SPREUKE 27:1-27

SPREUKE 27:1-27 Afrikaans 1983 (AFR83)

Moenie roem oor wat jy môre verwag nie; jy weet nie wat die dag sal oplewer nie. Laat dit aan 'n ander oor om jou te prys, moet dit nie self doen nie; laat dit uit 'n ander se mond kom, nie uit joune nie. Klip en sand is swaar om te dra, maar die ergernis wat 'n dwaas veroorsaak, is swaarder as altwee. Iemand wat kwaad is, ontsien niks, sy woede is 'n onkeerbare vloed; teen jaloesie is niemand opgewasse nie. 'n Openlike bestraffing is beter as liefde wat onsigbaar bly. Op 'n vriend wat jou seermaak, kan jy reken; iemand wat jou haat, is oordadig met sy soene. As jy genoeg geëet het, is selfs heuning nie meer lekker nie; as jy honger is, smaak selfs 'n bitter ding soet. Soos 'n voël wat sy nes net so los, so is 'n man wat sy gesin in die steek laat. Reukolie en wierook is iets om te geniet, maar die genot van vriendskap lê in die raad wat jy kry. Moenie by 'n vriend wat al jou pa se vriend was, verbygaan na jou broer se huis toe as jy moeilikheid het nie: 'n buurman wat naby is, is meer werd as 'n broer wat ver is. As jy wysheid leer, my seun, sal dit my gelukkig maak en sal ek kan terugantwoord as ek weer skimpe oor jou hoor. 'n Verstandige mens sien onheil kom en sorg dat dit hom nie tref nie, onervare mense loop oop oë daarin en boet daarvoor. As 'n vreemde vir iemand borg staan, vat sy klere van hom af; hou dit as pand, al staan hy borg vir 'n slegte vrou. As iemand sy buurman vroegdag met 'n geskreeu môre-sê, kan mense dink hy is besig om hom te vervloek. Die gedrup uit 'n dak wat lek op 'n reëndag, so is 'n vrou wat aanhou kyf. Wie haar probeer keer, kan net so wel die wind probeer keer of olie met sy hand probeer vashou. Yster slyp yster, vriende vorm mekaar. Wie sy vyeboom versorg, sal vye hê om te eet; wie omsien na sy werkgewer se belange, sal daarvoor eer ontvang. Soos jy jou eie gesig sien as jy in die water kyk, so sien jy jouself in wat jy dink. Die doderyk en die onderaardse diepte kry nie genoeg aan dooies nie; 'n mens se oë kry nie genoeg van begeer nie. Die waarde van silwer word in 'n smeltkroes getoets, dié van goud in 'n oond, dié van 'n mens aan die lof wat hy ontvang. Al stamp jy 'n dwaas in 'n stampblok, al stamp jy hom saam met sandkorrels in 'n vysel, jy sal sy dwaasheid nie uit hom uit kry nie. Sorg dat jy weet wat jou kleinvee nodig het, gee aandag aan jou veetroppe. Rykdom hou nie vir altyd nie; selfs koninklike mag is nie blywend nie. As daar van die gras hooi gemaak is, die veld weer groen word en die voer uit die berge ingebring is, sal die skape jou klere voorsien en die bokke sorg vir die koopprys van 'n stuk grond. Daar sal genoeg bokmelk wees om jou en jou gesin te voed en ook nog jou slavinne te onderhou.

