SPREUKE 30:1-33

SPREUKE 30:1-33 Bybel vir almal (ABA)

Hier is die dinge wat Agur seun van Jake gesê het. Hy het van die land Massa gekom en hy was 'n man wat gepraat het met Itiël, met Itiël en met Ukal. Regtig, ek was dommer as ander mense, ek het nie geweet wat ander mense weet nie. Ek het nie wysheid geleer nie, ek ken nie die heilige God nie. Wie het opgegaan na die hemel en het weer afgekom? Wie het die wind met sy hande vasgehou? Wie het die water toegebind in 'n bo-kleed? Wie het besluit hoe groot die aarde moet wees? Wat is sy naam en wat is sy seun se naam? Weet jy wie dit is? Alles wat God gesê het, is waar. Hy beskerm die mense wat in Hom glo. Jy moenie meer wil sê as wat Hy gesê het nie, Hy sal vir jou sê jy is verkeerd, en mense sal weet jy vertel leuens. Here, ek vra vir U twee dinge. U moet dit vir my doen voordat ek sterf. U moet keer dat ek nie vals is en lieg nie, U moet my nie arm of ryk maak nie, U moet vir my net die kos gee wat ek nodig het. Want as ek te veel het, dan sal ek miskien sê dat ek U nie ken nie, ek sal vra: “Wie is die Here?” En as ek arm is, dan sal ek miskien steel en nie die Naam van my God respekteer nie. Jy moenie slegte dinge oor 'n slaaf vir sy eienaar sê nie, die slaaf sal jou miskien vervloek, en dit sal sleg gaan met jou. Daar is mense wat hulle ouers vervloek en wat nie wil hê dat dit goed moet gaan met hulle nie. Daar is mense wat dink hulle is skoon, maar hulle is vuil, hulle het nie gewas nie. Daar is mense wat baie hoogmoedig is, mense wat dink hulle is beter as ander mense. Daar is mense wat maklik ander mense doodmaak, hulle vat alles wat die mense het wat hulleself nie kan beskerm nie, hulle laat die mense sterf wat niks het nie. Die bloedsuier wil altyd aanhou om bloed uit te suig. Daar is drie dinge wat altyd meer wil hê, daar is vier dinge wat nooit sê: “Dit is nou genoeg” nie. Dit is die doderyk, 'n vrou wat nie 'n kind kan kry nie, die grond wat altyd meer water wil hê, en 'n vuur wat nooit sê: “Dit is nou genoeg” nie. Wanneer iemand sy ouers spot en nie wil doen wat hulle sê nie, dan sal die kraaie sy oë uitpik, en die aasvoëls sal sy oë opvreet. Daar is drie dinge wat vir my wonderlik is, daar is vier dinge wat ek nie verstaan nie: Dit is hoe 'n arend in die lug bly, hoe 'n slang oor 'n rots seil, hoe 'n skip op die see seil, en hoe 'n man 'n vrou probeer kry. 'n Vrou wat egbreuk pleeg, is soos iemand wat eet en haar mond afvee en sê: “Ek het niks verkeerd gedoen nie.” Daar is drie dinge wat almal kwaad en ontsteld laat word, daar is vier dinge waarvan mense niks hou nie: Dit is wanneer 'n slaaf koning word, wanneer 'n dwaas te veel geëet het, wanneer 'n vrou wat nooit 'n man kon kry nie, later trou, en wanneer 'n slavin trou met die man van haar eienares. Daar is vier dinge op die aarde wat klein is maar wat meer wysheid het as almal: Miere is nie sterk nie, maar in die somer bêre hulle kos vir die winter. Dassies is nie sterk nie, maar hulle woon op die rotse. Sprinkane het nie 'n koning nie, maar hulle vlieg saam in swerms. 'n Geitjie is klein, jy kan hom met jou hand vang, maar hy is ook in konings se paleise. Daar is drie dinge wat netjies en mooi loop, nee, daar is vier dinge wat netjies en mooi stap: Dit is 'n leeu wat sterker is as ander diere en wat vir niemand vlug nie, 'n hoenderhaan, 'n bok-ram, en 'n koning wat sy manne lei. As jy dwaas was en gedink het jy is belangrik, as jy slim planne probeer maak het, dan moet jy stilbly, want wanneer jy melk lank skud, dan word dit botter, wanneer jy iemand op sy neus slaan, dan bloei sy neus, en wanneer jy mense kwaad maak, dan twis hulle.

