PSALMS 22:19-31

PSALMS 22:19-31 Bybel vir almal (ABA)

hulle trek lootjies om te sien wie my klere moet kry. Maar U, Here, U moenie ver van my wees nie. Net U kan my sterk maak, U moet my gou kom help. U moet my lewe kom red van my vyande se swaarde, U moet my red van hierdie honde. U moet my red uit die bekke van hierdie leeus, uit die horings van hierdie oer-osse. U het gedoen wat ek gevra het. Ek sal vir die ander mense van my volk vertel wat U gedoen het, ek sal U prys daar waar hulle bymekaar is. Julle moet die Here prys, julle almal wat Hom dien, die nageslag van Jakob moet Hom eer, die hele nageslag van Israel moet bang wees vir Hom en moet Hom dien. Wanneer 'n mens swaarkry, 'n mens wat homself nie kan red nie, dan het die Here nie gemaak of dit nie belangrik is nie. Hy het nie sy gesig weggedraai van so 'n mens nie, Hy het gehoor toe ek geroep het en gevra het dat Hy my moet help. Here, U laat my 'n lied sing om U te prys daar waar die groot gemeente bymekaar is. Ek sal doen wat ek belowe het, die mense wat Hom dien, sal dit sien. Die mense wat hulleself nie kan help nie, sal genoeg kos kry om te eet. Julle wat vra wat die Here wil hê, julle sal Hom prys. Ek bid dat dit altyd goed sal gaan met julle. Al die mense sal onthou dat die Here daar is, hulle sal van oral op die aarde na Hom toe kom, al die volke sal voor Hom kom buig. Ja, dit is die Here wat Koning is, Hy regeer oor die volke. Al die mense sal voor Hom buig en hulle sal Hom dien, die mense wat meer as genoeg kos het om te eet, en die mense wat self te min kos het om te lewe, almal wat na die doderyk moet gaan. Die mense wat later sal lewe, sal Hom dien, die geslagte wat later sal lewe, sal van die Here hoor.

PSALMS 22:19-31 Die Boodskap (DB)

Hulle het gemaak asof ek klaar dood is deur my laaste paar besittings te vat en onder mekaar uit te deel. U moet my tog nie alleen los nie, Here! U alleen gee my krag. Kom help my baie gou! Keer asseblief sodat ek nie doodgaan nie. Ek het net een lewe. Moenie dat daardie wrede klomp honde dit van my af wegvat nie. Red my uit die kloue van daardie leeus wat my wil opeet. Hulle is so gevaarlik soos ’n gewonde buffel. U het my uit my nood gered! In die kerk sal ek tussen u kinders daaroor praat. Voor die gemeente sal ek U loof en prys. Ek sal U voor almal prys. Julle wat aan Hom behoort, kom bring eer aan Hom! Kinders van die Here, kom wys dat julle vir Hom respek het! Kom prys Hom, want Hy draai nie sy rug vir hulle wat sy hulp nodig het nie. Hy help hulle as hulle smeek dat Hy iets aan hulle nood moet doen. Hy luister as hulle na Hom roep. Daar waar baie mense bymekaarkom, sal ek ’n loflied oor die Here sing. Almal moet dit hoor. Wat ek aan Hom belowe het, sal ek nakom. Ek sal dit doen voor almal wat Hom dien. Vir mense wat die Here dien, sal Hy baie goed wees. Hulle sal al die goeie dinge geniet wat Hy vir hulle gee. Mense wat sy hulp vra, sal Hom kom prys. Ek wens dat julle lewe van blydskap sal oorloop. Dan sal julle voluit leef en elke dag geniet, en lank lewe. Tot op die verste plek op aarde sal mense sien hoe goed die Here is. Hulle sal hulle lewe vir Hom gee. Mense wat Hom nie geken het nie, sal Hom dien. Oud en jonk sal na Hom toe kom. Hulle sal voor Hom buig. Die Here is die sterkste van almal. Hy heers oor al die volke hier op aarde. Selfs ryk mense wat dink dat hulle Hom nie nodig het nie, sal kom en die goeie dinge geniet wat Hy gee. Hulle sal kom om Hom te dien en te eer. Alle mense sal voor Hom kniel. Mense sal vir hulle kinders van die Here vertel. So sal die nageslagte van Hom weet. Hulle sal opgewonde wees om in Hom te glo.