Ook hierdie spreuke is van Salomo; die manne van Hiskia, die koning van Juda, het dit oorgelewer.
Dit is tot die eer van God
om 'n saak te verberg;
en dit is tot die eer van konings
om 'n saak te deurvors.
Soos die hoogte van die hemel
en die diepte van die aarde,
is die hart van konings
ondeurgrondelik.
Verwyder die metaalskuim
uit silwer,
dan kom daar reeds 'n kruik uit
vir die silwersmid.
Verwyder 'n goddelose
voor die koning,
dan is sy troon reeds
in geregtigheid gevestig.
Moenie grootpraat voor die koning,
en moenie gaan staan
op die plek van grotes nie.
Want dit is beter
dat vir jou gesê word,
“Kom op hierheen!”
as dat jy verneder word
voor 'n vooraanstaande.
Wat jou oë gesien het,
moet jy nie haastig
voor die gereg bring nie;
wat sal jy uiteindelik doen
as jou medemens jou verneder?
Voer jou regstryd
teen jou medemens,
maar iemand anders se geheim
moet jy nie openbaar nie;
anders sal hy wat dit hoor,
jou in die skande steek,
en die skinderstories oor jou
nie ophou nie.
Goue appels in silwermonterings,
so is 'n woord uitgespreek
op die gepaste tyd.
'n Goue ring en 'n sieraad
van fyngoud,
so is 'n wyse teregwyser
vir die oor wat luister.
Soos die afkoeling deur sneeu
op 'n oesdag
is 'n betroubare boodskapper
vir die een wat hom gestuur het;
hy verkwik die siel van sy heer.
Stapelwolke en wind
sonder enige reën,
so is 'n man wat spog oor 'n geskenk
waaroor hy lieg.
Met geduld word 'n •aanvoerder
oorreed,
en 'n sagte tong breek gebeentes.
As jy heuning vind,
eet net tot jy genoeg het,
anders kry jy te veel daarvan in
en bring dit op.
Sit jou voet selde
in jou medemens se huis,
anders kry hy te veel van jou
en ontwikkel 'n weersin in jou.
'n Hamer en 'n swaard
en 'n skerp pyl,
so is iemand wat as 'n vals getuie
teen sy medemens getuig.
'n Tand wat breek en 'n voet
wat swik,
so is vertroue op 'n verraderlike
mens in 'n tyd van nood.
Soos hy wat op 'n koue dag
klere uittrek,
of asyn op soda gooi,
so is iemand wat liedere sing
vir 'n treurige hart.
As jou vyand honger is,
gee hom brood om te eet,
en as hy dors is,
gee hom water om te drink;
want jy stapel vurige kole
op sy kop,
en die HERE sal jou beloon.
Die noordewind bring reën,
en 'n tong wat skinder,
verontwaardigde gesigte.