SPREUKE 21:20-31
SPREUKE 21:20-31 Bybel vir almal (ABA)
In 'n wyse mens se huis is daar kosbare goed en olyf-olie, 'n dwase mens eet alles op wat hy het. As iemand probeer om reg te doen en om te doen wat hy belowe het, dan sal hy aanhou lewe, mense sal reg doen aan hom en hulle sal hom respekteer. Iemand wat wysheid het, kan 'n stad vol soldate oorwin, en hy kan die mure laat val wat die soldate moet beskerm. As iemand eers dink voordat hy iets sê, dan kry hy nie probleme nie. 'n Hoogmoedige mens wat dink net hý is reg, is 'n mens wat altyd wil spot. Alles wat hy doen, wys dat hy trots is en dat hy dink hy is beter as ander mense. 'n Lui mens gaan dood omdat hy net wens dat hy dinge sal kry, want hy wil nie werk nie, hy sit die hele dag en wens dat hy dinge sal kry. Iemand wat reg lewe, kan vir ander mense van sy goed gee, hy is nie suinig nie. Die Here haat die offers van mense wat verkeerd doen, Hy haat dit nog meer wanneer hulle die offers bring omdat hulle skelm planne het. 'n Vals getuie sal sterf, maar 'n getuie wat goed geluister het wat mense sê, kan aanhou praat. Die mens wat verkeerd doen, wys nie wat hy dink nie, die eerlike mens maak seker dat hy reg lewe. Wanneer 'n mens voor die Here staan, dan weet hy dat hy nie wysheid het nie en niks verstaan nie, hy weet nie wat om te doen nie. Jy kan vir perde leer en jy kan hulle in die oorlog gebruik, maar dit is die Here wat jou die oorlog laat wen.
SPREUKE 21:20-31 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
'n Kosbare skat en olie is in die woning van die regverdige, maar 'n dwase mens bring dit deur. Wie geregtigheid en weldadigheid najaag, sal die lewe, geregtigheid en eer vind. Die wyse beklim die stad van die helde en gooi die vesting neer waar dit op vertrou. Hy wat sy mond en sy tong bewaar, bewaar sy siel van benoudhede. 'n Vermetele, 'n trotsaard word 'n spotter genoem, een wat in oormaat van vermetelheid handel. Die begeerte van die luiaard sal hom doodmaak, want sy hande weier om te werk; die hele dag deur word daar dringend begeer, maar die regverdige gee en hou nie terug nie. Die offer van die goddelose is 'n gruwel; hoeveel te meer as hulle dit met skandelike bedoeling bring. 'n Leuenagtige getuie kom om; maar 'n man wat goed toeluister, spreek vir altyd. Die goddelose trek 'n onbeskaamde gesig, maar die opregte gee aan sy weë die regte rigting. Daar is geen wysheid, en daar is geen verstand, en daar is geen raad teenoor die HERE nie. Die perd word reggemaak vir die dag van die geveg, maar die oorwinning is deur die HERE.
SPREUKE 21:20-31 Afrikaans 1983 (AFR83)
In die woning van 'n wyse mens is daar altyd kosbare besittings en olie; 'n dwase mens bring sy goed deur. Wie na reg en liefde strewe, aan hom word 'n vol lewe en eer geskenk. 'n Wyse man kan selfs 'n stad vol dapper verdedigers oorwin en die vesting waarop hulle vertrou, laat val. Wie sy mond en sy tong in toom hou, hou hom uit gevaar. 'n Ligsinnige mens is hovaardig en aanmatigend, sy hovaardige optrede het geen perke nie. 'n Lui mens soek sy dood, want hy wil nie sy hande uit sy moue steek nie; hy sit die hele dag net en wens. Die regverdige kan gee sonder om suinig te wees. Die Here het 'n afsku in die offers van goddeloses, te meer as hulle dit bring met slegte bedoelings. 'n Vals getuie gaan sy dood tegemoet. 'n Betroubare getuie se getuienis het betekenis. 'n Slegte mens gee voor dat hy weet wat hy doen; 'n eerlike mens bly by die koers wat hy gekies het. Teenoor die Here geld geen menslike wysheid, insig of besluit nie. Perde kan afgerig word vir oorlog, maar dit is die Here wat die oorwinning gee.