SPREUKE 27:1-27 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Moenie spog oor die dag van môre nie, want jy weet nie wat die dag sal oplewer nie. Laat 'n vreemde jou prys, en nie jou eie mond nie, 'n buitestander, en nie jou eie lippe nie. 'n Klip is swaar en sand het gewig, maar teistering deur 'n sot is swaarder as albei. Woede is wreed en toorn oorweldigend, maar wie kan staande bly voor jaloesie? 'n Openlike teregwysing is beter as liefde in die geheim. Die wonde deur 'n geliefde toegedien, word opreg bedoel, maar oordrewe is die soene van iemand wat haat. 'n Persoon wat versadig is, vertrap 'n heuningkoek, maar vir 'n honger persoon is alles wat bitter is, soet. Soos 'n voël wat rondswerf weg van sy nes af, so is iemand wat rondswerf ver van sy woonplek af. Olie en reukwerk maak die hart bly, maar die •siel word uitmekaar geskeur deur teenspoed. Jou vriend en die vriend van jou vader moet jy nie verlaat nie, en in die huis van jou broer moet jy nie kom op die dag van jou teenspoed nie; 'n buurman wat naby is, is beter as 'n broer wat ver is. Wees wys, my seun, en maak my hart bly, sodat ek die een wat my beledig, 'n antwoord kan gee. 'n Slim mens sien gevaar en soek skuiling, maar onverstandiges gaan voort en moet die prys betaal: “Neem sy kleed, want hy het borg gestaan vir 'n vreemde, vir 'n vreemde vrou – neem 'n pand van hom!” Wie sy vriend luidrugtig seën toewens in die vroeë oggend – dit sal hom as 'n vervloeking toegereken word. 'n Lekkende dak wat aanhou drup op 'n dag van stortreën, en 'n vrou wat rusie maak, is presies dieselfde. Wie aan haar skuiling bied, bied aan die wind skuiling, en sy regterhand vat in olie. Yster slyp yster, en een mens slyp die aard van 'n ander. Wie 'n vyeboom versorg, sal sy vrugte eet, en wie na sy meerdere omsien, sal geëer word. Soos water 'n gesig weerspieël, so weerspieël die hart van 'n mens hom. Die •doderyk en die onderwêreld word nie versadig nie, en die oë van 'n mens word ook nie versadig nie. 'n Smeltkroes is vir silwer, en 'n smeltoondjie vir goud, en 'n man word beoordeel volgens die lof wat hy ontvang. Selfs as jy 'n sot tussen garskorrels in 'n stampblok stamp met 'n stamper, sal sy sotheid nie van hom wyk nie. Let goed op die voorkoms van jou kleinvee; gee aandag aan jou veetroppe, want rykdom hou nie vir altyd nie. Of sal 'n kroon altyd daar wees van geslag tot geslag? Wanneer die hooi verwyder is, die jong gras verskyn, en die voer uit die heuwels versamel is, is die jong ramme daar vir jou bokleed, en die bokramme vir die prys van 'n saailand. Daar sal genoeg bokmelk wees as kos vir jou, as kos vir jou huis, en as lewensonderhoud vir jou diensmeisies.

SPREUKE 27:1-27 Die Boodskap (DB)

