SPREUKE 14:1-18
SPREUKE 14:1-18 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die wyses onder vroue bou elkeen haar huis, maar sotheid breek dit eiehandig af. Wie in sy opregtheid die lewenspad loop, het ontsag vir die HERE, maar hy wat op kronkelpaaie gaan, verag Hom. In die mond van 'n sot is daar 'n slaanding vir sy hoogmoed, maar die lippe van wyses beskerm hulle. Waar geen beeste is nie, is die voerkrip leeg; maar groot is die opbrengste deur die krag van 'n bul. 'n Betroubare getuie lieg nie, maar 'n vals getuie ryg leuens uit. 'n Spotter soek wysheid, maar daar is niks; kennis is vir 'n verstandige maklik. Bly weg van 'n dwase man; jy sal nie lippe met kennis leer ken nie. Die wysheid van 'n slim mens is om sy lewenspad te verstaan, maar die sotheid van dwase is bedrog. Sondeskuld maak 'n bespotting van sotte, maar tussen opregtes is daar welwillendheid. Die hart ken sy eie bitterheid, en in sy vreugde kan 'n buitestander nie deel nie. Die huis van goddeloses word verdelg, maar die tent van opregtes gedy. Daar is 'n pad wat vir 'n mens reg lyk, maar dit eindig by paaie na die dood. Ook onder gelag kan 'n hart pyn ervaar; die einde van vreugde is verdriet. Van sy eie optrede kry 'n afvallige genoeg, en 'n goeie man kry genoeg van wat oor hom kom. Onkundiges glo elke woord, maar 'n slim mens oorweeg sy voetstappe. 'n Wyse is versigtig en vermy die kwaad, maar 'n dwaas is humeurig en vol selfvertroue. Wie kort van humeur is, begaan 'n sotheid, en iemand met slinkse planne word gehaat. Onverstandiges erf sotheid, maar slim mense dra kennis as hoofbedekking.
SPREUKE 14:1-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
’n Verstandige vrou bevorder die belange van haar huis. ’n Dwase vrou is self verantwoordelik vir die agteruitgang van haar huis. Die persoon wat opreg lewe, het respek vir die HERE. Die een wat draaie loop, het nie eerbied vir Hom nie. Die verwaande se woorde sny ’n lat vir homself. Die woorde van wyse mense beskerm hulle. As daar nie vee is nie, is die voerkrip wel skoon; maar sonder ’n sterk os is daar ook nie ’n oes nie. ’n Betroubare getuie lieg nie. ’n Vals getuie loop oor van leuens. Al soek ’n spotter na wysheid, sal hy dit nooit kry nie. ’n Verstandige mens versamel maklik kennis. Vermy ’n dwase mens. By hom sal jy niks kan leer nie. Die wysheid van ’n verstandige mens leer hom om sy lewe te verstaan. Die dwaasheid van ’n dwase mens mislei hom. Dwase spot oor skuldoffers. Dié wat opreg lewe, ervaar versoening. Net ’n mens self verstaan die bitterheid in sy hart. Niemand anders kan sy vreugde voluit deel nie. Die goddelose se nageslag sterf almal uit. Die opregtes het ’n groot nageslag. Dit lyk dalk vir iemand of hy die regte ding doen; agterna kom dit uit dat dit na die dood gelei het. Lag kan hartseer wegsteek; as die vrolikheid verby is, bly die verdriet nog agter. ’n Onbetroubare mens kry sy verdiende loon. ’n Goeie mens pluk die vrugte van sy goedheid. ’n Dwaas glo alles wat hy hoor. ’n Verstandige mens oorweeg elke tree wat hy gee. ’n Wyse persoon is versigtig, hy vermy die kwaad. ’n Dom mens is oorverseker en gaan maar net aan sonder om te dink. Iemand wat kort van draad is, doen dom dinge. Almal haat ’n agterbakse mens. ’n Dom mens ly onder sy eie dwaasheid. Verstandige mense word met kennis bekroon.
