SPREUKE 16:1-16
SPREUKE 16:1-16 Bybel vir almal (ABA)
'n Mens kan planne maak oor wat hy wil doen, maar dit is die Here wat sê wat sal gebeur. 'n Mens dink dat alles reg is wat hy doen, maar die Here kyk of dit waarlik reg is. Jy moet vir die Here vra wat jy moet doen, dan sal jou planne slaag. Die Here het 'n plan met alles wat Hy gemaak het, Hy het ook 'n plan met die mense wat verkeerd doen, Hy sal hulle laat swaarkry. Die Here haat mense wat hoogmoedig is, daardie mense sal hulle straf kry, dit is seker. As jy wil hê die Here moet jou sondes vergewe, dan moet jy doen wat jy belowe en jy moet aanhou glo. As jy die Here respekteer en Hom dien, dan sal dit nie sleg gaan met jou nie. Wanneer die Here tevrede is met 'n mens se lewe, dan laat Hy ook daardie persoon se vyande in vrede met hom lewe. Dit is beter om 'n bietjie te hê wat jy eerlik gekry het as om baie te hê wat jy nie eerlik gekry het nie. 'n Mens kan planne maak oor wat hy wil doen, maar dit is die Here wat besluit wat sal gebeur. Dit is die Here wat vir die koning sê wat hy moet sê, die koning maak nie foute wanneer hy oordeel nie. Die Here wil hê weegskale moet reg weeg, Hy self besluit hoe swaar die gewigte moet wees. Konings haat dit wanneer mense verkeerd doen, want hulle weet dat hulle lank sal kan regeer as mense reg doen. Konings wil hê dat mense die waarheid moet praat, hulle hou van eerlike getuies. Wanneer die koning kwaad word vir jou, dan is jy naby jou dood. As jy wysheid het, dan sal jy probeer om die koning tevrede te hou. Wanneer die koning vriendelik is, dan sal jy aanhou lewe, wanneer hy van jou hou, dan is dit vir jou soos die wolke wat reën bring in die lente. Dit is beter om wysheid te kry as om goud te kry, dit is beter om verstandig te wees as om silwer te wil hê.
SPREUKE 16:1-16 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
DIE planne van die hart is van die mens, maar die antwoord van die tong kom van die HERE. Al die weë van 'n man is suiwer in sy oë, maar die HERE toets die geeste. Laat jou werke aan die HERE oor, dan sal jou planne uitgevoer word. Alles het die HERE gemaak vir sy doel, ja, ook die goddelose vir die dag van onheil. Elke hoogmoedige van hart is vir die HERE 'n gruwel; sekerlik, hy sal nie ongestraf bly nie. Deur liefde en trou word die skuld versoen, en deur die vrees van die HERE wyk 'n mens af van die kwaad. As die HERE behae het in die weë van 'n man, dan laat Hy selfs sy vyande met hom vrede hou. Liewer 'n bietjie met geregtigheid, as 'n menigte van inkomste met onreg. Die hart van die mens dink sy weg uit, maar die HERE rig sy voetstappe. Die beslissing is op die lippe van die koning; in die regspraak handel sy mond nie ontrou nie. 'n Regte weegtoestel en weegskaal kom van die HERE, al die weegstene in die sak is sy werk. Dit is 'n gruwel vir konings om goddeloosheid te doen, want deur geregtigheid word die troon bevestig. Die konings het behae in regverdige lippe, en hulle het hóm lief wat regte dinge spreek. Die grimmigheid van die koning is soos boodskappers van die dood, maar 'n wyse man bring dit tot bedaring. In die vriendelike blik van die koning is lewe, en sy welgevalle is soos 'n wolk van die laat reëns. Hoeveel beter is dit om wysheid te verkry as goud, en verkiesliker om verstand te verwerf as silwer.
SPREUKE 16:1-16 Afrikaans 1983 (AFR83)
'n Mens kan sy voornemens hê, maar die laaste woord daaroor kom van die Here af. In sy eie oë is alles wat 'n mens doen, reg, maar die Here ondersoek die gesindheid. Laat wat jy doen, aan die Here oor, dan sal jou voornemens geluk. Die Here het alles gemaak met 'n doel, ook die goddelose vir die dag van straf. Die Here het 'n afsku van 'n verwaande mens; dit staan vas: so 'n mens sal nie ongestraf bly nie. Liefde en trou bring versoening waar daar verkeerd gehandel is; kwaad word vermy deur die Here te dien. As die Here tevrede is met 'n mens se lewe, laat Hy selfs so 'n mens se vyande in vrede met hom lewe. Liewer min hê en reg lewe as baie inkomste hê deur onreg. 'n Mens beplan sy pad, maar die Here bepaal hoe hy loop. As die koning praat, is dit met Goddelike gesag; as hy uitspraak lewer, maak hy nie fout nie. Die norme vir die regspraak kom van die Here af; Hy bepaal die maatstawwe. Konings het 'n afsku van verkeerde dade, want 'n troon word deur regverdigheid bestendig. Eerlike mense geniet die koning se goedgesindheid; hy hou van mense wat die waarheid praat. Die woede van die koning dra die boodskap van die dood; 'n wyse mens bring dié woede tot bedaring. As die koning vriendelik is, is jy seker van jou lewe; sy goedgesindheid is soos 'n wolk wat lentereëns bring. Probeer liewer wysheid bekom as goud, liewer insig as silwer.
SPREUKE 16:1-16 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
'n Mens kry sy gedagtes agtermekaar, maar die antwoord van die tong kom van die HERE. Al die weë van 'n mens is onbesproke in sy eie oë, maar die een wat die geeste toets, is die HERE. Vertrou wat jy doen aan die HERE toe, dan sal jou planne standhou. Die HERE het sy doel met alles; selfs 'n goddelose bestaan vir die dag van onheil. Afstootlik vir die HERE is elkeen met 'n hoogmoedige hart; dit staan vas: So iemand sal nie ongestraf bly nie. Deur troue liefde en waarheid word sondeskuld bedek, en deur ontsag vir die HERE vermy 'n mens die kwaad. Wanneer die HERE tevrede is met 'n mens se lewenspaaie, laat Hy selfs sy vyande met hom vrede maak. 'n Bietjie, saam met geregtigheid, is beter as 'n groot inkomste verkry deur onreg. Die hart van 'n mens beplan sy pad, maar die HERE bepaal sy voetstappe. 'n Orakelspreuk is op die lippe van 'n koning; by 'n vonnis mag sy mond nie ontrou wees nie. 'n Skaal, 'n betroubare weegskaal, is van die HERE; al die gewigte in die sak is sy handewerk. Afstootlik vir konings is die pleeg van 'n goddelose daad, want deur geregtigheid staan 'n troon vas. Regverdige lippe stel konings tevrede, en hulle het die een lief wat die regte dinge sê. Die woede van 'n koning is 'n boodskapper van die dood, maar 'n wyse mens bring dit tot bedaring. In die stralende gesig van 'n koning is daar lewe, en sy goedkeuring is soos die wolke van laatreëns. Die verkryging van wysheid – hoeveel beter is dit nie as goud nie! Die verkryging van insig is verkieslik bo silwer.
SPREUKE 16:1-16 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Die voorbereiding van die hart in die mens en die antwoord van die tong is van die HERE. Al die weë van 'n mens is rein in sy eie oë; maar die HERE weeg die geeste. Laat jou werke aan die HERE oor, en jou gedagtes sal vasstaan. Die HERE het alles vir Homself gemaak, ja, ook die goddelose vir die dag van onheil. Elke hoogmoedige van hart is vir die HERE 'n gruwel; Deur goedertierenheid en waarheid word die ongeregtigheid gereinig, en deur die vrees van die HERE wyk mense af van die kwaad. Wanneer die weë van 'n mens die HERE behaag, laat Hy selfs sy vyande met hom vrede hê. Beter is 'n bietjie met geregtigheid as groot inkomste sonder reg. 'n Man se hart beraam sy weg, maar die HERE rig sy voetstappe. 'n Goddelike vonnis is op die lippe van die koning: sy mond oortree nie in die oordeel nie. A Regverdige gewig en weegskaal behoort aan die HERE: al die gewigte van die sak is sy werk. Dit is 'n gruwel vir konings om goddeloosheid te pleeg, want die troon is gevestig deur geregtigheid. Regverdige lippe is die vreugde van konings; en hulle het Hom lief wat reg spreek. Die toorn van 'n koning is soos boodskappers van die dood, maar 'n wyse man sal dit kalmeer. In die lig van die koning se aangesig is lewe; en sy welbehae is soos 'n wolk van laat reëns. Hoeveel beter is dit om wysheid te verkry as goud! en om eerder insig te kry om uitverkies te word as silwer!
SPREUKE 16:1-16 Die Boodskap (DB)
’n Mens maak baie planne, maar die Here besluit of dit suksesvol sal wees of nie. Alles wat ’n mens doen, lyk vir hom reg. Maar die Here weet waarom ons dit aanpak. Ken die Here in alles wat jy wil doen, dan sal Hy jou help om dit uit te voer. Die Here het alles vir ’n doel gemaak, selfs die slegte mense se dag van oordeel. Die Here verag arrogante mense wat op ander trap. Hulle sal sekerlik nog gestraf word. Liefde kan skewe verhoudings weer regmaak. Respek vir mekaar laat ’n vriendskap blom. Liefde vir die Here hou ’n mens van die kwaad af weg. As die Here iemand liefhet, sal sy vyande dit raaksien. Hulle sal op goeie voet met hom wil wees. Liewer eerlik wees en min besit as ’n sak vol geld wat oneerlik verkry is. Elke mens beplan sy lewe, maar alles hang van die Here af. Eerlike regters is vir die Here belangrik. Hulle moet regverdige beslissings lewer. Winkeleienaars en kafeebase moenie mense uitbuit nie. Die Here haat ’n kullery. Leiers moet korrupsie met wortel en tak uitroei. Goeie leiers is altyd eerlik. ’n Leier moet die waarheid liefhê. Vir eerlike mense moet hy respek hê. ’n Woedende baas kan jou groot ellende veroorsaak. Tree altyd kalm op. So sal jy ’n moeilike situasie goed kan hanteer. Wie in die baas se goeie boekies is, kan goeie dinge verwag. Sy guns kan vir jou baie beteken. Om reg te leef is baie meer werd as goud. Wie weet hoe om elke dag gelukkig te lewe is ryker as die rykste mense.
SPREUKE 16:1-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Mense kan planne maak, maar die finale besluit kom van die HERE af. Alles wat hy doen, kan vir die mens reg lyk. Die HERE weet egter waarom hy dit alles doen. Alles wat jy doen, moet jy opdra aan die HERE, dan sal jou planne slaag. Die HERE het alles gemaak vir ’n bepaalde doel, ook die goddelose vir die dag van straf. Die HERE verafsku elke verwaande mens. Maar wees verseker, hulle sal nie ongestraf bly nie. Liefde en lojaliteit bring versoening vir oortredings. Kwaad word vermy wanneer daar respek is vir die HERE. As die HERE gelukkig is met die manier waarop iemand lewe, sal Hy selfs sy vyande in vrede met hom laat lewe. Dis beter om arm te wees en regverdig, as om ryk en oneerlik te wees. ’n Mens beplan sy koers, maar die HERE bepaal sy bestemming. As die koning praat, is dit met Goddelike gesag. Sy uitsprake mag nooit onregverdig wees nie. Die HERE vereis eerlikheid en billikheid in die handel. Hy bepaal die maatstawwe daarvoor. Die koning verafsku misdade. Sy regering berus op regverdigheid. Die koning is tevrede wanneer mense eerlik praat. Hy stel dit op prys as mense die waarheid praat. Die koning se woede is ’n draer van die dood. ’n Wyse mens probeer sy woede afkoel. As die koning glimlag, is daar lewe. Sy goedgesindheid is soos wolke wat lentereëns bring. Om wysheid te bekom, is beter as goud, en insig is beter as silwer.