'n Mens kry sy gedagtes agtermekaar, maar die antwoord van die tong kom van die HERE. Al die weë van 'n mens is onbesproke in sy eie oë, maar die een wat die geeste toets, is die HERE. Vertrou wat jy doen aan die HERE toe, dan sal jou planne standhou. Die HERE het sy doel met alles; selfs 'n goddelose bestaan vir die dag van onheil. Afstootlik vir die HERE is elkeen met 'n hoogmoedige hart; dit staan vas: So iemand sal nie ongestraf bly nie. Deur troue liefde en waarheid word sondeskuld bedek, en deur ontsag vir die HERE vermy 'n mens die kwaad. Wanneer die HERE tevrede is met 'n mens se lewenspaaie, laat Hy selfs sy vyande met hom vrede maak. 'n Bietjie, saam met geregtigheid, is beter as 'n groot inkomste verkry deur onreg. Die hart van 'n mens beplan sy pad, maar die HERE bepaal sy voetstappe. 'n Orakelspreuk is op die lippe van 'n koning; by 'n vonnis mag sy mond nie ontrou wees nie. 'n Skaal, 'n betroubare weegskaal, is van die HERE; al die gewigte in die sak is sy handewerk. Afstootlik vir konings is die pleeg van 'n goddelose daad, want deur geregtigheid staan 'n troon vas. Regverdige lippe stel konings tevrede, en hulle het die een lief wat die regte dinge sê. Die woede van 'n koning is 'n boodskapper van die dood, maar 'n wyse mens bring dit tot bedaring. In die stralende gesig van 'n koning is daar lewe, en sy goedkeuring is soos die wolke van laatreëns. Die verkryging van wysheid – hoeveel beter is dit nie as goud nie! Die verkryging van insig is verkieslik bo silwer.
Lees Spreuke 16
Deel
Vergelyk Alle Weergawes: Spreuke 16:1-16
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's