Spreuke 13:1-25

Spreuke 13:1-25 AFR20

'n Wyse seun aanvaar die vermaning van 'n vader, maar 'n spotter gee nie gehoor aan 'n dreigement nie. Van die vrug van iemand se mond kan hy iets goeds eet, maar verraderlike mense het 'n begeerte na geweld. Wie sy mond bewaak, beskerm sy lewe; wie sy lippe wyd oopmaak, vir hom wag daar ondergang. 'n Luiaard – sy keel begeer, en daar is niks, maar die keel van vlytiges geniet oorvloed. In vals woorde het 'n regverdige 'n weersin, maar 'n goddelose gedra hom stink en tree skandelik op. Geregtigheid bewaak 'n onberispelike leefwyse, maar goddeloosheid werp 'n sondaar omver. Daar is iemand wat hom ryk voordoen, maar heeltemal niks het nie, en iemand wat hom arm voordoen, maar baie besittings het. Die losprys vir die lewe van 'n man is sy rykdom, maar 'n arme hoor nie sulke dreigemente nie. Die lig van regverdiges straal vreugde uit, maar die lamp van goddeloses word uitgedoof. Verwaandheid gee net rusie af, maar by hulle wat raad aanvaar, is daar wysheid. Besittings wat moeiteloos verkry word, sal verminder, maar wie met die hand bymekaarmaak, vermeerder dit. Onvervulde hoop maak die hart siek, maar 'n vervulde wens is 'n boom van lewe. Wie 'n opdrag met minagting bejeën – van hom word 'n pand geneem, maar wie 'n bevel eerbiedig, hy sal vergoed word. Die onderrig van 'n wyse is 'n bron van lewe, sodat die vangstrikke van die dood vermy kan word. Goeie begrip wen guns, maar die pad van verraderlike mense is onveranderlik. Elke slim mens tree met oorleg op, maar 'n dwaas sprei sy sotheid oop. 'n Goddelose boodskapper stort self in die ongeluk, maar 'n betroubare gesant is 'n gerusstelling. Armoede en skande lê voor vir wie vermaning in die wind slaan, maar wie op teregwysing ag slaan, word geëer. 'n Wens wat waar word, is soet vir die siel, maar dit is afstootlik vir dwase om van die kwaad weg te bly. Wie met wyses saamgaan, sal wys word, maar wie met dwase meng, word benadeel. Onheil agtervolg sondaars, maar regverdiges word deur die goeie beloon. 'n Goeie mens laat sy kleinkinders erf, maar 'n sondaar se eiendom word vir 'n regverdige weggebêre. Oorvloedige kos is op die braakland van armes, maar dit word weggedra deur onreg. Wie sy lat terughou, haat sy seun, maar wie hom liefhet, hou hom in die oog vir straf. 'n Regverdige eet tot sy honger gestil is, maar die maag van goddeloses bly leeg.

Video vir Spreuke 13:1-25

Gratis leesplanne en oordenkings oor Spreuke 13:1-25