SPREUKE 30:1-33 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

DIE woorde van Agur, die seun van Jake; die Godspraak. Die man spreek: Ek het my moeg gemaak, o God, ek het my moeg gemaak, o God, en ek versmag. Ja, ek is te dom om mens te kan wees, en ek het geen menseverstand nie. En ek het nie wysheid geleer, sodat ek kennis van die Heilige sou besit nie. Wie het na die hemel opgeklim en neergedaal? Wie het die wind in sy vuiste versamel? Wie het die waters in 'n kleed saamgebind? Wie het al die eindes van die aarde vasgestel? Hoe is sy Naam? En hoe is die Naam van sy Seun — as jy dit weet? Elke woord van God is gelouter; Hy is 'n skild vir die wat by Hom skuil. Voeg by sy woorde niks by nie, sodat Hy van jou nie rekenskap vorder en jy as 'n leuenaar openbaar word nie. Twee dinge vra ek van U; onthou dit nie aan my voordat ek sterf nie: Hou valsheid en leuentaal ver van my af; gee my nie armoede of rykdom nie, laat my geniet die brood wat vir my bestem is; dat ek nie, as ek oorversadig geword het, U verloën nie, en sê: Wie is die HERE? En dat ek nie, as ek arm geword het, steel en my aan die Naam van my God vergryp nie. Belaster nie 'n slaaf by sy heer nie, sodat hy jou nie vloek en jy daarvoor moet boet nie. Daar is 'n geslag wat sy vader vervloek en sy moeder nie seën nie, 'n geslag wat rein is in sy eie oë en tog van sy vuiligheid nie gewas is nie, 'n geslag — hoe trots is sy oë, en hoe hoog is sy ooglede opgetrek! — 'n geslag waarvan die tande swaarde is, waarvan die gebit messe is, om die ellendiges uit die land te verteer en die behoeftiges onder die mensdom uit. Die bloedsuier het twee dogters: Gee, gee! Drie is dit wat nie versadig word nie; vier sê nooit: Genoeg nie! — die doderyk en die toegesluite moederskoot, die aarde wat nie genoeg water kry en die vuur wat nooit sê: Genoeg nie! 'n Oog wat met die vader spot en die gehoorsaamheid vir die moeder verag — die kraaie van die dal sal dit uitpik, en die kuikens van die arend sal dit opeet. Drie is dit wat vir my te wonderbaar is, ja, vier wat ek nie begryp nie: die weg van die arend in die lug, die weg van 'n slang oor 'n rots, die weg van 'n skip in die hart van die see, en die weg van 'n man by 'n maagd. So is die weg van 'n vrou wat owerspel bedryf; sy eet en vee haar mond af en sê: Ek het geen sonde gedoen nie. Onder drie bewe die aarde, en onder vier kan hy dit nie uithou nie: onder 'n slaaf as hy koning word, en 'n dwaas as hy volop brood het; onder 'n nie-geliefde as sy tog 'n man kry, en 'n slavin as sy haar meesteres uit die besitting verdrywe. Vier is dit wat klein is op die aarde, maar hulle is uitermate wys: die miere is nie 'n sterk volk nie, en tog berei hulle hul voedsel in die somer; die klipdassies is nie 'n magtige volk nie, en tog maak hulle hul huis in die rots; die sprinkane het geen koning nie, en tog trek die hele swerm in goeie orde uit; die geitjie kan jy met die hande gryp, en tog is hy in die konings se paleise. Drie is dit wat statig wegstap, ja, vier wat statig wegloop: die leeu, die held onder die diere, wat vir niks omdraai nie; die dier met gespierde heupe, of die bok, en 'n koning met die troepemag by hom. As jy dwaas gewees het deur jou te verhef, of as jy vooraf nagedink het — die hand op die mond! Want drukking van melk bring botter voort, en drukking van die neus bring bloed voort, en drukking van die toorn bring twis voort.

SPREUKE 30:1-33 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die woorde van Agur seun van Jake. 'n Belangrike uitspraak. Die man het vir Itiël gesê, vir Itiël en vir Ukal: Ek is meer dier as mens, ek het nie die verstand van 'n mens nie. Ek het nie wysheid geleer nie, ek ken nie die heilige God nie. Wie het na die hemel toe opgegaan en weer afgekom? Wie het die wind in sy twee hande gevat? Wie het die water in 'n doek toegedraai? Wie het die grense van die aarde vasgestel? Wat is sy naam en wat is sy seun se naam, as jy dit weet? Elke belofte van God is betroubaar; Hy beskerm dié wat by Hom skuil. Moet niks byvoeg by wat Hy gesê het nie; Hy sal jou bestraf, en jy sal daar staan as 'n leuenaar. Net twee dinge vra ek van U; moet my dit tog nie weier nie; daarna kan ek sterf: moenie toelaat dat ek vals is en lieg nie; moet my nie arm maak of ryk nie, gee my net die kos wat ek nodig het, sodat ek nie te veel het en U verloën en sê: “Wie is die Here?” nie, en sodat ek nie arm word en steel en my God se Naam oneer aandoen nie. Moenie 'n slaaf by sy eienaar beskinder nie; dalk vervloek die slaaf jou en moet jy die gevolge dra. Daar is 'n soort mens wat sy vader vervloek en vir sy moeder nie 'n goeie woord het nie, 'n soort mens wat homself as rein beskou, maar van wie die vuilheid nie afgewas is nie, 'n soort mens wat vol hoogmoed, vol eiewaan is, 'n soort mens wat koelbloedig en wreed is in sy hebsug en wat teer op die hulpeloses en armes in die land. Die bloedsuier het twee dogters, hulle is “Gee!” en “Gee!” Daar is drie, nee, vier wat nooit genoeg kry nie, wat nooit sê: “Genoeg!” nie: die doderyk, die onvervulde begeerte om moeder te word, grond wat nie deurnat is nie en 'n vuur wat nooit sê “Genoeg!” nie. Die oë van 'n man wat met sy vader spot en vir wie dit benede hom is om sy moeder te gehoorsaam, sal uitgepik word deur die kraaie, opgevreet word deur die roofvoëls. Daar is drie dinge, nee, vier wat bo my begrip is, wat ek nie verstaan nie: hoe 'n aasvoël in die lug bly, hoe 'n slang teen 'n rots op seil, hoe 'n skip op die diepsee vaar en hoe die liefde tussen 'n man en 'n meisie werk. Die ontroue vrou het haar eie manier: sy eet en vee haar mond af en sê: “Ek het niks verkeerds gedoen nie.” Daar is drie, nee, vier wat die lewe ondraaglik maak, wat onuitstaanbaar is: 'n slaaf nadat hy koning geword het, 'n ongemanierde sot nadat hy hom vol geëet het, 'n vrou wat eers nie 'n man kon kry nie en toe tóg getroud is, en 'n slavin nadat sy haar eienares se plek ingeneem het. Daar is vier goed in die wêreld wat klein is maar buitengewone wysheid het: miere is nie sterk nie en tog sit hulle in die somer vir hulle kos weg; dassies het nie veel krag nie en tog maak hulle hulle tuis teen die kranse; sprinkane het nie 'n koning nie en tog trek die hele swerm in formasie; 'n geitjie kan jy met die hand vang en tog kry jy hom in koninklike paleise. Daar is drie, nee, vier wat statig stap, wat 'n statige houding het: 'n leeu, die magtigste van al die diere, wat vir niks stuit nie; 'n spoghaan; 'n bokram; en 'n koning met sy leër by hom. As jy verwaand opgetree en jou aangestel het, of as jy slegte bedoelings het, hou op daarmee. As jy melk karring, kom daar botter; as jy iemand op die neus slaan, kom daar bloed uit; as jy mense kwaad maak, kom daar rusie.

