mense wat my wil aanval soos leeus. Ek sal vir U dankie sê in die groot volksvergadering, ek sal U prys waar almal bymekaar is. U moenie dat my vyande bly is oor wat met my gebeur nie, U moenie dat die mense wat my haat, lekkerkry nie, ek het niks verkeerd gedoen nie. Want hulle wil hê dat dit nie goed moet gaan met my nie. Hulle vertel leuens oor mense wat vir niemand in die land pla nie. Hulle maak hulle monde groot oop, hulle sê: “Ja, ons het dit self gesien!” Here, U het dit gehoor, U moenie stilbly nie. My Here, U moenie ver van my wees nie. U moet kom, my God en my Here, U moet help dat hulle my reg oordeel. U doen reg, Here my God, U moet my oordeel, U moenie dat hulle bly is oor wat met my gebeur nie. U moenie dat hulle vir hulleself kan sê: “Dit is goed, dit is wat ons wou hê, ons het hom heeltemal gewen!” U moet die mense laat verloor wat bly is omdat ek swaarkry, U moet húlle verneder. Die mense wat dink hulle is belangriker as ek, U moet húlle laat voel hoe dit is om te verloor. Maar die mense wat wil hê ek moet wen, U moet húlle laat sing en bly wees, U moet hulle laat aanhou sê: “Die Here is groot, Hy wil hê dit moet goed gaan met 'n mens wat Hom dien.” Ekself sal aanhou praat oor U wat reg gedoen het, ek sal U die hele dag lank prys.
PSALMS 35:1-28 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
'N PSALM van Dawid. HERE, twis met die wat met my twis; bestry die wat my bestry! Gryp die klein skild en die grote, en staan op as my hulp! En trek die spies uit en stuit my vervolgers! Spreek tot my siel: Ek is jou heil! Laat hulle wat my lewe soek, beskaamd staan en in die skande kom; laat hulle wat my ongeluk beraam, agteruitwyk en rooi van skaamte word! Laat hulle word soos kaf voor die wind, terwyl die Engel van die HERE hulle wegstoot. Laat hulle weg duister en glibberig wees, terwyl die Engel van die HERE hulle vervolg! Want hulle het sonder oorsaak die kuil met hul net vir my verberg, hulle het sonder oorsaak gegrawe teen my lewe. Laat verwoesting oor hom kom sonder dat hy dit weet, en laat sy net hom vang wat hy gespan het; laat hom daarin val met verwoesting! Maar my siel sal juig in die HERE, dit sal bly wees in sy heil. Al my beendere sal sê: HERE, wie is soos U? U wat die ellendige red van die wat sterker is as hy; ja, die ellendige en behoeftige van sy berower! Kwaadwillige getuies staan op; wat ek nie weet nie, vra hulle vir my. Hulle vergeld my kwaad vir goed: verlatenheid vir my siel. En ek — toe hulle siek was, het ek 'n roukleed gedra; ek het my siel gekwel met vas, en my gebed het teruggekeer in my boesem. Ek het rondgegaan asof dit 'n vriend, asof dit 'n broer van my was; ek het gebuk gegaan in die rou soos een wat oor sy moeder treur. Maar as ek struikel, is hulle bly en kom bymekaar; hulle vergader teen my, lae mense en die wat ek nie ken nie; hulle laster sonder ophou. Onder die roekeloosste tafelspotters kners hulle met hul tande teen my. Here, hoe lank sal U dit aansien? Bring my siel terug van hulle verwoestinge, my enigste van die jong leeus af. Ek sal U loof in 'n groot vergadering; onder 'n groot skare sal ek U prys. Laat hulle oor my nie bly wees wat sonder grond my vyande is nie; laat die wat my sonder oorsaak haat, nie met die oë knip nie! Want hulle spreek nie van vrede nie, maar hulle bedink bedrieglike woorde teen die stilles in die land. En hulle maak hul mond wyd oop teen my, hulle sê: Ha, ha, ons oog het dit gesien! HERE, U het dit gesien, swyg nie. Here, wees nie ver van my af nie! Ontwaak en word wakker vir my reg; my God en Here, vir my regsaak. Doen aan my reg na u geregtigheid, HERE my God, en laat hulle oor my nie bly wees nie! Laat hulle in hul hart nie sê: Ha, ons begeerte! Laat hulle nie sê: Ons het hom verslind nie! Laat hulle wat bly is oor my ongeluk, beskaamd staan en saam rooi van skaamte word; laat hulle wat hul teen my groot maak, met skaamte en skande beklee word! Laat húlle jubel en bly wees wat 'n behae het in my geregtigheid; en laat hulle altyddeur sê: Groot is die HERE wat 'n welbehae het in die vrede van sy kneg! En my tong sal u geregtigheid prys, u lof die hele dag deur.
