Die wyses onder vroue bou elkeen haar huis, maar sotheid breek dit eiehandig af. Wie in sy opregtheid die lewenspad loop, het ontsag vir die HERE, maar hy wat op kronkelpaaie gaan, verag Hom. In die mond van 'n sot is daar 'n slaanding vir sy hoogmoed, maar die lippe van wyses beskerm hulle. Waar geen beeste is nie, is die voerkrip leeg; maar groot is die opbrengste deur die krag van 'n bul. 'n Betroubare getuie lieg nie, maar 'n vals getuie ryg leuens uit. 'n Spotter soek wysheid, maar daar is niks; kennis is vir 'n verstandige maklik. Bly weg van 'n dwase man; jy sal nie lippe met kennis leer ken nie. Die wysheid van 'n slim mens is om sy lewenspad te verstaan, maar die sotheid van dwase is bedrog. Sondeskuld maak 'n bespotting van sotte, maar tussen opregtes is daar welwillendheid. Die hart ken sy eie bitterheid, en in sy vreugde kan 'n buitestander nie deel nie. Die huis van goddeloses word verdelg, maar die tent van opregtes gedy. Daar is 'n pad wat vir 'n mens reg lyk, maar dit eindig by paaie na die dood. Ook onder gelag kan 'n hart pyn ervaar; die einde van vreugde is verdriet. Van sy eie optrede kry 'n afvallige genoeg, en 'n goeie man kry genoeg van wat oor hom kom. Onkundiges glo elke woord, maar 'n slim mens oorweeg sy voetstappe. 'n Wyse is versigtig en vermy die kwaad, maar 'n dwaas is humeurig en vol selfvertroue. Wie kort van humeur is, begaan 'n sotheid, en iemand met slinkse planne word gehaat. Onverstandiges erf sotheid, maar slim mense dra kennis as hoofbedekking.
Lees Spreuke 14
Deel
Vergelyk Alle Weergawes: Spreuke 14:1-18
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's