SPREUKE 25:1-23

SPREUKE 25:1-23 Die Boodskap (DB)

Hiskia, ’n koning van Juda, het ook die volgende spreuke bymekaargemaak. Hy het dit spesiaal vir ons laat neerskryf. Die Here is baie groot. ’n Mens verstaan nie alles wat Hy doen nie. ’n Mens kan alles ondersoek en bestudeer. Baie dinge bly vir hom ’n geslote boek. Net so min as wat ons weet wat hoog bo in die hemelruim gebeur of wat in die dieptes van die aarde aangaan, net so min kan ons die gedagtes van regeerders peil. Voordat ’n ambagsman ’n mooi silwervoorwerp kan maak, moet alle onsuiwerheid eers weggebrand word. Voordat ’n gemeenskap werklik gelukkig kan wees, moet alle korrupsie en verkeerde praktyke eers met wortel en tak uitgeroei word. Ken jou plek in die lewe. Moenie jou inwurm waar belangrike mense staan en gesels nie. Moenie sommer by hulle gaan sit nie. Hulle sal jou wegjaag en jou plek vir iemand anders gee. Laat hulle jou liewer na die goeie plekke toe nooi. Moenie alles wat ander doen, haastig loop en uitblaker nie. Onthou, jy het ook vuil wasgoed. Ander kan jou ook verneder. As iets tussen jou en iemand anders skeefloop, gaan praat dit mooi uit. Moet nooit iemand se geheime in die openbaar uitlap nie. Hy weet dalk ook iets van jou. En as hy daaroor praat, kan jy in ’n groot verleentheid beland. Soos die allermooiste musiek, so is ’n woord wat op die regte tyd gesê word. Twee dinge hoort bymekaar soos ’n pot en sy deksel: ’n wyse wat praat en iemand wat aandagtig luister. Soos ’n beker koue water op ’n warm somersdag, so is die woorde van iemand wat jy werklik vertrou. Dit gee jou sommer nuwe moed vir die lewe. Soos donderweer en sterk wind wat geen reën bring nie, so is ’n persoon wat baie beloof, maar niks waar maak nie. Met geduld kan jy selfs die belangrikste mense van ’n saak oortuig. Met mooipraat kan jy baie teëstand afbreek. Eet net genoeg. Soetgoed is lekker, maar jy moet weet wanneer om op te hou. As jy jou ooreet, voel jy gou-gou naar. Moenie te veel by mense kuier nie. Hulle sal moeg word vir jou en later niks meer van jou hou nie. Liegstories en skinderpraatjies is soos ’n hamer, ’n mes en ’n skerp pyl wat iemand se lewe verwoes. Iemand wat onbetroubaar is, is soos ’n vrot tand en ’n seer voet. Wanneer jy hom die nodigste het, laat hy jou in die steek. ’n Wyse het mensekennis. Hy sal nie vrolik wees by mense wat hartseer is nie. Dit pas tog nie. Dit is soos om jou warm klere op ’n bitter koue dag uit te trek, of soos om die verkeerde salf op ’n wond te smeer. As jou vyand honger is, gee hom kos. As hy dors is, gee hom iets om te drink. Dit sal hom sagmaak. Hy sal jammer wees oor alles wat hy aan jou gedoen het. En die Here sal ook lief wees vir jou. Soos die wind reën bring, so maak skinderpraatjies ’n mens woedend.

SPREUKE 25:1-23 Bybel vir almal (ABA)