Moenie te seker oor môre en oormôre wees nie, want jy weet nie wat in die toekoms gaan gebeur nie. Moenie jou eie beuel blaas nie. Moenie vir almal vertel hoe goed jy is nie. Laat ander mense dit liewer doen. Daar is iets wat erger is as ’n swaar klip of ’n vrag sand. Dit is om saam met ’n dom mens te bly. Daar is iets wat nog verskrikliker is as ’n vinnige humeur. Dit is ’n jaloesie wat ’n mens verteer. Dit is beter dat iemand jou uit liefde berispe as dat iemand jou liefhet, maar dit nooit wys nie. Harde woorde van ’n goeie vriend is goed bedoel. Oordrewe vriendelikheid van mense van wie jy nie hou nie, is oneg. Iemand wat genoeg geëet het, is vir niks meer lus nie. Vir iemand wat baie honger is, is selfs die slegste kos lekker. Soos ’n voëltjie van sy nes verjaag word en verlore rondvlieg, so is ’n mens wat sy familie en vriende verlaat en eensaam rondswerf. Mooi dinge maak ons bly. Maar ’n goeie vriendskap gee ons moed vir die lewe. Vriendskappe is kosbaar. Moenie jou vriend of jou pa se vriendekring sommer verlaat nie. As jy probleme het, soek hulp by jou buurman. ’n Buurman wat naby is, is beter as ’n broer wat ver woon. ’n Jongmens wat weet hoe om reg te leef maak sy pa en ma gelukkig. Hy is ’n bewys dat hulle opvoeding geslaag het. ’n Slim mens sien probleme ver aankom en hy tref die nodige voorsorg. ’n Dom mens karring net aan en beland in groot ellende. Pas op vir vinnige finansiële transaksies. Sorg dat jy nie aan die kortste ent trek nie. Sorg vir waarborge. Veral as die ander party diep in die skuld is. Iemand wat vroeg in die môre, terwyl almal nog slaap, sy buurman wakker maak om hom te groet is baie dom. Hy het geen gevoel vir die regte ding wat op die regte tyd gedoen moet word nie. Niemand wil iets met hom te doen hê nie. Soos ’n irriterende gedrup op ’n reëndag, so is ’n moeilike mens wat net rusie maak. Wie so ’n mens wil verander, probeer verniet. Dit is soos om die wind met jou hande te vang of olie met jou hande te gryp. Yster slyp yster. So vorm mense mekaar. Wie ’n vrugteboom versorg, sal later van sy vrugte eet. Wie hard werk, sal eendag ’n goeie pensioen ontvang. Soos ’n mens sy gesig in ’n spieël sien, so verstaan hy homself in wat hy dink. Mense gaan voortdurend dood. Dit kry geen einde nie. So is ’n mens se begeertes ook. Dit word nooit versadig nie. Alles wat hy sien, wil hy hê. Soos silwer in vuur en goud in die smeltoond gelouter word, so word ’n mens se karakter in die harde leerskool van die lewe gevorm. Al kan jy ’n dom mens met ’n hamer slaan of hom fynmaal, sy domheid kry jy nooit uit hom uit nie. Geld se waarde word minder en dit word ook maklik uitgegee. Pas dus die dinge wat jy het, baie goed op. Kyk mooi na jou eiendom. Dan kan jou kinders ook nog eendag daarvan kry. Werk hard sodat jy in al jou behoeftes kan voorsien. Gebruik elke kans wat jy kry, dan sal jy genoeg vir kos en klere hê. Almal in jou huis sal genoeg hê om van te leef.

SPREUKE 27:1-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Moenie te veel praat oor wat môre kan gebeur nie. Jy weet glad nie wat môre gaan oplewer nie. Moenie jouself op die skouer klop nie. Laat iemand anders jou liewer prys. Dit is swaar om klip en sand aan te dra, dit is nog swaarder om die ergernis te verdra wat ’n dwaas jou veroorsaak. Woede kan wreed wees en toorn ’n onstuitbare vloed, maar teen jaloesie is daar geen verweer nie. ’n Openlike bestraffing is beter as liefde wat onsigbaar bly. Die wonde veroorsaak deur iemand wat lief is vir jou is baie beter as die baie soene wat jou vyande jou wil gee. As jy genoeg geëet het, is heuning nie meer lekker nie. Wanneer iemand honger is, is selfs ’n bitter ding lekker. Iemand wat wegloop van sy huis af, is soos ’n voël wat sy nes verlaat. Eerlike raad van ’n vriend is so aangenaam soos parfuum en so heerlik soos wierook. Moenie jou rug draai op jou vriend of op iemand wat jou pa se vriend was nie. Wanneer jy moeilikheid het, hoef jy nie na jou broer se huis te gaan nie. ’n Buurman wat naby is, is baie meer werd as ’n broer wat ver is. As jy wys is, my seun, sal dit my gelukkig maak. Dan sal ek kan terugantwoord wanneer ek bespot word. ’n Verstandige mens sien onheil kom en kruip daarvoor weg. Onverstandige mense loop oopoë daarin en betaal die prys daarvoor. Vat iemand se klere as hy borg staan vir ’n vreemdeling. Hou dit as pand wanneer hy borg staan vir ’n vreemde vrou. As iemand vroegoggend sy buurman luidrugtig môre-sê, kan dit lyk of hy hom eerder vervloek. ’n Vrou wat aanhou neul, is soos ’n aanhoudende gedrup op ’n reëndag. Om haar te probeer stilkry, is net so goed as om die wind te laat ophou waai of olie te probeer vashou met jou hande. Yster slyp yster en so vorm vriende mekaar. Wie sy vyeboom versorg, eet van sy vrugte. Wie omsien na die belange van sy werkgewer, sal voordeel daaruit trek. Soos jou gesig weerkaats in water, so wys iemand se hart wat in hom aangaan. Die doderyk en die onderaardse diepte word nooit vol van dooie mense nie. So kry ’n mens se begeertes ook nooit ’n einde nie. ’n Smeltkroes bepaal die gehalte van silwer, die vuuroond bepaal die suiwerheid van die goud. ’n Mens se waarde word bepaal deur wat mense van hom sê. Al sit jy ’n dwaas in ’n stampblok en al maal jy hom tussen die graankorrels in die meule, jy sal sy dwaasheid nooit uit hom kry nie. Jy moet goed weet hoe dit met jou kleinvee gaan, jy moet omsien na jou veetroppe. Rykdom is nie vir altyd nie; selfs ’n koning se kroon hou nie geslagte lank nie. As daar van ou gras hooi gemaak is, die gras weer begin uitloop, en die voer uit die berge ingebring is, sal die skape weer wol gee en die bokke verkoop word vir die prys van ’n stuk grond. Daar sal genoeg bokmelk wees om jou en jou gesin en ook nog jou slavinne te onderhou.

SPREUKE 27:1-27 Bybel vir almal (ABA)

Jy moenie spog oor wat jy môre sal doen nie, want jy weet nie wat môre sal gebeur nie. Jy moenie jouself prys nie, iemand anders kan dit doen, iemand van 'n ander plek kan jou prys, jy moenie dit self doen nie. Klip en sand is swaar om te dra, maar wanneer 'n dwaas jou kwaad maak, dan is dit nog swaarder. Wanneer iemand kwaad is, dan is hy wreed, dit is soos baie water wat oor jou spoel. Wanneer 'n man jaloers is, dan kan jy nie teen hom bly staan nie. Dit is beter om eerlik vir iemand te sê wat hy verkeerd doen, beter as om vir hom lief te wees maar dit nie te wys nie. Wanneer 'n vriend jou seermaak, dan doen hy dit omdat hy jou vriend wil bly. Wanneer iemand jou die hele dag wil aanhou soen, dan haat hy jou. Wanneer iemand genoeg geëet het, dan is heuning nie meer lekker nie, wanneer iemand honger is, dan proe 'n bitter ding ook soet. Iemand wat sy huis los en weggaan, is soos 'n voël wat wegvlieg van sy nes. Olyf-olie en wierook laat jou lekker voel, maar 'n goeie vriend weet beter as jyself wat goed sal wees vir jou. As jy 'n vriend het, dan moet jy hom nie los nie, ook nie iemand wat jou pa se vriend was nie. Wanneer dit sleg gaan met jou, dan kan jou buurman wat naby is, vir jou beter help as jou broer wat ver is. My seun, jy moet 'n wyse mens word. Dit sal my bly maak, en dan sal ek kan antwoord wanneer iemand wys dat hy dink ek is nie belangrik nie. 'n Verstandige mens sien wanneer daar probleme kom, en hy vlug, mense wat baie min weet, vlug nie, en hulle kry swaar. Wanneer iemand borg gestaan het vir 'n mens wat hy nie ken nie, wanneer hy belowe het om te betaal wat iemand uit 'n ander land skuld, dan moet jy sy klere vat as jý iets van hom wil terugkry. Wanneer 'n persoon vroeg in die oggend hard skree om iemand te groet, dan sal mense miskien dink hy is besig om die man te vervloek. 'n Dak wat aanhou lek wanneer dit reën, is soos 'n vrou wat aanhou kla. Jy kan haar nie keer nie, soos jy ook nie die wind kan keer nie, en soos jy ook nie olyf-olie met jou hand kan vashou nie. Een stuk yster kan 'n ander stuk yster skerpmaak, so kan een mens 'n ander mens help om slim te word. Wanneer iemand goed sorg vir 'n vyeboom, dan sal hy vye hê om te eet. Wanneer 'n slaaf sy eienaar goed oppas, dan sal die eienaar die slaaf respekteer. Wanneer iemand in die water kyk, dan kan hy sy gesig sien. Dit is dieselfde: Die dinge wat jy dink, wys vir jou wie jy is. Die doderyk, die onderwêreld, word nooit vol nie, meer en meer mense sterf, en oë wil altyd meer en meer kyk. 'n Mens smelt silwer in 'n pot en hy smelt goud in 'n oond, en jy weet iemand is belangrik wanneer ander mense hom prys. Jy kan 'n dwaas in 'n stampblok stamp, jy kan hom saam met sandkorrels stamp, maar jy sal nie sy dwaasheid uit hom kan stamp nie. Jy moet weet wat jou skape en bokke nodig het, jy moet weet hoe dit met die troppe diere gaan, want alles wat jy het, kan verdwyn, en 'n koning se nageslag kan ophou regeer. Wanneer jy die gras afgesny het, en dit begin weer groen word, wanneer jy die gras op die berge bymekaargemaak het, dan sal jy klere kan maak van die skape se wol en jy sal bokke kan verkoop om grond te koop. Jy sal genoeg bokmelk hê vir jouself en vir jou huisgesin, en die meisies wat vir jou werk, sal ook genoeg hê om te kan lewe.