SPREUKE 21:20-31 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
'n Kosbare skat en olie is in die tuiste van 'n wyse, maar 'n dwase mens verslind syne. Wie geregtigheid en troue liefde najaag, vind lewe, geregtigheid en eer. 'n Wyse kan optrek teen 'n stad met helde, en die versterkings laat tuimel waarop die stad vertrou. Wie sy mond en tong bewaar, bewaar sy lewe van benoudhede. 'n Vermetele, aanmatigende mens – Spotter is sy naam – tree met matelose verwaandheid op. Die begeerte van 'n luiaard sal hom sy dood kos, want sy hande weier om iets te doen. Die hele dag sal hy brand van begeerte, terwyl 'n regverdige sal gee en nie terughou nie. Die offer van goddeloses is afstootlik, hoeveel te meer as dit gebring word met 'n slinkse bedoeling! 'n Leuenagtige getuie gaan ten gronde, maar iemand wat luister, mag altyd praat. 'n Goddelose sit 'n brutale gesig op, maar 'n opregte, hy slaan ag op wat hy doen. Geen wysheid, geen verstandigheid, ja, geen raad hou stand teen die HERE nie. 'n Perd kan afgerig word vir die dag van 'n geveg, maar die oorwinning is van die HERE.
SPREUKE 21:20-31 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Daar is 'n skat om te begeer en olie in die woning van die wyse mense; maar 'n dwase mens spandeer dit op. Hy wat geregtigheid en barmhartigheid najaag, vind lewe, geregtigheid en eer. 'n Wyse man bestyg die stad van die magtiges en werp die sterkte van sy vertroue neer. Wie sy mond en sy tong bewaar, bewaar sy siel van benoudhede. Hoogmoedige en hoogmoedige spotter is sy naam, wat met trotse toorn handel. Die begeerte van die luiaard maak hom dood; want sy hande weier om te arbei. Hy begeer die hele dag lank, maar die regverdige gee en spaar nie. Die offer van die goddelose is 'n gruwel; hoeveel te meer as hy dit met 'n goddelose verstand bring? 'n Valse getuie sal omkom, maar die man wat dit hoor, spreek voortdurend. 'n Bose verhard sy aangesig, maar wat die opregtes betref, hy rig sy weg. Daar is geen wysheid of verstand of raad teen die HERE nie. Die perd is gereed vir die dag van oorlog, maar die veiligheid is van die HERE.
SPREUKE 21:20-31 Die Boodskap (DB)
’n Wyse mens het ’n fyn smaak. Hy ken die waarde van dinge en pas sy besittings mooi op. ’n Dom mens verwaarloos en vernietig alles. Wie reg lewe en mense liefhet, het die lewe. Mense sal hom eer en respekteer. ’n Wyse kyk deur mense se magspeletjies. Hulle groot planne en agteraf skemas vernietig hy. Wie sy mond hou en sy tong beheer, bly uit die moeilikheid. ’n Arrogante mens se naam stink. Iemand wat vermetel optree en niemand in ag neem nie word verwerp. ’n Luiaard leef in ’n droomwêreld. Hy begeer so baie dinge, maar is nie in staat om hard te werk en geld te verdien nie. ’n Lui mens dink heeldag lank net aan sy eie selfsugtige begeertes. ’n Gelowige gee baie vir ander mense. Dit is verskriklik as ongelowiges iets vir die saak van die Here gee. Hulle bedoel dit tog nie. ’n Vals getuie word maklik vasgetrek. Niemand wil na hom luister nie. Jy kan maar luister na ’n getuie wat die waarheid praat. ’n Slegte mens is nie opreg nie. Hy doen alles vir die skyn. ’n Gelowige se liefde word aan sy manier van lewe gesien. Al ons wysheid, insig en planne is niks voor die Here nie. Ons kan hard werk en elke dag goed beplan, maar sonder die Here is alles tevergeefs.
SPREUKE 21:20-31 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
In ’n wyse mens se huis is altyd kosbare besittings en uitgesoekte olie. ’n Dwase mens gebruik alles op wat hy in sy huis het. Iemand wat hom beywer vir reg en liefde, verkry ’n vol lewe, geregtigheid en eer. ’n Wyse man kan ’n stad oorwin al is dit vol dapper soldate. Selfs die vesting waarop hulle vertrou, kan hy laat val. Wie ’n wag voor sy mond het en stilbly, hou homself uit die moeilikheid. Dis bekend dat ’n spotter hovaardig en aanmatigend is. Sy hovaardige optrede ken geen perke nie. Die begeertes van ’n lui mens lei na sy dood. Hy weier om sy hande uit sy moue te steek. Elke dag begeer hy net meer en meer. Die regverdige gee sonder om iets terug te hou. God verafsku die offers wat goddeloses bring, veral as hulle dit doen met allerlei bymotiewe. ’n Vals getuie sal omkom. ’n Betroubare getuie se getuienis staan vas. ’n Slegte mens maak asof hy dapper is. ’n Opregte mens oorweeg elke tree wat hy gee. Geen menslike wysheid, of insig, of besluit kan voor die HERE bly staan nie. Perde kan afgerig word vir oorlog, maar die oorwinning kom net van die HERE.