SPREUKE 30:1-33 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Die woorde van Agur, seun van Jake. Uitspraak van God. Dit is die uitspraak van die man: Ek is moeg, o God, ek is moeg, o God, en gedaan. Want ek is dommer as enigiemand; ek het nie die verstand van 'n mens nie. Ek het nie wysheid geleer nie, en kennis van die Heilige het ek nie. Wie het opgegaan na die hemel en afgekom? Wie het die wind bymekaargemaak in die holte van sy twee hande? Wie het die water in 'n oorkleed saamgebind? Wie het al die uithoeke van die aarde vasgestel? Wat is sy naam? En wat is sy seun se naam, as jy dit weet? Elke woord van God is gelouter; 'n skild is Hy vir hulle wat by Hom skuil. Moenie iets byvoeg by sy woorde nie, anders verklaar Hy jou skuldig en word jy as 'n leuenaar uitgekryt. Twee dinge vra ek van U – moet dit nie van my terughou voordat ek sterf nie: Valsheid en leuentaal, hou dit ver van my. Moet my nie armoede of rykdom gee nie; breek my porsie brood vir my af, sodat ek nie oorversadig raak en U misken en sê, “Wie is die HERE?” nie, of verarm en steel, en die naam van my God geweld aandoen nie. Moenie 'n slaaf by sy baas beswadder nie, anders vervloek hy jou en moet jy boete doen. Daar is 'n geslag wat sy vader vervloek en sy moeder nie seën nie, 'n geslag wat rein is in sy eie oë, maar van sy ontlasting nie skoon gewas is nie, 'n geslag – hoe hoogmoedig is sy oë en aanmatigend sy wimpers! Daar is 'n geslag waarvan die tande swaarde is, en die kake messe om mee te verteer – die magteloses van die aarde af, en die behoeftiges onder die mense uit. Die bloedsuier het twee dogters: Gee! Gee! Daar is drie dinge wat nie versadig raak nie, vier wat nie sê “Genoeg!” nie: die •doderyk, 'n geslote moederskoot, grond wat nie versadig raak van water nie, en vuur wat nie sê, “Genoeg!” nie. 'n Oog wat 'n vader bespot en gehoorsaamheid aan 'n moeder verag – die kraaie in die dal sal dit uitpik, en die arend se kuikens sal dit opvreet. Drie dinge is vir my te wonderlik, ja, vier kan ek nie begryp nie: die weg van die arend in die lug, die weg van 'n slang oor 'n rots, die weg van 'n skip op die oop see, en die weg van 'n man by 'n jongmeisie. Só is die weg van 'n vrou wat egbreuk pleeg: Sy eet en vee haar mond af en sê: “Ek het geen onreg gepleeg nie.” Onder drie dinge bewe die aarde, ja, onder vier kan hy dit nie uithou nie: onder 'n slaaf as hy koning word, 'n niksnuts as hy hom versadig eet aan brood, onder 'n getroude vrou wat nie-geliefd is, en 'n diensmeisie as sy haar eienares verdryf. Vier is die kleines van die aarde, maar hulle is buitengewoon slim: Die miere is 'n gemeenskap wat nie sterk is nie, en tog berei hulle vir hulle kos voor in die somer. Dassies is 'n gemeenskap wat nie magtig is nie, en tog maak hulle in die rotse hulle blyplek. Treksprinkane het geen koning nie, en tog trek hulle almal in groepe uit. 'n Geitjie kan jy met die hande vang, en tog is hy in koninklike paleise. Daar is drie met 'n statige stap, vier met 'n statige gang: 'n leeu, die held onder die diere wat vir niks terugdeins nie, 'n haan wat pronkerig stap, of 'n bokram, en 'n koning met sy leër by hom. As jy ydel was deur jouself te verhef, of as jy dit beplan het – plaas jou hand voor jou mond! Want die karring van room bring botter voort, die gekarring aan 'n neus bring bloed voort, en die gekarring aan toorn bring 'n regstryd voort.