SPREUKE 27:1-27 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

BEROEM jou nie op die dag van môre nie, want jy weet nie wat die dag sal bring nie. Laat 'n ander jou prys en nie jou eie mond nie; 'n vreemde, en nie jou eie lippe nie. Swaar is 'n klip, en die sand het gewig; maar die ergernis oor 'n sot is swaarder as altwee. Woede is wreed, en toorn kook oor; maar wie kan voor jaloersheid standhou? Openlike teregwysing is beter as verborge liefde. Die wonde deur een wat liefhet, is opreg bedoel, maar die soene deur 'n vyand is oorvloedig. 'n Versadigde siel vertrap die heuningstroop, maar vir 'n hongerige siel is alles wat bitter is, soet. Soos 'n voël wat ver van sy nes af rondvlieg, so is 'n man wat ver van sy tuisplek af rondswerwe. Olie en reukwerk verbly die hart, net so die aangenaamheid van 'n vriend vanweë welgemeende raad. Moenie jou vriend en die vriend van jou vader verlaat nie, en kom nie in die huis van jou broer op die dag van jou teëspoed nie. 'n Buurman wat naby is, is beter as 'n broer wat ver is. Wees wys, my seun, en verbly my hart, sodat ek hom wat my smaad, kan antwoord gee. As 'n skrandere die onheil sien, verberg hy hom; maar die eenvoudiges gaan verder, word gestraf. Neem sy kleed weg, want hy het vir 'n ander borg gestaan; en neem hom as pand vir 'n onbekende. Wie vroeg in die môre sy naaste met 'n harde stem 'n seën toeroep, dit sal hom as 'n vloek aangereken word. 'n Aanhoudende gedrup op die dag van 'n stortreën en 'n twisgierige vrou is net eenders. Wie haar wil teëhou, hou wind teë, en sy regterhand ontmoet olie. Yster slyp yster, so slyp die een mens die persoon van die ander. Wie 'n vyeboom oppas, sal sy vrugte eet; en hy wat vir sy heer sorg, sal geëer word. Soos in die water aangesig teenoor aangesig is, so is die hart van die mens teenoor die mens. Die doderyk en die plek van vertering word nie versadig nie; so word die oë van 'n mens nie versadig nie. Die smeltkroes is vir die silwer en die oond vir die goud, so is 'n man volgens die roem wat hy geniet. Al stamp jy die sot in 'n stampblok tussen graankorrels met 'n stamper, sy sotheid sal nie van hom wyk nie. Gee noukeurig ag op die voorkoms van jou skape, rig jou aandag op die troppe vee; want 'n skat is nie vir ewig nie — of sal 'n kroon wees van geslag tot geslag? As die gras verdwyn en die jong gras verskyn en die bossies van die berge bymekaargemaak word, dan is daar lammers vir jou kleding en bokke as 'n koopprys vir grond, en genoeg bokmelk as voeding vir jou huis en as lewensonderhoud vir jou diensmeisies.