Die volgende spreuke is ook Salomo-spreuke. Koning Hiskia van Juda se manne het hierdie spreuke bymekaargemaak. Mense respekteer en dien vir God, maar hulle weet nie alles van Hom nie. Mense respekteer 'n koning wanneer die koning probeer om alles te weet. Niemand weet hoe hoog die hemel is en hoe diep die aarde is nie, en niemand weet wat die koning alles dink nie. Wanneer jy die vuil stukkies en die skuim uit gesmelte silwer haal, dan kan 'n silwersmid iets maak van die silwer. Wanneer jy die mense wat verkeerd doen, wegvat van die koning, dan kan die koning regverdig regeer. Jy moenie probeer wys jy is belangrik wanneer jy by die koning is nie, jy moenie gaan staan waar die belangrike mense staan nie. Want dit is beter as iemand vir jou sê: “Kom op hiernatoe,” beter as dat hy vir jou sê jy moet jou plek vir 'n belangrike persoon gee. Wanneer jy by jou naaste iets gesien het wat verkeerd is, dan moet jy dit nie dadelik in die hof gaan vertel nie. Wat sal jy doen wanneer jou naaste bewys dat jy verkeerd is? Wanneer jy jou naaste wil beskuldig, dan moet jy nie vertel wat iemand anders vir jou gesê het toe julle alleen was nie. As jy dit doen, en jou naaste hoor dit, dan kan hy miskien sê jy praat nie die waarheid nie, en almal sal onthou wat jy gedoen het. Wanneer iemand die regte ding sê op die regte tyd, dan is dit soos goue appels wat iemand op silwer vasgesit het. Wanneer iemand wat wysheid het, vir jou sê hoe jy moet lewe, dan is dit soos 'n goue ring, soos juwele van goud. Wanneer iemand 'n slaaf gestuur het en die slaaf het die boodskap reg gebring, dan is dit soos wanneer dit warm was en sneeu het dit lekker koel gemaak. Dit laat die slaaf se eienaar goed voel. Wanneer iemand spog oor 'n present wat hy nie gee nie, dan is dit soos wanneer daar wolke is en die wind waai, maar daar is nie reën nie. As jy baie geduldig is, dan kan jy met 'n regeerder praat en hom laat besluit om iets te doen, as jy vriendelik praat, dan sal hy miskien begin dink dat hy iets op 'n ander manier moet doen. Wanneer jy heuning kry, dan moet jy nie te veel eet nie. As jy te veel eet, dan sal jy naar word. Jy moenie te veel by jou naaste kuier nie. As jy te veel by hom kom, dan sal hy nie meer lief wees vir jou nie. Iemand wat 'n vals getuie teen 'n ander mens is, is soos 'n knopkierie, 'n swaard of 'n skerp pyl. Jy moenie dink dat 'n ontrou mens jou sal help wanneer dit sleg gaan met jou nie. 'n Ontrou mens is soos 'n stukkende tand of 'n lam voet. Jy moenie vra dat iemand wat wil huil, liedjies moet sing nie. Dit is soos wanneer jy op 'n koue dag iemand se klere wegvat, of soos wanneer jy asyn op 'n seerplek gooi. Wanneer iemand wat vir jou haat, honger is, dan moet jy vir hom kos gee om te eet. Wanneer hy dors is, dan moet jy vir hom water gee om te drink. Dan sal jy hom skaam laat word omdat hy jou haat, en die Here sal jou beloon. Wanneer die noordewind waai, dan gaan dit reën. Wanneer iemand skinder, dan word mense kwaad.

