Spreuke 22:17-29

Spreuke 22:17-29 AFR20

Spits jou oor en luister na die woorde van wyses! En jou hart, stel dit in op my kennis! Want dit is aangenaam as jy dit in jou binneste bewaar, as dit alles gereed lê op jou lippe. Met die oog daarop dat jou vertroue op die HERE sal wees, maak ek dit vandag aan jou bekend, ja, aan jou. Het ek nie vir jou dertig spreuke opgeskryf met raad en kennis om aan jou die waarheid, betroubare woorde, bekend te maak, sodat jy betroubare antwoorde kan gee aan dié wat jou gestuur het nie? Moenie 'n arme beroof omdat hy arm is nie, en moenie die magtelose vertrap in die poort nie, want die HERE sal hulle regstryd voer en van hulle plunderaars die lewe plunder. Moenie vriende maak met 'n humeurige mens nie, en met 'n opvlieënde man moet jy nie saamgaan nie; anders raak jy vertroud met sy paaie en stel jy só 'n valstrik vir jouself. Moenie onder dié wees wat hand gee, wat vir skulde borg staan nie. As jy dalk niks het om te betaal nie, waarom moet iemand jou bed onder jou uit neem? Moenie ou grense verskuif wat jou voorouers gelê het nie. Sien jy 'n man wat knap is in sy werk? Voor konings sal hy in diens staan; hy sal nie in diens van onaansienlikes staan nie.

Video for Spreuke 22:17-29

Gratis leesplanne en oordenkings oor Spreuke 22:17-29