Wees asseblief elke dag goed vir my, dan leef ek regtig! Dan sal ek nie ’n enkele sekonde van u pad afdwaal nie. Maak my oë oop sodat ek kan sien hoe wonderlik alles is wat U sê. Ek is glad nie belangrik nie; mense loop maklik bo-oor my. Dus kan ek dit nie bekostig om ’n enkele oomblik sonder U te leef nie. My enigste wens is om te doen wat U vra. U hou niks van mense wat nie doen wat U sê nie, U gooi hulle eenkant toe; vir altyd! Moenie dat slegte mense my onderstebo loop nie. Onthou tog dat ek u Woord in my hart gebêre het. Mense wil my tot ’n val bring, maar onthou asseblief hoe lief ek u Woord het. U Woord maak my lewe vol blydskap; dit wys my hoe om elke dag te leef. My lewe is nie veel werd nie. Gee asseblief vir my nuwe lewe; daardie soort lewe wat U in die Bybel beloof. Ek het vir U kom vertel hoe swaar dit met my gaan. U het geluister en my gehelp; leer my nou om te doen wat U sê. Leer my om die volle rykdom van u voorskrifte goed te verstaan. Ek wil heeltyd daaroor dink. My lewe is vol bekommernis. Help my tog om u hand styf vas te hou. En gee vir my krag. Keer dat ek leuens vertel en op ’n oneerlike manier leef. Skryf u wet diep in my hart. Doen goed aan my. Ek het gekies om op u pad te stap, dis die pad na die lewe toe. U voorskrifte is soos padwysers; dit wys my hoe om te leef. Here, ek hou vas aan elke woord wat U sê. Moenie dat ek U ooit in die steek laat nie. Ek is gretig om elke dag op u pad te stap, want U maak my lewe vol met u goedheid. Here, wys my wat U van my verwag, dan sal ek tot aan die einde van my lewe net doen wat U vra. Verander my manier van dink; maak my gedagtes vol met u wet! Dan sal ek heeltyd doen wat U sê. Laat my elke dag op die pad loop wat U voorskryf, want dit maak my baie gelukkig. Help my om net aan U te dink sodat ek nie agter geld aanhardloop nie. Keer dat ek na dinge kyk waarvan U niks hou nie. Om te leef soos U wil hê; dis al wat ek vra! Maak dit wat U in die Bybel aan u kinders beloof waar in my lewe. Keer tog dat mense lelike dinge vir my sê. Mense kan so venynig wees. Laat my net daardie dinge hoor wat U wil hê ek moet doen. Daar’s net een begeerte in my hart: om te doen wat U sê. Beskerm my, want U doen wat U belowe. Here, wys asseblief vir my hoe goed U is, soos U beloof het. Dan sal ek nie bang wees vir almal wat met my spot nie, want ek hou net vas aan wat U sê. Help my om net die waarheid te praat. Dag en nag luister ek fyn na u stem. My hele lewe lank wil ek net doen wat U in u wet vir ons sê. Met groot blydskap wil ek in die oop ruimte van u liefde en voorskrifte stap. Voor belangrike mense wil ek oor U praat sonder om skaam te wees. Ek is so lief vir u Woord. Ek is bly daaroor. Om al u voorskrifte te hou maak my baie bly. Ek kan nie genoeg vir U sê hoe gelukkig dit my maak om te doen wat U sê nie, ek dink heeltyd daaraan. Onthou asseblief tog al die dinge wat U vir my, u dienaar, gesê het; ek hou met my hele lewe daaraan vas. In slegte tye hou u beloftes my aan die gang. Selfs al spot slegte mense met my, hou ek nie op om te doen wat U sê nie. Dit wat U lank terug al gesê het, bly heeltyd in my gedagtes, dit gee my moed vir elke dag. Ek word baie kwaad as ek sien dat slegte mense hulle nie aan u Woord steur nie. U woorde is soos die mooiste musiek in my ore, al kry ek baie swaar. Tot in die nag dink ek aan U, doen ek net wat U sê. Om te doen wat U van my vra is my hele lewe!
Lees Psalms 119
Deel
Vergelyk Alle Weergawes: Psalms 119:17-56
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's