SPREUKE 25:1-23 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

DIT is ook spreuke van Salomo, wat die manne van Hiskía, die koning van Juda, versamel het. Dit is die eer van God om 'n saak te verberg, maar die eer van konings om 'n saak na te speur. Die hoogte van die hemele en die diepte van die aarde en die hart van die konings is ondeurgrondelik. Verwyder jy die skuim uit die silwer, dan sal daar vir die silwersmid 'n voorwerp uitkom; verwyder die goddelose voor die koning weg, dan sal sy troon deur geregtigheid bevestig word. Pronk nie voor die koning nie, en staan nie op die plek van die grotes nie. Want dit is beter dat vir jou gesê word: Kom op hierheen! — as dat jy verneder word voor 'n edele wat jou oë gesien het. Gaan nie haastig uit om te twis nie; anders, wat sal jy ten slotte doen as jou naaste jou in die skande steek? Verdedig jou saak teen jou naaste, maar openbaar 'n ander se geheim nie, sodat een wat dit hoor, jou nie beskimp en jou slegte gerug nie ophou nie. Goue appels op versierde silwerborde, so is 'n woord op sy tyd gespreek. 'n Wyse bestraffer by 'n oor wat luister, is 'n goue ring en 'n goue sieraad. Soos die verkoeling van sneeu op 'n oesdag, is 'n betroubare boodskapper vir sy senders; want hy verkwik die siel van sy heer. 'n Man wat hom beroem op 'n geskenk wat hy tog nie gee nie, is soos dampe en wind waar geen reënbui by is nie. Deur lankmoedigheid word 'n vors oorgehaal, en 'n sagte tong verbreek die gebeente. Het jy heuning gevind, eet tot jy genoeg het, sodat jy daar nie sat van word en dit uitspuug nie. Sit jou voet selde in jou naaste se huis, sodat hy nie van jou genoeg kry en jou haat nie. 'n Knopkierie en 'n swaard en 'n skerp pyl, so is 'n man wat teen sy naaste as valse getuie optree. 'n Slegte tand en 'n voet wat swik, so is die vertroue op 'n ontroue in die dag van benoudheid. Soos een wat 'n kleed uittrek op 'n koue dag, soos asyn op loog, so is een wat 'n bedroefde hart met liedere verwelkom. As jou vyand honger het, gee hom brood om te eet; en as hy dors het, gee hom water om te drink. Want jy hoop gloeiende kole op sy hoof, en die HERE sal jou dit vergelde. Die noordewind bring 'n reënbui voort, en die tong wat agteraf praat — kwaai gesigte.

SPREUKE 25:1-23 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die volgende is ook spreuke van Salomo. Koning Hiskia van Juda se amptenare het dit opgeteken. Die eer van God lê in wat Hy verborge hou; konings se eer lê in wat hulle aan die lig bring. Soos die hoogte van die hemelruim en die diepte van die aardbodem, so kan konings se gedagtes ook nie gepeil word nie. As jy die slak uit silwer haal, kan die smid iets van die silwer maak. As jy die goddeloses by die koning wegvat, kan hy regverdig bly regeer. Moet jou nie vernaam aanstel by die koning en op die plek vir hoë mense gaan staan nie. Dit is beter dat hy vir jou sê: “Kom op hiernatoe!” as dat hy jou laat plek maak vir die vername mense. As jy iets gesien het, moenie te haastig teen jou buurman 'n klag indien nie; wat sal jy agterna doen as hy jou belaglik maak? As jy 'n saak teen jou buurman het, moenie sê wat iemand jou vertroulik meegedeel het nie: dit kan by hom uitkom, en hy kan jou tot 'n leuenaar maak, en dan kry jy vir goed 'n slegte naam. Goue appels wat in silwer gemonteer is, so is die regte woord op die regte tyd. 'n Goue ring, goue juwele, so is die wyse vermaning vir wie wil luister. Soos die verkoeling wat in die oestyd deur sneeu gebring word, so is 'n betroubare gesant vir dié wat hom gestuur het; hy gee dié in wie se diens hy staan, nuwe moed. Miswolke en wind, maar geen reën nie, so is iemand wat spog met wat hy sal gee en dit nooit gee nie. Met geduld kan iemand in 'n magsposisie tot ander insigte gebring word; met 'n versigtige benadering word weerstand afgebreek. As jy op heuning afkom, eet net tot jy genoeg het; as jy te veel eet, word jy naar. Wees spaarsaam met jou kuiers by jou buurman; as hy jou te veel sien, hou hy naderhand nie meer van jou nie. 'n Knopkierie, 'n swaard, 'n skerp pyl, so is 'n man wat vals teen sy naaste getuig. 'n Seer tand, 'n voet wat meegee, so is dit om in gevaar staat te maak op 'n onbetroubare mens. Iemand wat jou klere van jou afvat op 'n koue dag, of asyn op bytsoda, so is iemand wat vir jou liedjies sing as jy treurig voel. As iemand wat jou haat, honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink. Die Here sal jou daarvoor vergoed, en jy sal jou vyand vuurrooi van skaamte laat word. Die noordewind bring reën, en agteraf-praat maak mense kwaad.

SPREUKE 25:1-23 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Ook hierdie spreuke is van Salomo; die manne van Hiskia, die koning van Juda, het dit oorgelewer. Dit is tot die eer van God om 'n saak te verberg; en dit is tot die eer van konings om 'n saak te deurvors. Soos die hoogte van die hemel en die diepte van die aarde, is die hart van konings ondeurgrondelik. Verwyder die metaalskuim uit silwer, dan kom daar reeds 'n kruik uit vir die silwersmid. Verwyder 'n goddelose voor die koning, dan is sy troon reeds in geregtigheid gevestig. Moenie grootpraat voor die koning, en moenie gaan staan op die plek van grotes nie. Want dit is beter dat vir jou gesê word, “Kom op hierheen!” as dat jy verneder word voor 'n vooraanstaande. Wat jou oë gesien het, moet jy nie haastig voor die gereg bring nie; wat sal jy uiteindelik doen as jou medemens jou verneder? Voer jou regstryd teen jou medemens, maar iemand anders se geheim moet jy nie openbaar nie; anders sal hy wat dit hoor, jou in die skande steek, en die skinderstories oor jou nie ophou nie. Goue appels in silwermonterings, so is 'n woord uitgespreek op die gepaste tyd. 'n Goue ring en 'n sieraad van fyngoud, so is 'n wyse teregwyser vir die oor wat luister. Soos die afkoeling deur sneeu op 'n oesdag is 'n betroubare boodskapper vir die een wat hom gestuur het; hy verkwik die siel van sy heer. Stapelwolke en wind sonder enige reën, so is 'n man wat spog oor 'n geskenk waaroor hy lieg. Met geduld word 'n •aanvoerder oorreed, en 'n sagte tong breek gebeentes. As jy heuning vind, eet net tot jy genoeg het, anders kry jy te veel daarvan in en bring dit op. Sit jou voet selde in jou medemens se huis, anders kry hy te veel van jou en ontwikkel 'n weersin in jou. 'n Hamer en 'n swaard en 'n skerp pyl, so is iemand wat as 'n vals getuie teen sy medemens getuig. 'n Tand wat breek en 'n voet wat swik, so is vertroue op 'n verraderlike mens in 'n tyd van nood. Soos hy wat op 'n koue dag klere uittrek, of asyn op soda gooi, so is iemand wat liedere sing vir 'n treurige hart. As jou vyand honger is, gee hom brood om te eet, en as hy dors is, gee hom water om te drink; want jy stapel vurige kole op sy kop, en die HERE sal jou beloon. Die noordewind bring reën, en 'n tong wat skinder, verontwaardigde gesigte.

SPREUKE 25:1-23 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Dit is ook spreuke van Salomo wat die manne van Hiskia, die koning van Juda, oorgeskryf het. Dit is die eer van God om iets te verberg, maar die eer van konings is om 'n saak te ondersoek. Die hemel vir hoogte en die aarde vir diepte, en die hart van konings is ondeurgrondelik. Neem die skuim van die silwer weg, en daar sal 'n voorwerp uitkom vir die fyner. Neem die goddelose weg voor die koning, en sy troon sal bevestig word in geregtigheid. Stel jou nie voor die koning uit nie, en staan nie in die plek van groot manne nie. Want dit is beter dat vir jou gesê word: Kom op hierheen; as dat jy verneder moet word voor die vors wat jou oë gesien het. Gaan nie haastig uit om te twis nie, sodat jy nie weet wat om aan die einde daarvan te doen as jou naaste jou beskaamd gemaak het nie. Bespreek jou saak met jou naaste self; en ontdek geen geheim vir 'n ander nie: sodat hy wat dit hoor, jou nie beskaamd maak en jou smaad nie afwyk nie. 'n Woord wat reg gespreek word, is soos goue appels in silwerprentjies. Soos 'n goue oorring en 'n sieraad van fyn goud, so is 'n wyse bestraf op 'n gehoorsame oor. Soos die koue van sneeu in die oestyd, so is 'n getroue boodskapper vir die wat Hom stuur, want Hy verkwik die siel van sy HERE. Wie hom op 'n valse gawe roem, is soos wolke en wind sonder reën. Deur lank te verduur, word 'n vors oortuig, en 'n sagte tong breek die been. Het jy heuning gekry? eet soveel as wat vir jou genoeg is, sodat jy nie daarmee versadig word en dit uitbraak nie. Trek jou voet terug uit jou naaste se huis; dat hy nie vir jou moeg word en jou so haat nie. 'n Man wat valse getuienis teen sy naaste aflê, is 'n kap en 'n swaard en 'n skerp pyl. Vertroue in 'n ontroue man in tyd van benoudheid is soos 'n gebreekte tand en 'n voet uit gewrig. Soos hy wat 'n kleed wegneem in koue weer en soos asyn op salpeter, so is hy wat liedere sing tot 'n bedroefde hart. As jou vyand honger het, gee hom brood om te eet; en as hy dors is, gee hom water om te drink. Want jy moet kole van vuur op sy hoof hoop, en die HERE sal jou vergelde. Die noordewind jaag reën weg, so jaag 'n toornige aangesig 'n tong wat agteruitgaan.

SPREUKE 25:1-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Hier is nog spreuke van Salomo. Koning Hiskia van Juda se amptenare het dit versamel. Dit is God se reg om iets geheim te hou. Dit is konings se voorreg om uit te vind wat iets beteken. So min soos iemand die hoogte van die lug of die diepte van die aarde kan bepaal, net so min kan iemand peil wat aangaan in die gedagtes van konings. Wanneer jy die onsuiwerheid uit silwer haal, kan die smid iets van die silwer maak. As jy die goddeloses by die koning wegvat, kan hy regverdig bly regeer. Moenie jou vernaam hou voor die koning, en moenie gaan staan op die plek vir belangrike mense nie. Dis beter wanneer vir jou gesê word: “Kom staan asseblief hier!” as dat jy plek moet maak vir iemand belangriker as jy. As jy iets opgemerk het, moet jy nie te haastig wees om ’n saak teen iemand anders te maak nie. Wat sal jy agterna doen as jou buurman jou belaglik maak? Bespreek eers die saak met die ander persoon. Moenie te koop loop met wat iemand vertroulik vir jou gesê het nie. Jy kan dan beskuldig word dat jy skinder. Dan het jy vir altyd ’n slegte naam. Woorde op die regte tyd gesê, is soos goue appels in ’n silwer houer. Soos ’n goue ring by goue juwele, so is die wyse vermaning by die oor wat bereid is om daarna te luister. Vir die een wat hom stuur, is ’n betroubare boodskapper net so verkwikkend soos sneeu in die somerhitte van die oes. Hy gee vir sy werkgewer nuwe moed. Iemand wat spog oor ’n geskenk wat hy nooit gegee het nie, is soos wolke en wind wat geen reën bring nie. ’n Leier kan met geduld oorreed word. Versigtige woorde breek harde weerstand af. Wanneer jy op heuning afkom, eet net tot jy genoeg gehad het. As jy te veel eet, gaan jy naar word. Moenie te veel by jou buurman gaan kuier sodat hy te veel van jou sien en ’n weersin in jou kry nie. Iemand wat vals getuienisse oor ’n ander versprei, is net so gevaarlik soos ’n knuppel, ’n swaard en ’n skerp pyl. ’n Gebreekte tand, ’n voet wat swik, so is dit om in gevaar staat te maak op ’n onbetroubare mens. So onvanpas soos dit is om klere uit te trek op ’n koue dag, of asyn op bytsoda te sit, so min van pas is dit dat iemand vir jou liedjies sing wanneer jy treurig voel. As jou vyand honger is, moet jy hom iets gee om te eet. As hy dors is, gee hom iets om te drink. Die HERE sal jou daarvoor vergoed. Jy sal buitendien kole ophoop op jou vyand se kop en hom vuurrooi maak van skaamte. So seker soos die noordewind altyd reën bring, so seker maak hulle wat agteraf praat altyd ander mense kwaad.