SPREUKE 13:1-25

SPREUKE 13:1-25 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

'n Wyse seun aanvaar die vermaning van 'n vader, maar 'n spotter gee nie gehoor aan 'n dreigement nie. Van die vrug van iemand se mond kan hy iets goeds eet, maar verraderlike mense het 'n begeerte na geweld. Wie sy mond bewaak, beskerm sy lewe; wie sy lippe wyd oopmaak, vir hom wag daar ondergang. 'n Luiaard – sy keel begeer, en daar is niks, maar die keel van vlytiges geniet oorvloed. In vals woorde het 'n regverdige 'n weersin, maar 'n goddelose gedra hom stink en tree skandelik op. Geregtigheid bewaak 'n onberispelike leefwyse, maar goddeloosheid werp 'n sondaar omver. Daar is iemand wat hom ryk voordoen, maar heeltemal niks het nie, en iemand wat hom arm voordoen, maar baie besittings het. Die losprys vir die lewe van 'n man is sy rykdom, maar 'n arme hoor nie sulke dreigemente nie. Die lig van regverdiges straal vreugde uit, maar die lamp van goddeloses word uitgedoof. Verwaandheid gee net rusie af, maar by hulle wat raad aanvaar, is daar wysheid. Besittings wat moeiteloos verkry word, sal verminder, maar wie met die hand bymekaarmaak, vermeerder dit. Onvervulde hoop maak die hart siek, maar 'n vervulde wens is 'n boom van lewe. Wie 'n opdrag met minagting bejeën – van hom word 'n pand geneem, maar wie 'n bevel eerbiedig, hy sal vergoed word. Die onderrig van 'n wyse is 'n bron van lewe, sodat die vangstrikke van die dood vermy kan word. Goeie begrip wen guns, maar die pad van verraderlike mense is onveranderlik. Elke slim mens tree met oorleg op, maar 'n dwaas sprei sy sotheid oop. 'n Goddelose boodskapper stort self in die ongeluk, maar 'n betroubare gesant is 'n gerusstelling. Armoede en skande lê voor vir wie vermaning in die wind slaan, maar wie op teregwysing ag slaan, word geëer. 'n Wens wat waar word, is soet vir die siel, maar dit is afstootlik vir dwase om van die kwaad weg te bly. Wie met wyses saamgaan, sal wys word, maar wie met dwase meng, word benadeel. Onheil agtervolg sondaars, maar regverdiges word deur die goeie beloon. 'n Goeie mens laat sy kleinkinders erf, maar 'n sondaar se eiendom word vir 'n regverdige weggebêre. Oorvloedige kos is op die braakland van armes, maar dit word weggedra deur onreg. Wie sy lat terughou, haat sy seun, maar wie hom liefhet, hou hom in die oog vir straf. 'n Regverdige eet tot sy honger gestil is, maar die maag van goddeloses bly leeg.

SPREUKE 13:1-25 Bybel vir almal (ABA)

'n Kind wat wysheid het, luister wanneer sy pa vir hom leer, maar iemand wat altyd wil spot, luister nie wanneer sy pa met hom raas nie. Wanneer 'n mens die regte dinge sê, dan sal hy goeie dinge kry, maar mense wat ontrou is, wil altyd ander mense seermaak en doodmaak. As 'n mens versigtig is wanneer hy iets sê, dan sal hy aanhou lewe, maar 'n mens wat te veel praat, sal sterf. 'n Lui mens word honger en hy kry niks om te eet nie, maar mense wat fluks werk, kry meer as genoeg om te eet. 'n Mens wat reg lewe, haat leuens, maar die mens wat verkeerd doen, sê dinge waaroor almal skaam word. Iemand wat heeltemal reg lewe, is veilig omdat hy reg doen, maar 'n sondaar sterf omdat hy verkeerd doen. Party mense maak of hulle ryk is, maar hulle het niks, party mense maak of hulle arm is, maar hulle het baie. Wanneer iemand ryk is, dan moet hy homself miskien loskoop, maar niemand sê dat 'n arm mens iets moet betaal nie. Die lig van mense wat reg lewe, skyn vrolik, maar die lamp van mense wat verkeerd doen, gaan dood. 'n Hoogmoedige mens wil altyd twis. Iemand wat wysheid het, luister wanneer ander mense vir hom sê wat om te doen. Iemand wat skielik ryk geword het, word gou weer arm, iemand wat stadig en versigtig goed bymekaarmaak, word ryker en ryker. 'n Mens word moedeloos wanneer hy nie kry wat hy graag wil hê nie, maar hy is weer lus om te lewe wanneer hy kry wat hy wil hê. Wanneer 'n persoon nie wil doen wat 'n wyse mens vir hom leer nie, dan sal hy arm word en hy sal iemand se slaaf moet word, maar wanneer hy doen wat 'n wyse mens vir hom sê, dan sal hy 'n beloning kry. Die dinge wat 'n wyse mens vir jou leer, laat jou lewe, dit keer sodat die dood jou nie in sy vangstrik vang nie. Mense sal van jou hou as jy verstandig is, mense wat ontrou is, se planne sal nie slaag nie. Elke slim mens weet hoe om dinge te doen, maar 'n dwaas hou aan om te wys hoe dom hy is. Dit sal sleg gaan met 'n boodskapper wat 'n verkeerde boodskap bring, maar 'n mens wat sy boodskap reg bring, laat dit beter gaan met mense. 'n Mens wat nie wil doen wat 'n wyse mens vir hom leer nie, word arm, en niemand respekteer hom nie, maar mense respekteer iemand wat onthou wat 'n wyse mens vir hom sê. Dit is lekker om iets te kry wat jy graag wil hê. Dwase haat dit om op te hou om slegte dinge te doen. