Psalms 119:17-56

Psalms 119:17-56 AFR20

Wees goed vir u dienskneg, dan kan ek lewe en u woord nakom. Maak oop my oë, sodat ek die wonders uit u wet kan raaksien. Ek is 'n •vreemdeling op aarde; moet u bevele nie vir my verborge hou nie. My lewe kwyn die hele tyd weg van verlange na u beslissings. U bestraf vermeteles, die vervloektes, hulle wat van u bevele afdwaal. Verwyder bespotting en minagting van my, want by u bepalings hou ek. Selfs al sit leiers met mekaar en praat oor my – u dienskneg sal oor u voorskrifte bly nadink. Nog steeds is u bepalings my grootste vreugde; hulle is my raadgewers. My lewe kleef aan die stof; maak my weer lewend volgens u woord. Van my lewenspaaie het ek vertel, en U het my geantwoord; leer my u voorskrifte. Die pad van u opdragte – laat my dit verstaan, sodat ek oor u wonders kan nadink. My lewe vloei weg van verdriet; rig my op volgens u woord. Die pad van bedrog – neem dit van my weg; en u wet – gee dit genadiglik vir my. Die pad van eerlikheid het ek gekies; u beslissings hou ek voor oë. Ek hou aan u bepalings vas; HERE, laat my nie beskaamd staan nie. Die pad van u bevele volg ek geesdriftig, want U verruim my insig. HERE, onderrig my in die pad van u voorskrifte, sodat ek enduit daarby kan hou. Gee my insig, sodat ek by u wet kan hou, dit met my hele hart kan nakom. Begelei my op die pad van u bevele, want daarin vind ek vreugde. Laat my hart na u bepalings neig, en nie na winsbejag nie. Wend my oë daarvan af om na nuttelose dinge te staar; hou my lewend op u paaie. Doen u woord gestand aan u dienskneg – u woord wat ontsag wek vir U. Neem die bespotting wat ek vrees van my weg, want u beslissings is goed. Kyk, ek verlang na u opdragte; hou my lewend deur u •geregtigheid. Laat u troue liefde my deel word, HERE, u verlossing volgens u woord, sodat ek my spotter kan antwoord; want ek vertrou op u woord. Moet tog nie u betroubare woord geheel en al uit my mond wegneem nie, want ek vestig my hoop op u beslissings. Ek wil u wet voortdurend nakom, vir altyd en ewig. Ek wil in hierdie wye ruimte voortbeweeg, want u opdragte ondersoek ek. Ek sal oor u bepalings voor konings praat sonder om my te skaam. Ek vind vreugde in u bevele wat ek liefhet; ek reik uit na u opdragte wat ek liefhet; ek dink na oor u voorskrifte. Dink aan u woord aan u dienskneg waarmee U aan my hoop gegee het. Dit is my vertroosting in my ellende, dat u belofte my lewend hou. Vermeteles het my tot die uiterste toe gespot, maar van u wet het ek nie weggedraai nie. Ek het u beslissings onthou, van lank gelede af, HERE, en ek was getroos. Woede het my beetgepak oor goddeloses – hulle wat u wet verlaat. Maar u voorskrifte was vir my liedere in 'n plek waar ek 'n vreemdeling was. Ek het u Naam in die nag onthou, HERE, en ek het u wet nagekom. Dit het deel geword van my – dat ek by u opdragte hou.