PSALMS 35:1-28 Afrikaans 1983 (AFR83)
Van Dawid. Behartig my saak teen dié wat my aankla, Here, tree op teen my vyande, gryp die skilde en kom help my. Vat die spies en keer my vervolgers. Laat ek U hoor sê: “Ek red jou!” Laat hulle wat my lewe soek, die slegste daarvan afkom en beskaamd staan. Laat hulle wat my ondergang soek, op die vlug slaan, teleurgestel in hulle verwagting. Laat die Engel van die Here hulle jaag soos kaf voor die wind. Maak hulle pad donker en glibberig en laat die Engel van die Here hulle agtervolg, want hulle het nie rede gehad om vir my 'n strik te stel en vir my 'n gat te grawe nie. Laat hulle einde skielik kom! Laat hulle in hulle eie strik beland! Laat hulle self in die gat val wat hulle gegrawe het! Maar ek sal juig in die Here, ek sal jubel oor die redding wat Hy bring. My hele wese sê: “Here, wie is soos U wat die swakke bevry van dié wat sterker is, die swakke en die arme van dié wat hom beroof?” Dit is kwaadwillige getuies wat teen my optree. Hulle beskuldig my van dinge waarvan ek niks weet nie. Hulle vergeld my kwaad vir goed, hulle gebruik elke geleentheid om my by te kom. En tog, toe húlle siek was, het ek getreur soos oor 'n sterfgeval: rouklere aangetrek en myself gekasty deur nie te eet nie. Ek het sonder ophou vir hulle gebid soos vir 'n vriend of 'n broer. Ek het rondgeloop soos een wat oor sy moeder treur, krom en in die rou. Maar nou dat ek in die moeilikheid is, is dit vir hulle lekker en span hulle saam teen my. Sonder dat ek weet waaroor, skeur hierdie skoorsoekers my uitmekaar en hulle kry nie end nie. Nou dat ek struikel, lag hulle daaroor; nou kom dreig hulle my. Hoe lank, Here, sal U dit duld? Red my kosbare lewe van die aanslag van hierdie mense wat my soos leeus bedreig. Dan sal ek U in 'n volle vergadering dank en voor die hele gemeente prys. Moenie dat hulle wat sonder rede my vyande is, hulle verlustig in my leed nie. Moenie dat dié wat my sonder aanleiding haat, hulle verlustig in my leed nie. Hulle wil nie vrede hê nie, hulle kom met vals beskuldigings teen vredeliewende mense. Hulle rek hulle monde teen my oop en sê: “Ja, ons het dit self gesien.” Maar U het gesien dit is nie so nie, Here. Moet tog nie swyg nie. Moenie ver van my af bly nie, Here. Tree tog vir my in, my God. Doen tog iets aan my saak, Here. U is regverdig, Here my God, laat reg aan my geskied, sodat hulle hulle nie in my leed verlustig nie. Moenie dat hulle vir hulleself sê: “Dis mos wat ons wou gehad het” nie. Moenie dat hulle sê: “Ons het hom vernietig” nie. Laat almal wat bly is oor my ellende, teleurgestel word in hulle verwagting en self in die ellende beland. Laat oor hulle wat op my neersien, skande en smaad kom. Maar dié wat wil hê ek moet vrygespreek word, laat hulle juig en bly wees, laat hulle altyd weer sê: “Die Here is groot. Hy sorg dat sy dienaar vrede het.” My tong sal nie stil word oor u trou nie, dag vir dag sal ek U loof.
