Spreuke 25:15-28

Spreuke 25:15-28 AFR20

Met geduld word 'n •aanvoerder oorreed, en 'n sagte tong breek gebeentes. As jy heuning vind, eet net tot jy genoeg het, anders kry jy te veel daarvan in en bring dit op. Sit jou voet selde in jou medemens se huis, anders kry hy te veel van jou en ontwikkel 'n weersin in jou. 'n Hamer en 'n swaard en 'n skerp pyl, so is iemand wat as 'n vals getuie teen sy medemens getuig. 'n Tand wat breek en 'n voet wat swik, so is vertroue op 'n verraderlike mens in 'n tyd van nood. Soos hy wat op 'n koue dag klere uittrek, of asyn op soda gooi, so is iemand wat liedere sing vir 'n treurige hart. As jou vyand honger is, gee hom brood om te eet, en as hy dors is, gee hom water om te drink; want jy stapel vurige kole op sy kop, en die HERE sal jou beloon. Die noordewind bring reën, en 'n tong wat skinder, verontwaardigde gesigte. Om op die hoek van 'n dak te woon, is beter as om 'n huis te deel met 'n bakleierige vrou. Koel water in 'n dorstige keel, so is goeie nuus uit 'n ver land. 'n Modderige fontein, 'n besoedelde bron, so is 'n regverdige wat swig voor 'n goddelose. Om te veel heuning te eet, is nie goed nie, en die soeke na eie eer is oneervol. 'n Stad wat deurbreek is, sonder 'n stadsmuur, so is iemand sonder selfbeheersing.