SPREUKE 27:1-27 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Roem jou nie op môre nie; want jy weet nie wat 'n dag sal oplewer nie. Laat 'n ander man U loof en nie u eie mond nie; 'n vreemdeling en nie jou eie lippe nie. 'n Klip is swaar en die sand swaar; maar die toorn van 'n dwaas is swaarder as hulle albei. Toorn is wreed, en toorn is verregaande; maar wie kan voor die afguns standhou? Openlike teregwysing is beter as geheime liefde. Getrou is die wonde van 'n vriend; maar die soene van 'n vyand is bedrieglik. Die vol siel verafsku 'n heuningkoek; maar vir die hongerige siel is elke bitter ding soet. Soos 'n voël wat van sy nes af ronddwaal, so is 'n man wat van sy plek af ronddwaal. Salf en reukwerk verbly die hart, so maak die soetheid van 'n man se vriend met hartlike raad. Jou eie vriend en jou vader se vriend, moenie verlaat nie; gaan ook nie in die huis van jou broer in op die dag van jou onheil nie, want 'n naaste wat naby is, is beter as 'n broer wat ver is. My seun, wees wys en maak my hart bly, dat ek hom kan antwoord wat my smaad. 'n Verstandige mens sien die onheil en verberg hom; maar die eenvoudiges gaan verder en word gestraf. Neem sy kleed wat vir 'n vreemdeling borg is, en neem 'n pand van hom vir 'n vreemde vrou. Hy wat sy vriend met 'n groot stem seën en vroeg in die môre opstaan, dit sal vir hom 'n vloek gereken word. 'n Voortdurende druppel op 'n baie reënerige dag en 'n twisgierige vrou is dieselfde. Elkeen wat haar verberg, verberg die wind en die salf van sy regterhand wat homself verraai. Yster slyp yster; so verskerp 'n man die aangesig van sy vriend. Wie die vyeboom bewaar, sal die vrugte daarvan eet; so sal hy wat op sy heer wag, geëer word. Soos die aangesig in die water antwoord tot aangesig, so is die hart van die mens tot die mens. Die hel en vernietiging is nooit vol nie; so word die oë van die mens nooit versadig nie. Soos die fynpot vir silwer en die oond vir goud; so is 'n man tot sy lof. Al sou jy 'n dwaas in 'n vysel tussen koring met 'n stamper stoot, tog sal sy dwaasheid nie van hom wyk nie. Wees ywerig om die toestand van jou kleinvee te ken, en kyk goed na jou beeste. Want rykdom is nie vir ewig nie, en sal die kroon bestaan tot geslag tot geslag? Die hooi verskyn, en die sagte gras verskyn, en kruie van die berge word versamel. Die lammers is vir jou klere, en die bokke is die prys van die veld. En jy moet bokmelk genoeg hê vir jou voedsel, vir die voedsel van jou huisgesin en vir die onderhoud van jou diensmeisies.