PSALMS 35:1-28 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Van Dawid. Voer 'n regstryd, HERE, teen dié wat my aankla, veg teen dié wat met my veg. Neem 'n klein- en 'n grootskild, en staan op om my te help. Trek die spies en lans uit, om my vervolgers tegemoet te gaan. Sê vir my: “Ek is jou verlossing!” Laat hulle wat my lewe soek, beskaamd en verneder staan, laat hulle wat kwaad teen my beplan, terugdeins en verleë staan. Laat hulle soos kaf voor die wind wees, terwyl die •Engel van die HERE hulle wegvee. Laat hulle pad donker en glibberig wees, terwyl die Engel van die HERE hulle agtervolg. Hulle het immers sonder rede in die geheim vir my hulle vangnet gespan, sonder rede vir my 'n vanggat gegrawe. Laat teenspoed oor hulle kom sonder dat hulle dit weet, en die net wat hulle gespan het – laat dit hulle vang. Deur teenspoed moet hulle daarin val. Ek sal dan juig in die HERE, ek sal jubel oor sy verlossing. My hele wese sal sê: “HERE, wie is soos U, wat die magtelose red van dié wat sterker as hy is, ja, die magtelose en behoeftige van dié wat hom beroof?” Gewelddadige getuies staan op, oor iets waarvan ek niks weet nie, ondervra hulle my. Hulle vergeld my met kwaad vir goed; ek is stoksielalleen. Maar ek het, toe hulle siek was, rouklere aangetrek; ek het myself gefolter deur te vas. Toe my gebed na my teruggekeer het, was ek rusteloos asof dit 'n vriend, my •broer, was. Soos iemand wat oor 'n moeder treur, was ek geboë en in rouklere. Maar toe ek struikel, was hulle verheug en het saamgedrom; aanvallers het teen my saamgedrom sonder dat ek dit besef, hulle het my sonder ophou uitmekaargeskeur. Hulle toets my, hulle spot my met minagting, hulle kners op hulle tande vir my. My Heer, hoe lank gaan U toekyk? Red my lewe van hulle vernietiging, my enigste lewe van die jong leeus. Dan sal ek U prys in 'n groot vergadering, tussen 'n menigte mense sal ek U loof. Laat my vyande hulle nie valslik oor my verheug nie, laat hulle wat my sonder rede haat, nie met die oog knik nie; want dit is nie vrede waaroor hulle praat nie. Teen die mense wat stil is in die land versin hulle woorde van bedrog. Ja, hulle rek hulle monde wyd oor my; hulle sê: “Aha! Aha! Ons het dit self gesien!” U het dit tog gesien, HERE, moet tog nie stilbly nie, my Heer, moenie ver van my af bly nie! Word wakker! Staan op vir my regte, vir my verdediging, my God en my Heer. Handhaaf my reg volgens u reg, HERE, my God, laat hulle nie oor my bly wees nie. Laat hulle nie in hulle hart sê, “Aha, net wat ons wou hê!” nie. Laat hulle nie sê, “Ons het hom verslind!” nie. Laat dié wat hulle oor my teenspoed verbly, almal saam beskaamd en verleë staan; laat skaamte en vernedering hulle soos klere bedek, dié wat hulle teen my groot hou. Mag dié wat graag wil hê dat reg aan my geskied, juig en bly wees en mag hulle aanhoudend sê: “Groot is die HERE, wat vrede vir sy dienskneg begeer!” My tong sal dan mymerend bly prewel oor u geregtigheid, die hele dag lank oor die lof wat U toekom.
PSALMS 35:1-28 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Pleit my saak, HERE, met die wat met my twis, veg teen die wat teen my veg. Gryp die skild en die swaard, en staan op vir my hulp. Trek ook die spies uit en stop die weg teen die wat my vervolg; sê vir my siel: Ek is jou heil. Laat hulle wat my siel soek, beskaamd staan en beskaamd staan; Laat hulle word soos kaf voor die wind, en laat die Engel van die HERE hulle agtervolg. Laat hulle weg donker en glad wees, en laat die Engel van die HERE hulle vervolg. Want sonder oorsaak het hulle vir my hul net in 'n kuil weggesteek wat hulle sonder oorsaak vir my siel gegrawe het. Laat verderf hom onverhoeds oorval; en laat sy net wat hy weggesteek het, homself vang; laat hom in daardie selfde verwoesting val. En my siel sal juig in die HERE; dit sal juig oor sy verlossing. Al my gebeente sal sê: HERE, wie is soos U, wat die arme red van hom wat vir hom te sterk is, ja, die arme en behoeftige van hom wat hom plunder? Valse getuies het opgestaan; hulle het my dinge opgelê wat ek nie geweet het nie. Hulle het my kwaad vir goed vergeld tot die verwoesting van my siel. Maar wat my betref, toe hulle siek was, was my kleed rou; ek het my siel verneder deur te vas; en my gebed het in my eie boesem teruggekeer. Ek het my gedra asof hy my vriend of broer was: ek het swaar gebuig soos iemand wat oor sy moeder treur. Maar in my teëspoed was hulle bly en het bymekaargekom; hulle het my verskeur en nie opgehou nie. Met skynheilige spotters op feeste het hulle op my tande gekners. HERE, hoe lank sal U daarna kyk? red my siel van hulle ondergang, my liefling van die leeus. Ek wil U loof in die groot vergadering; Ek sal U loof onder baie mense. Laat die wat my vyande is, nie oor my bly wees nie, en laat hulle nie met die oog knip wat my sonder rede haat nie. Want hulle spreek nie vrede nie, maar hulle bedink bedrieglike sake teen die wat rustig is in die land. Ja, hulle het hul mond wyd teen my oopgemaak en gesê: Aha, aha, ons oog het dit gesien. Dit het U gesien, o HERE; swyg nie; o HERE, wees nie ver van my af nie. Werk jou op en word wakker vir my oordeel, vir my saak, my God en my HERE. Oordeel my, HERE my God, volgens u geregtigheid; en laat hulle nie oor my bly wees nie. Laat hulle nie in hul hart sê: Ag, ons wil dit ook hê nie; laat hulle nie sê: Ons het hom verslind nie. Laat hulle beskaamd staan en saam in verwarring gebring word wat bly is oor my ongeluk; laat hulle beklee word met skande en oneer wat hulle teen My groot maak. Laat hulle jubel en bly wees, wat my regverdige saak begunstig; ja, laat hulle gedurigdeur sê: Laat die HERE groot wees wat behae het in die voorspoed van sy kneg. En my tong sal die hele dag spreek van U geregtigheid en van U lof.
PSALMS 35:1-28 Die Boodskap (DB)
Here, baklei vir my teen hulle wat met my baklei. Veg teen hulle wat teen my veg. Kom help my teen mense wat my aanval. Keer daardie mense wat agter my aanloop om my tot ’n val te bring. Gee my weer nuwe moed! Sê hard en duidelik vir my: “Ek sal jou red.” Keer daardie spul wat my wil doodmaak. Loop bo-oor hulle. Gee dat al die rampe wat vir my beplan is, hulle tref. Laat hulle skaam kry oor wat hulle aanvang. Laat die mense wat wil hê ek moet val, terugsteier. Laat hulle rooi word van skaamte. U is so sterk, u engel kan hulle van die aarde afvee. Hulle sal soos kaf in die wind verdwyn wanneer U die dag ingryp. Daar moet vir hulle geen toekoms wees nie. Agtervolg hulle deur u engele. Slegte mense wil my sonder rede tot ’n val bring. Ek het niks aan hulle gedoen nie, maar hulle wil my vernietig. Laat ’n ramp hulle skielik tref sonder dat hulle mooi weet wat aan die gang is. Laat die rampe wat hulle vir ander mense beplan, oor hulle kom. Laat hulle self in die gat val wat hulle vir my gegrawe het. Ek is baie bly oor wat die Here doen. Ek sal opgewonde jubel omdat Hy my lewe red. Alles in my sal uitroep: “Daar is niemand soos die Here nie! Dis net U wat mense wat swak is in hulle nood red. U bevry hulle van mense wat baie sterker is as hulle. U help swak mense uit die kloue van ’n klomp diewe.” Die mense wat my wil seermaak, staan reg om leuens oor my te vertel. Hulle praat kwaad teen my. Hulle beskuldig my van ’n klomp goed waarvan ek niks weet nie. As ek vir hulle goed is, betaal hulle my terug met slegte dinge. Hulle wil my om elke hoek en draai bykom. Toe hulle siek was, was ek hartseer oor hulle lyding. Ek kon selfs nie eet nie. Ek het gevas. Die hele tyd het ek sonder ophou vir hulle gebid. Ek het hulle behandel soos my beste vriend, soos my broer. Ek het oor hulle gehuil soos ’n mens oor jou ma treur wanneer sy doodgaan. Ek was krom van hartseer. Noudat probleme my skielik onderkry, is daardie selfde klomp baie bly. Hulle span saam teen my. Almal van hulle het lekker oor my geskinder. Hulle het my verskriklik beledig. Hulle kry nie end nie. Toe ek struikel, het hulle daaroor gelag. Hulle gee niks vir my om nie. Hulle dreig my. Here, hoe lank gaan U nog toelaat dat daardie mense my laat swaarkry? Red my kosbare lewe uit die kloue van daardie spul. Hulle is soos ’n klomp honger leeus wat hulle prooi wil opeet. Dan sal ek U prys as al u kinders weer saam is! Tussen die menigte gelowiges sal ek U loof! Moenie dat ander bly wees as ek swaarkry nie. Hulle haat my sonder dat ek iets aan hulle gedoen het. Keer tog dat hulle bly is omdat dit sleg gaan met my. Hulle wil nie in vrede met my leef nie. Hulle vertel lelike dinge oor my. Hulle beskuldig my van goed wat ek nooit gesê of gedoen het nie. Here, U weet tog wat regtig gebeur het! Moenie die saak net so laat nie! Moenie my alleen los nie, Here! Kom verdedig my. Kom op vir my, Here. U is tog my God. Help my. U tree altyd reg op, Here, my God. Tree ook nou regverdig teenoor my op. Moenie dat hulle dit geniet as ek swaarkry nie. Daardie klomp moenie onder mekaar sê: “Goed so, presies net wat ons wou hê, het met hom gebeur” nie. Hulle moenie spog en sê: “Ons het hom tot ’n val gebring” nie. Laat almal wat bly is oor my probleme, tweede kom. Laat hulle self in die ellende beland. Laat hulle skaam en verleë staan. Maak almal wat my wil help se lewe vol vreugde. Laat hulle juig. Hulle moet aanmekaar sê: “Die Here is baie groot! Hy sorg dat elkeen wat Hom dien in vrede leef.” Ek sal ook vir almal van u regverdigheid vertel, Here. Ek sal U heeltyd prys omdat U goed is vir ons.