SPREUKE 30:1-33 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Die woorde van Agur, die seun van Jake, die profesie: die man het gespreek met Itiël, met Itiël en Ukal, Waarlik, ek is bruter as enige mens, en ek het geen verstand van 'n mens nie. Ek het nie wysheid geleer nie, en ek het geen kennis van die heilige nie. Wie het opgevaar in die hemel of neergedaal? wie het die wind in sy vuiste bymekaargemaak? wie het die waters in 'n kleed gebind? wie het al die eindes van die aarde bevestig? wat is sy naam, en wat is die naam van sy seun, as jy dit weet? Elke woord van God is rein: Hy is 'n skild vir die wat op Hom vertrou. Voeg nie by sy woorde nie, sodat hy jou nie teregwys en jy as 'n leuenaar bevind word nie. Twee dinge het Ek van jou geëis; ontken my hulle nie voor ek sterf nie: Verwyder nietigheid en leuens van my af; gee my nie armoede of rykdom nie; voer my met kos wat vir my gerieflik is: dat ek nie versadig word en U verloën en sê: Wie is die HERE? dat ek nie arm word en steel en die Naam van my God ydellik gebruik nie. Moenie 'n dienskneg by sy heer beskuldig nie, sodat hy jou nie vervloek en jy skuldig bevind word nie. Daar is 'n geslag wat hulle vader vervloek en hulle moeder nie seën nie. Daar is 'n geslag wat rein is in hul eie oë, en tog nie gewas is van hul vuilheid nie. Daar is 'n geslag, o hoe hoog is hulle oë! en hulle ooglede is opgelig. Daar is 'n geslag wie se tande soos swaarde is en hul kakebeentande soos messe, om die armes van die aarde af te verslind en die behoeftiges onder die mense uit. Die perdestroop het twee dogters wat roep: Gee, gee! Daar is drie dinge wat nooit bevredig word nie, ja, vier dinge sê nie, Dit is genoeg: Die graf; en die onvrugbare moederskoot; die aarde wat nie vol water is nie; en die vuur wat nie sê: Dit is genoeg nie. Die oog wat met sy vader spot en dit verag om sy moeder te gehoorsaam, die kraaie van die dal sal dit uitpluk, en die jong arende sal dit eet. Daar is drie dinge wat vir my te wonderlik is, ja, vier wat ek nie weet nie: Die pad van 'n arend in die lug; die weg van 'n slang op 'n rots; die pad van 'n skip in die middel van die see; en die weg van 'n man met 'n slavin. So is die weg van 'n owerspelige vrou; sy eet en vee haar mond af en sê: Ek het geen goddeloosheid gedoen nie. Oor drie dinge is die aarde onrustig, en oor vier wat dit nie kan verdra nie: Vir 'n dienskneg as hy koning word; en 'n dwaas as hy vol vleis word; Vir 'n afskuwelike vrou wanneer sy getroud is; en 'n slavin wat erfgenaam is van haar meesteres. Daar is vier dinge wat min is op die aarde, maar hulle is uitermate wys: Die miere is 'n volk wat nie sterk is nie, maar hulle berei hulle vleis in die somer; Die keëls is maar 'n swak volk, maar hulle maak hulle huise in die rotse; Die sprinkane het geen koning nie, maar hulle trek hulle almal uit in bendes; Die spin gryp haar hande vas en is in die paleise van die konings. Daar is drie dinge wat goed gaan, ja, vier is mooi aan die gang: 'n Leeu wat die sterkste onder die diere is en vir niemand wegdraai nie; 'n Windhond; ook 'n bok; en 'n koning teen wie daar geen opstaan nie. As jy dwaas gehandel het deur jou op te hef, of as jy kwaad bedink het, lê jou hand op jou mond. Waarlik, die karring van melk bring botter voort, en die kronkeling van die neus bring bloed voort

SPREUKE 30:1-33 Die Boodskap (DB)

Die woorde van Agur, die seun van Jake, van Massa. Dit is belangrike woorde aan Itiël en Ukal. Ek is dom. Ek weet net mooi niks nie. Ek het nooit gaan leer nie. Van die Allerheiligste weet ek te min. Wie kan die Here deurgrond? Wie het al hemel toe gegaan en teruggekom? Dit is onmoontlik om Hom volledig te ken. Wie het al die wind met sy hande teruggehou? Wie kan al die waters van die see met sy klere opskep? Wie ken die afmetings van die aarde? As jy so ’n persoon ken, sê my wat sy naam is. Vertel my ook wat sy seun se naam is. Elke woord van die Here is waar. Jy kan daarop reken. Wie by Hom wegkruip, is veilig. Hy beskerm elkeen. Moenie die Here se woorde verdraai of verkeerd uitlê nie. Hy sal jou straf en die mense sal nie meer na jou luister nie. Here, daar is twee dinge wat ek van U vra. Twee dinge wat ek graag in hierdie lewe wil hê: laat my nie ’n vals mens wees nie, laat ek nie ander belieg en bedrieg nie. Laat my nie ryk of arm wees nie. Gee U my net wat ek elke dag nodig het sodat ek nie ryk word en ophou om U lief te hê, of arm word en begin steel en so u wet oortree nie. Moenie iemand by sy baas loop en beskinder nie. Hy sal dit uitvind en dan is jy in die moeilikheid. Daar is vier soorte mense uit wie se pad jy moet bly: kinders wat hulle ouers vloek en mishandel; mense wat dink hulle is goed, maar wat nie hulle eie tekortkomings besef nie; arrogante mense wat te veel van hulleself dink, en wrede mense wat ander doodmaak en niks vir die armes en die swakkes omgee nie. Iemand wat altyd meer en meer wil hê, ken net twee woorde: gee, gee. Daar is drie “dinge” wat nooit tevrede gestel kan word nie, vier wat nooit genoeg kry nie: dit is die dood, die moederskoot van ’n kinderlose vrou, ’n dorre landskap tydens droogte en ’n vuur wat aanhou brand. Iemand wat sy ouers verag en hulle sleg behandel, sal tragies sterf. Hy sal in die veld dood lê en die roofvoëls sal sy oë uitpik. Daar is drie dinge wat net te wonderlik is om te verstaan, vier wat ek hoegenaamd nie kan begryp nie: die gemak waarmee ’n arend in die lug rondvlieg; die manier waarop ’n slang geruisloos oor ’n rots seil; die manier waarop ’n skip op die oop see ronddryf, en die liefde van ’n man vir ’n vrou. ’n Los vrou verontskuldig haarself altyd. Sy is soos iemand wat skelm eet, haar mond afvee en dan sê sy het niks verkeerds gedoen nie. Daar is drie dinge wat ’n land op die randjie van ’n afgrond bring, vier wat hom heeltemal kan verwoes: die skoonmaker wat president word; ’n dom mens wat hom net vol eet, maar niks wil doen nie; ’n vrou wat nie liefde ken nie en dan tog ’n man kry; ’n werkster in ’n lae rang wat sommer die baas word. Daar is vier diertjies wat baie klein is, maar buitengewoon slim is: miere is nie juis baie sterk nie, maar hulle weet baie goed dat hulle in die somer kos vir die winter moet wegbêre; klipdassies is ook nie sterk nie, maar hulle het dit tog reggekry om in rotsskeure te bly; sprinkane het nie ’n koning nie, maar hulle tree gedurig soos een man op, en akkedisse is so klein, jy kan hulle sommer met jou hand optel, maar hulle weet presies hoe om in die duurste huise van die rykste mense te kom. Daar is drie dinge wat indruk maak, vier wat ’n mens altyd sal onthou: die leeu wat oor die diereryk heers en vir niemand terugstaan nie; die haan wat triomfantlik oor die henne heers; die ram aan die voorpunt van sy trop; die koning wat sy troepe uitlei. As jy so dom was om groot te praat of verkeerde dinge te beplan, hou dan dadelik daarmee op. So seker as wat ’n mens melk skud en dit botter word, iemand op die neus slaan en dit begin bloei, iemand kwaad maak en daar rusie ontstaan, net so seker kom jy in die moeilikheid as jy nie jou domheid los nie.

SPREUKE 30:1-33 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die woorde van Agur seun van Jake. ’n Uitspraak. Die man het vir Itiël gesê, vir Itiël en vir Ukal: Ek is te onkundig om ’n mens te wees. Ek het nie eens die verstand van ’n mens nie. Ek het nie wysheid aangeleer nie. Ek ken nie die heilige God nie. Wie kan na die hemel toe gaan en van daar af ondertoe kom? Wie kan die wind in sy twee hande vashou? Wie kan die waters in sy jas toedraai? Wie het die wye wêreld gemaak? Wat is sy naam? En die naam van sy seun? Sê tog as jy dit weet! Elke woord van God is getoets. Hy beskerm elkeen wat beskerming by Hom kom soek. Moenie iets byvoeg by wat Hy gesê het nie. Hy sal jou straf. Jy sal leuenaar genoem word. Twee dinge wil ek van U vra. Moenie dit weier solank ek leef nie. In die eerste plek, keer tog dat ek lieg. In die tweede plek, laat my nie arm of ryk wees nie. Gee asseblief vir my net dit wat nodig is. As ek te veel het, sal ek U verloën en vra: “Nou wie is die HERE?” As ek te arm is, sal ek steel en my God se Naam beswadder. Moet nooit ’n slaaf vals beskuldig by sy eienaar nie. Hy sal jou vervloek en dan moet jy die gelag betaal. Party mense vervloek hulle pa en weier om hulle ma te seën. Dis mense wat dink hulle is foutloos, maar die vuil kan nooit van hulle afgewas word nie. Hulle is vol hoogmoed en vol van hulleself. Hulle het tande soos swaarde en slagtande soos messe. Hulle teer op die hulpeloses en die armes onder mense. Die bloedsuier het twee dogters. Die een se naam is “Gee!” en die ander s’n ook “Gee!”. Daar is drie dinge, nee, eintlik vier, wat nooit tevrede is nie: die doderyk, die onvervulde begeerte om ma te word, grond wat uitgedor is, ’n vuur wat alles wil verteer. Die oë van ’n man wat spot met sy pa, en hy wat ongehoorsaam is aan sy ma – die kraaie in die droë lope sal sy oë uitpik; en roofvoëls sal hom opvreet. Daar is drie dinge wat vir my te verbasend is, nee, eintlik is daar vier wat ek glad nie kan verstaan nie: hoe ’n arend in die lug kan bly, hoe ’n slang teen ’n rots kan uitseil, hoe ’n skip op die see kan vaar en hoe ’n man die hart van ’n meisie wen. Net so verbasend is dit wanneer ’n wellustige vrou haar seksuele sin kry, haar mond afvee en dan kan sê: “Ek het niks verkeerds gedoen nie.” Daar is drie, nee, eintlik vier dinge wat die lewe op aarde ondraaglik maak: ’n slaaf wat koning geword het, ’n dwaas wat hom vol geëet het, ’n vrou wat nie ’n man kon kry nie en toe tog getrou het, en ’n bediende wat by haar eienares oorgeneem het. Daar is vier goed op aarde wat klein is, maar uitsonderlik wys: miere wat nie sterk is nie, maar tog reeds weet om in die somer kos weg te sit; dassies wat nie baie krag het nie, maar tog tussen die rotse bly; sprinkane wat nie ’n koning het nie, en tog in gelid beweeg; geitjies wat jy met die hande vang, maar tog in paleise van konings bly. Daar is drie, nee, eintlik vier wat pronkerig kan beweeg: ’n leeu, die koning van die diere, wat vir niks uitdraai nie; ’n oorlogsperd; ’n bokram; ’n koning omring deur sy leër. As jy dom opgetree het deur jou aan te matig of slegte dinge beplan het, sit dan jou hand voor jou mond. Melk wat gekarring word, maak botter. ’n Hou op die neus laat die bloed loop. As jy mense kwaad maak, gaan daar rusie kom.