Spreuke 27:1-27

Spreuke 27:1-27 AFR20

Moenie spog oor die dag van môre nie, want jy weet nie wat die dag sal oplewer nie. Laat 'n vreemde jou prys, en nie jou eie mond nie, 'n buitestander, en nie jou eie lippe nie. 'n Klip is swaar en sand het gewig, maar teistering deur 'n sot is swaarder as albei. Woede is wreed en toorn oorweldigend, maar wie kan staande bly voor jaloesie? 'n Openlike teregwysing is beter as liefde in die geheim. Die wonde deur 'n geliefde toegedien, word opreg bedoel, maar oordrewe is die soene van iemand wat haat. 'n Persoon wat versadig is, vertrap 'n heuningkoek, maar vir 'n honger persoon is alles wat bitter is, soet. Soos 'n voël wat rondswerf weg van sy nes af, so is iemand wat rondswerf ver van sy woonplek af. Olie en reukwerk maak die hart bly, maar die •siel word uitmekaar geskeur deur teenspoed. Jou vriend en die vriend van jou vader moet jy nie verlaat nie, en in die huis van jou broer moet jy nie kom op die dag van jou teenspoed nie; 'n buurman wat naby is, is beter as 'n broer wat ver is. Wees wys, my seun, en maak my hart bly, sodat ek die een wat my beledig, 'n antwoord kan gee. 'n Slim mens sien gevaar en soek skuiling, maar onverstandiges gaan voort en moet die prys betaal: “Neem sy kleed, want hy het borg gestaan vir 'n vreemde, vir 'n vreemde vrou – neem 'n pand van hom!” Wie sy vriend luidrugtig seën toewens in die vroeë oggend – dit sal hom as 'n vervloeking toegereken word. 'n Lekkende dak wat aanhou drup op 'n dag van stortreën, en 'n vrou wat rusie maak, is presies dieselfde. Wie aan haar skuiling bied, bied aan die wind skuiling, en sy regterhand vat in olie. Yster slyp yster, en een mens slyp die aard van 'n ander. Wie 'n vyeboom versorg, sal sy vrugte eet, en wie na sy meerdere omsien, sal geëer word. Soos water 'n gesig weerspieël, so weerspieël die hart van 'n mens hom. Die •doderyk en die onderwêreld word nie versadig nie, en die oë van 'n mens word ook nie versadig nie. 'n Smeltkroes is vir silwer, en 'n smeltoondjie vir goud, en 'n man word beoordeel volgens die lof wat hy ontvang. Selfs as jy 'n sot tussen garskorrels in 'n stampblok stamp met 'n stamper, sal sy sotheid nie van hom wyk nie. Let goed op die voorkoms van jou kleinvee; gee aandag aan jou veetroppe, want rykdom hou nie vir altyd nie. Of sal 'n kroon altyd daar wees van geslag tot geslag? Wanneer die hooi verwyder is, die jong gras verskyn, en die voer uit die heuwels versamel is, is die jong ramme daar vir jou bokleed, en die bokramme vir die prys van 'n saailand. Daar sal genoeg bokmelk wees as kos vir jou, as kos vir jou huis, en as lewensonderhoud vir jou diensmeisies.

Video vir Spreuke 27:1-27

Gratis leesplanne en oordenkings oor Spreuke 27:1-27