Die woorde van Agur, seun van Jake. Uitspraak van God.
Dit is die uitspraak van die man:
Ek is moeg, o God,
ek is moeg, o God, en gedaan.
Want ek is dommer as enigiemand;
ek het nie die verstand
van 'n mens nie.
Ek het nie wysheid geleer nie,
en kennis van die Heilige het ek nie.
Wie het opgegaan na die hemel
en afgekom?
Wie het die wind bymekaargemaak
in die holte van sy twee hande?
Wie het die water in 'n oorkleed saamgebind?
Wie het al die uithoeke
van die aarde vasgestel?
Wat is sy naam?
En wat is sy seun se naam,
as jy dit weet?
Elke woord van God is gelouter;
'n skild is Hy vir hulle wat by Hom skuil.
Moenie iets byvoeg by sy woorde nie,
anders verklaar Hy jou skuldig
en word jy as 'n leuenaar uitgekryt.
Twee dinge vra ek van U –
moet dit nie van my terughou
voordat ek sterf nie:
Valsheid en leuentaal, hou dit ver van my.
Moet my nie armoede of rykdom gee nie;
breek my porsie brood vir my af,
sodat ek nie oorversadig raak
en U misken en sê,
“Wie is die HERE?” nie,
of verarm en steel,
en die naam van my God
geweld aandoen nie.
Moenie 'n slaaf by sy baas
beswadder nie,
anders vervloek hy jou
en moet jy boete doen.
Daar is 'n geslag
wat sy vader vervloek
en sy moeder nie seën nie,
'n geslag wat rein is
in sy eie oë,
maar van sy ontlasting
nie skoon gewas is nie,
'n geslag –
hoe hoogmoedig is sy oë
en aanmatigend sy wimpers!
Daar is 'n geslag
waarvan die tande swaarde is,
en die kake messe
om mee te verteer –
die magteloses van die aarde af,
en die behoeftiges
onder die mense uit.
Die bloedsuier het twee dogters:
Gee! Gee!
Daar is drie dinge
wat nie versadig raak nie,
vier wat nie sê “Genoeg!” nie:
die •doderyk,
'n geslote moederskoot,
grond wat nie versadig raak van water nie,
en vuur wat nie sê, “Genoeg!” nie.
'n Oog wat 'n vader bespot
en gehoorsaamheid
aan 'n moeder verag –
die kraaie in die dal sal dit uitpik,
en die arend se kuikens sal dit opvreet.
Drie dinge is vir my te wonderlik,
ja, vier kan ek nie begryp nie:
die weg van die arend in die lug,
die weg van 'n slang oor 'n rots,
die weg van 'n skip op die oop see,
en die weg van 'n man by 'n jongmeisie.
Só is die weg van 'n vrou
wat egbreuk pleeg:
Sy eet en vee haar mond af en sê:
“Ek het geen onreg gepleeg nie.”
Onder drie dinge bewe die aarde,
ja, onder vier kan hy dit nie uithou nie:
onder 'n slaaf as hy koning word,
'n niksnuts as hy hom versadig eet aan brood,
onder 'n getroude vrou wat nie-geliefd is,
en 'n diensmeisie as sy haar eienares verdryf.
Vier is die kleines van die aarde,
maar hulle is buitengewoon slim:
Die miere is 'n gemeenskap wat nie sterk is nie, en tog berei hulle vir hulle kos voor in die somer.
Dassies is 'n gemeenskap wat nie magtig is nie, en tog maak hulle in die rotse hulle blyplek.
Treksprinkane het geen koning nie, en tog trek hulle almal in groepe uit.
'n Geitjie kan jy met die hande vang, en tog is hy in koninklike paleise.
Daar is drie met 'n statige stap,
vier met 'n statige gang:
'n leeu, die held onder die diere wat vir niks terugdeins nie,
'n haan wat pronkerig stap,
of 'n bokram,
en 'n koning met sy leër by hom.
As jy ydel was deur jouself
te verhef,
of as jy dit beplan het –
plaas jou hand voor jou mond!
Want die karring van room
bring botter voort,
die gekarring aan 'n neus
bring bloed voort,
en die gekarring aan toorn
bring 'n regstryd voort.