Psalms 105:1-15

Psalms 105:1-15 AFR20

Prys die HERE, roep sy Naam uit; maak onder die volke sy dade bekend. Sing vir Hom, besing Hom! Praat met oorgawe oor al sy wonderwerke. Beroem julle in sy •heilige Naam; laat die harte van hulle wat die HERE opsoek, bly wees. Soek die HERE en sy krag, soek voortdurend sy teenwoordigheid op. Roep die wonders wat Hy gedoen het in herinnering, sy tekens en die oordele van sy mond – nageslag van Abraham, sy dienskneg, kinders van Jakob, sy uitverkorenes! Hy is die HERE ons God; oor die hele wêreld geld sy beslissings. Hy onthou vir altyd sy verbond, die woord wat Hy beveel het, vir duisend geslagte, wat Hy gesluit het met Abraham en met 'n eed beloof het aan Isak. Hy het dit aan Jakob bevestig as 'n vaste voorskrif, aan Israel as 'n ewige verbond, met die woorde: “Aan jou sal Ek die land Kanaän gee as julle afgemete erfdeel.” Toe hulle nog min in getal was, baie min, en hulle •vreemdelinge in die land was, het hulle van een nasie na die ander geswerf, van een koninkryk na 'n ander volk. Hy het geen mens toegelaat om hulle te verdruk nie. Hy het konings oor hulle tereggewys: “Moenie aan my gesalfdes raak nie; my profete moet julle geen kwaad aandoen nie.”