Psalms 25:1-22

Psalms 25:1-22 AFR20

Van Dawid. Na U, HERE, hunker ek. My God, op U vertrou ek; laat my tog nie beskaamd staan nie; laat my vyande nie oor my jubel nie. Ja, niemand wat op U wag, sal beskaamd staan nie; maar hulle wat sonder rede ontrou is, sal beskaamd staan. HERE, maak u paaie aan my bekend; leer my u weë. Lei my deur u waarheid en leer my, want U is die God wat my red; op U wag ek die hele dag. Dink aan u barmhartigheid en u troue liefde, HERE, want dit is van altyd af daar. Aan die sondes van my jeug en my oortredings moet U nie dink nie; dink aan my in u troue liefde, omdat U goed is, HERE. Die HERE is goed en reg, daarom leer Hy sondaars die pad. Mag Hy verdruktes lei in wat reg is; mag Hy hulle sy pad leer. Al die paaie van die HERE is troue liefde en waarheid vir hulle wat hou by sy verbond en sy bepalings. Ter wille van u Naam, HERE, vergewe my sondeskuld, want dit is groot. Wie is die mens wat vir die HERE ontsag het? Die HERE leer hom die pad wat hy moet kies. Sy lewe verloop voorspoedig en sy nageslag sal die land besit. Die HERE neem hulle wat vir Hom ontsag het, in sy vertroue, en sy verbond is daar om hulle te onderrig. My oë bly altyd op die HERE, want dit is Hy wat my voete uit die vangnet bevry. Draai U na my en wees my genadig, want ek is eensaam en magteloos. Die benoudheid van my hart is oorweldigend; lei my uit my kwellinge. Sien tog my ellende en my swaarkry raak en vergewe al my sonde. Kyk na my vyande, hoe baie hulle geword het; en hoe fel hulle my haat. Beskerm tog my lewe en red my; laat my nie beskaamd staan nie, want ek skuil by U. Mag onskuld en opregtheid oor my wag hou, want ek wag op U. Bevry Israel, o God, van al sy benoudheid.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid