Spreuke 8:14-26

Spreuke 8:14-26 AFR20

Ek beskik oor raad en vindingrykheid; ek, insig, beskik oor krag. Deur my regeer konings, en hooggeplaastes vaardig regverdige dekrete uit. Deur my voer •aanvoerders bevel, ook vooraanstaandes – almal wat regverdige beslissings neem. Wie my liefhet, het ek self ook lief, en wie my soek, sal my vind. Welvaart en eer is by my, bestendige rykdom en geregtigheid. My vrugte is beter as goud, as fyngoud, my opbrengs beter as uitgesoekte silwer. Op die pad van geregtigheid loop ek – presies op die paaie van regverdigheid – om hulle wat my liefhet, besittings te laat erf. Hulle voorraadkamers maak ek vol. “Die HERE, Hy het my geskep as die eerste van sy werke, voor sy dade van lank gelede. In die verre verlede is ek gevorm, aan die begin, voor die aarde. Daar was nog nie •oerwaters nie, toe is ek voortgebring; daar was nog nie fonteine ryk aan water nie. Voordat berge ingeplant is, voor heuwels daar was, is ek voortgebring, toe Hy nog nie grond en oop weivelde gemaak het nie – die eerste grondsoorte van die vasteland.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Spreuke 8:14-26