PSALMS 25:1-22

PSALMS 25:1-22 NLV

Ek rig my tot U, HERE. Ek vertrou op U, my God! Moenie dat ek in die skande kom, of my vyande oor my laat juig nie. Niemand wat op U wag, word ooit beskaam nie, maar húlle word beskaam wat bedrieg sonder oorsaak. HERE, wys my die weg wat ek moet gaan, leer my u paaie. Lei my deur u waarheid en leer my, want U, o God, is my redder. Die hele dag wag ek vol hoop op U. Dink, o HERE, aan u liefde en medelye, van altyd af deur U bewys. Moenie dink aan die opstand en die sonde van my jeug nie; HERE, dink eerder aan my met troue liefde, ter wille van u goedheid. Die HERE is goed en doen wat reg is. Daarom wys Hy vir sondaars die regte pad. Mag Hy die nederiges op die regte weg lei, en vir dié wat beskeie is, sy pad leer. Die paaie van die HERE is goedheid en trou vir dié wat getrou is aan die bepalings van sy verbond. Ter wille van u Naam, HERE, vergewe tog my sondes, want dit is baie. Wie is die een wat die HERE dien? Hy sal hom wys watter pad hy moet kies. Hy sal in voorspoed lewe, en sy nageslag sal die beloofde land beërwe. Die HERE se voorneme is duidelik vir dié wat Hom dien. Aan hulle maak Hy sy verbond bekend. Ek kyk altyd op na die HERE vir hulp, want Hy sal my voete van die vangnet bevry. Draai u gesig na my en bewys genade aan my, want ek is alleen en in diep nood. Die kwellinge van my gedagtes word al meer. Verlos my tog uit hierdie ellende! Kyk na my pyne en kwellinge, en vergeef tog al my sondes. Kyk hoeveel vyande is teen my, hoe hulle my haat met venyn! Beskerm my en red my! Bewaar my van vernedering, want ek vertrou op U. Mag opregtheid en eerlikheid my beskerm, want ek wag op U. O God, bevry Israel uit al sy nood.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid