Spreuke 21:20-31

Spreuke 21:20-31 AFR20

'n Kosbare skat en olie is in die tuiste van 'n wyse, maar 'n dwase mens verslind syne. Wie geregtigheid en troue liefde najaag, vind lewe, geregtigheid en eer. 'n Wyse kan optrek teen 'n stad met helde, en die versterkings laat tuimel waarop die stad vertrou. Wie sy mond en tong bewaar, bewaar sy lewe van benoudhede. 'n Vermetele, aanmatigende mens – Spotter is sy naam – tree met matelose verwaandheid op. Die begeerte van 'n luiaard sal hom sy dood kos, want sy hande weier om iets te doen. Die hele dag sal hy brand van begeerte, terwyl 'n regverdige sal gee en nie terughou nie. Die offer van goddeloses is afstootlik, hoeveel te meer as dit gebring word met 'n slinkse bedoeling! 'n Leuenagtige getuie gaan ten gronde, maar iemand wat luister, mag altyd praat. 'n Goddelose sit 'n brutale gesig op, maar 'n opregte, hy slaan ag op wat hy doen. Geen wysheid, geen verstandigheid, ja, geen raad hou stand teen die HERE nie. 'n Perd kan afgerig word vir die dag van 'n geveg, maar die oorwinning is van die HERE.