SPREUKE 14:1-18 Bybel vir almal (ABA)
'n Vrou wat wysheid het, sorg vir haar huisgesin, maar 'n dwase vrou verwoes haar huisgesin. 'n Mens wat eerlik lewe, respekteer en dien die Here, maar 'n mens wat nie eerlik is nie, wys dat hy dink die Here is nie belangrik nie. Wanneer 'n dwaas praat, dan wys hy hoe hoogmoedig hy is, en hy kry straf. Wanneer wyse mense praat, dan is hulle veilig. As iemand nie beeste het nie, dan sal die koring in die krip nie opraak nie, maar as hy een sterk bees het, dan kan hy baie koring op die koringland hê. 'n Getuie wat altyd die waarheid praat, lieg nie, maar 'n vals getuie hou aan om te lieg. Iemand wat altyd spot, sal nie wysheid kry nie, ook nie wanneer hy dit soek nie. 'n Verstandige mens leer maklik nuwe dinge. Jy moet weggaan van 'n dwase mens, jy sal niks by hom leer nie. 'n Slim mens wat wysheid het, weet hoe om te lewe, dwase bedrieg hulleself omdat hulle dwaas is. 'n Mens wat baie dwaas is, spot wanneer hy 'n skuld-offer moet bring, maar eerlike mense wil hê dat God hulle offers moet aanvaar. 'n Mens self weet hoe ongelukkig hy is, net hy weet dit, en niemand anders kan regtig weet hoe bly hy is nie. Die huisgesinne van mense wat verkeerd doen, sterf gou, maar dit gaan goed met die huisgesinne van eerlike mense. Iemand kan dink dat hy reg lewe, maar die manier hoe hy lewe, bring hom by die dood. 'n Mens kan lag, ook wanneer hy hartseer is, maar hy kan ook eers bly wees en dan later huil en treur. Iemand wat verkeerd lewe, sal die straf kry wat hy moet kry, maar 'n goeie mens sal meer kry as wat hy moet kry. Mense wat baie min weet, glo enige iets, 'n slim mens dink goed voordat hy iets doen. 'n Wyse mens is bang vir die dinge wat kan gebeur, en hy doen niks wat dit sleg sal laat gaan met hom nie. 'n Dwaas dink nie wat hy doen nie, hy dink hy sal altyd veilig wees. Iemand wat gou kwaad word, doen dom dinge. Mense haat iemand wat skelm planne maak. Mense wat baie min weet en wat nie wil leer nie, word dwase. Slim mense weet baie, en ander mense sien dit.
SPREUKE 14:1-18 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
DIE wysheid van die vroue bou die huis, maar die sotheid breek dit met eie hande af. Wie in sy opregtheid wandel, vrees die HERE; maar hy wat verkeerd is in sy weë, verag Hom. In die mond van die sot is 'n roede vir sy trots, maar die lippe van die wyse bewaar hulle. Waar geen beeste is nie, is die krip leeg, maar deur die krag van die os is die inkomste baie. 'n Betroubare getuie lieg nie, maar 'n valse getuie strooi leuens uit. Die spotter soek wysheid, en dit is nie daar nie; maar vir die verstandige is kennis maklik. Gaan weg voor 'n dwase man, want jy het daar niks gemerk van die lippe van kennis nie. Die wysheid van die skrandere is om sy weg te verstaan, maar die sotheid van die dwase is bedrog. Die skuldoffer spot met die dwase, maar tussen die opregtes is daar welwillendheid. Die hart ken sy eie verdriet, en in sy blydskap kan 'n ander hom nie meng nie. Die huis van die goddelose word verdelg, maar die tent van die opregtes bloei. Daar is 'n weg wat vir 'n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood. Ook onder gelag kan die hart pyn ly, en die einde van so 'n blydskap is bekommernis. Uit sy eie wandel word die verkeerde van hart versadig, maar die goeie man uit syne. Die eenvoudige glo elke woord, maar die skrandere let op sy voetstappe. Die wyse vrees en wyk af van die kwaad, maar die dwaas bruis op en is vol selfvertroue. Wie kortgebonde is, begaan sotheid; en 'n slinkse man word gehaat. Die eenvoudiges verkry sotheid as 'n erfenis, maar die skranderes word met kennis gekroon.
SPREUKE 14:1-18 Afrikaans 1983 (AFR83)
'n Wyse vrou sorg vir haar huis; 'n vrou sonder wysheid breek alles af. Wie opreg lewe, dien die Here; wie krom paaie loop, het nie eerbied vir die Here nie. Die verwaande woorde van die dwaas bring vir hom straf; die woorde van wyse mense beskerm hulle. As daar nie osse is nie, is die voerkrip leeg; met net een goeie os bring jy 'n groot oes in. 'n Betroubare getuie lieg nie; 'n vals getuie vertel een leuen na die ander. Al soek 'n ligsinnige mens wysheid, hy kry dit nie; 'n verstandige mens doen maklik kennis op. Vermy 'n dwase mens; jy sal nie by hom leer om verstandig te praat nie. Die wysheid van 'n verstandige mens wys vir hom 'n duidelike koers aan; die dwaasheid van 'n dwase mens maak alles vals. Die skuldoffer wat deur dwase gebring word, maak hulle bespotlik; mense wat opreg lewe, geniet die guns van God. Net 'n mens self ken die bitterheid van sy eie gemoed, en ook in sy vreugde kan niemand anders voluit deel nie. Die goddelose en sy nageslag sterf uit; die opregtes het 'n groot nageslag. Daar is 'n lewenswyse wat vir 'n mens reg kan lyk, maar die uiteinde daarvan is die dood. 'n Mens kan lag terwyl hy treur, die uiteinde van vreugde kan kommer wees. 'n Onbetroubare mens kry sy verdiende loon; 'n goeie mens ontvang meer as sy beloning. Wie ervaring kortkom, glo alles wat gesê word; 'n verstandige mens oorweeg elke tree wat hy gee. Wie wysheid het, is versigtig en vermy die kwaad; wie wysheid kortkom, is roekeloos en selfversekerd. Wie kort van draad is, begaan dwaashede; 'n agterbakse mens maak hom gehaat. Mense wat ervaring kortkom, sit met hulle eie dwaasheid; verstandige mense word met kennis bekroon.
SPREUKE 14:1-18 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die wyses onder vroue bou elkeen haar huis, maar sotheid breek dit eiehandig af. Wie in sy opregtheid die lewenspad loop, het ontsag vir die HERE, maar hy wat op kronkelpaaie gaan, verag Hom. In die mond van 'n sot is daar 'n slaanding vir sy hoogmoed, maar die lippe van wyses beskerm hulle. Waar geen beeste is nie, is die voerkrip leeg; maar groot is die opbrengste deur die krag van 'n bul. 'n Betroubare getuie lieg nie, maar 'n vals getuie ryg leuens uit. 'n Spotter soek wysheid, maar daar is niks; kennis is vir 'n verstandige maklik. Bly weg van 'n dwase man; jy sal nie lippe met kennis leer ken nie. Die wysheid van 'n slim mens is om sy lewenspad te verstaan, maar die sotheid van dwase is bedrog. Sondeskuld maak 'n bespotting van sotte, maar tussen opregtes is daar welwillendheid. Die hart ken sy eie bitterheid, en in sy vreugde kan 'n buitestander nie deel nie. Die huis van goddeloses word verdelg, maar die tent van opregtes gedy. Daar is 'n pad wat vir 'n mens reg lyk, maar dit eindig by paaie na die dood. Ook onder gelag kan 'n hart pyn ervaar; die einde van vreugde is verdriet. Van sy eie optrede kry 'n afvallige genoeg, en 'n goeie man kry genoeg van wat oor hom kom. Onkundiges glo elke woord, maar 'n slim mens oorweeg sy voetstappe. 'n Wyse is versigtig en vermy die kwaad, maar 'n dwaas is humeurig en vol selfvertroue. Wie kort van humeur is, begaan 'n sotheid, en iemand met slinkse planne word gehaat. Onverstandiges erf sotheid, maar slim mense dra kennis as hoofbedekking.