PSALMS 35:1-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Kla dié aan wat my aankla, HERE. Val húlle aan wat vir my aanval. Vat kleinskild en grootskild. Maak gereed en kom tot my redding. Neem u spies en werpspies op teen hulle wat my agtervolg. Laat ek hoor dat U sê: “Ek is jou redding!” Verneder hulle wat my lewe soek, en maak hulle tot skande. Laat hulle wat kwaad teen my beplan, in verwarring omdraai. Laat hulle wees soos kaf voor die wind wat die engel van die HERE wegblaas. Maak hulle pad donker en glibberig terwyl die engel van die HERE hulle agtervolg. Al het ek hulle geen kwaad aangedoen nie, het hulle vir my ’n strik gestel. Al het ek hulle nie benadeel nie, het hulle vir my ’n gat gegrawe. Daarom, laat sy verderf skielik kom: Laat hy in sy eie strik gevang word. Laat hy val in die gat wat hy gegrawe het. Dan sal ek juig in die HERE, ek sal my verheug oor sy redding. My hele wese sal uitroep: “HERE, wie is soos U wat die hulpelose red uit die mag van die sterke, en die armes en behoeftiges van dié wat roof?” Kwaadwillige getuies staan teen my op. Hulle vra vir my dinge waarvan ek niks weet nie. Die goeie wat ek doen, vergoed hulle met boosheid terwyl ek siek is van wanhoop. Maar toe hulle siek was, het ek van droefheid rouklere gedra. Ek het myself verneder deur te vas, maar my gebede het teruggekom sonder ’n antwoord. Soos ’n vriend of ’n broer het ek opgetree, soos een wat treur oor sy moeder, geboë en in rou. Maar nou is hulle bly wanneer ek struikel. Hulle kom bymekaar, en lasteraars span saam teen my. Dié wat ek nie eers ken nie, trek my uitmekaar sonder ophou. Toe ek gestruikel het, het hulle my gespot, teen my hulle tande gekners. Hoe lank, HERE, sal U net toekyk? Red my van hulle vernietiging, beskerm my van hulle wat my lewe soos leeus bedreig. Dan sal ek U dank in die groot vergadering; ek sal U prys voor die groot skare van mense. Moenie toelaat dat my verraderlike vyande oor my lekkerkry, of dat hulle wat my sonder rede haat, hulle verlekker oor my leed nie. Hulle praat nie oor vrede nie, maar bedink vals beskuldigings teen onskuldige mense. Hulle rek hulle monde oop teen my en sê: “Aha! Aha! Ons het dit met ons eie oë gesien!” HERE, U het alles gesien. Moenie stilbly nie! Here, moenie ver van my af wees nie. Word wakker! Staan op! Kom tot my verdediging! Verdedig my saak, my God en my Here! Gee uitspraak oor my in ooreenstemming met u regverdigheid, HERE my God. Moenie dat hulle oor my lekkerkry nie. Moenie dat hulle sê: “Dis net wat ons wou hê!” nie. Moenie dat hulle sê: “Ons het hom vernietig!” nie. Mag hulle wat juig oor my nood, verneder word en in skande kom. Mag hulle wat op my neersien met skaamte en oneer bedek word. Laat hulle wat juig oor my vryspraak, uitroep van vreugde en blydskap. Laat hulle voortdurend sê: “Groot is die HERE wat Hom verheug in die vrede van sy dienaar.” Ek sal u geregtigheid verkondig, ek sal U die hele dag lank prys.