Psalms 22:19-31

Psalms 22:19-31 AFR20

Hulle verdeel my klere onder mekaar, en hulle loot oor my boklere. U, HERE, moet tog nie ver van my bly nie; my bron van krag, kom my gou te hulp. Red tog my lewe van die swaard, my enigste lewe uit die mag van die honde. Red my uit die bek van die leeu, en van die horings van buffels. U het my geantwoord. Ek wil u Naam verkondig aan my •broers; in die byeenkoms wil ek U loof: “Julle wat vir die HERE ontsag het, loof Hom! Julle, die ganse nageslag van Jakob, vereer Hom! Vrees Hom, ganse nageslag van Israel! Want Hy het die lyding van die magtelose nie geminag of misken nie; Hy het sy gesig nie vir hom verberg nie; maar toe hy Hom om hulp gesmeek het, het Hy gehoor.” U is die rede vir my lofprysing in 'n groot byeenkoms; my geloftes sal ek nakom in die teenwoordigheid van dié wat vir Hom ontsag het. Die verdruktes kan dan eet en versadig word; wie Hom raadpleeg, kan die HERE loof. Mag julle harte vir altyd leef! Almal tot aan die uithoeke van die aarde moet daaraan dink en hulle tot die HERE bekeer. Al die familiegroepe van die nasies moet voor U in aanbidding buig; want aan die HERE behoort die koningskap, en Hy heers oor die nasies. Ja, voor Hom sal almal wat oordadig leef, in aanbidding neerbuig; voor Hom sal alle sterflinge kniel, elkeen wat nie die lewe kan behou nie. 'n Nageslag sal Hom dien; hulle sal van my Heer vertel aan die volgende geslag.