SPREUKE 14:1-18 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Elke wyse vrou bou haar huis, maar die dwaas pluk dit met haar hande af. Hy wat in sy opregtheid wandel, vrees die HERE; maar hy wat verkeerd is in sy weë, verag Hom. In die mond van die dwase is 'n roede van trots, maar die lippe van die wyse sal hulle bewaar. Waar geen osse is nie, is die krip rein; 'n Betroubare getuie lieg nie, maar 'n valse getuie spreek leuens uit. 'n Spotter soek wysheid en vind dit nie, maar kennis is maklik vir die verstandige. Gaan weg van die aangesig van 'n dwase man, as jy die lippe van kennis in hom nie sien nie. Die wysheid van die verstandige is om sy weg te verstaan, maar die sotheid van die dwase is bedrog. Dwase spot met sonde, maar onder die regverdiges is guns. Die hart ken sy eie bitterheid; en 'n vreemdeling meng hom nie met sy blydskap nie. Die huis van die goddelose sal omvergewerp word, maar die tabernakel van die opregtes sal bloei. Daar is 'n weg wat vir 'n mens reg lyk, maar die einde daarvan is die weë van die dood. Selfs in die lag is die hart bedroef; en die einde van daardie vreugde is swaar. Die afvallige van hart word versadig met sy eie weë, en 'n goeie man word versadig van homself. Die eenvoudige glo elke woord, maar die verstandige mens kyk goed na sy wandel. 'n Wyse man vrees en wyk af van die kwaad, maar die dwaas is woedend en vol vertroue. Hy wat gou toornig is, handel dwaas, en 'n man met goddelose planne word gehaat. Die eenvoudiges beërf dwaasheid, maar die verstandiges word met kennis gekroon.
SPREUKE 14:1-18 Die Boodskap (DB)
’n Mooi lewe kan deur dom optrede vernietig word. Dis soos Wysheid wat ’n mooi huis met moeite bou. Dan kom Dwaasheid en breek dit af. Wie wys leef, het die Here reg lief. Mense wat heeltyd die verkeerde dinge doen, het Hom verwerp. ’n Kletskous praat maklik sy mond verby. Sy woorde bring hom tot ’n val. ’n Wyse is versigtig met sy woorde. Dit hou hom uit die moeilikheid. Sonder diere is jy arm. Met min diere kan jy al ’n lewe maak. ’n Betroubare mens se woord kan jy glo. Glibberige mense blaker leuens uit. ’n Dom mens soek tevergeefs na wysheid. Hy weet nie eens waar om te begin nie. ’n Gelowige weet hoe om gelukkig te leef. Hy weet waar om wysheid te vind. Bly uit ’n dwaas se pad. Hy weet nie hoe om reg te leef nie. Luister eerder na iemand wat die lewe ken. Iemand is wys wanneer hy die lewe wil verstaan. Dwases het geen wysheid nie. Hulle leefstyl wys hoe dom hulle is. ’n Ongelowige voel oor niks skuldig nie. ’n Gelowige geniet God se guns. Elke mens het sy eie swaarkry. Niemand weet daarvan nie. Vreemdes weet ook nie wat hom bly maak nie. Op die oog af kan iemand baie suksesvol wees. Maar uiteindelik eindig alles in ellende. Selfs in iemand se lag word pyn gehoor. Blydskap kan ook in smart verander. ’n Slegte mens word aan die gang gehou deur sy slegte woorde en dade. ’n Gelowige pluk die vrug van die regte manier van lewe. ’n Dom mens weet nie wat reg of verkeerd is nie. Hy glo sommer enige ding. ’n Gelowige toets alles wat hy hoor. Hy let ook fyn op sy manier van lewe. ’n Gelowige let noukeurig op sy gedrag. Hy bly weg van verkeerde dinge af. ’n Dwaas gooi maklik alles waarin hy glo oorboord. ’n Humeurige mens doen en sê die verkeerdste dinge. ’n Glibberige mens en sy slinkse plannetjies word gehaat. ’n Mens wat nie weet hoe om reg te leef nie, se lewe is leeg. Lewenswysheid maak jou gelukkig.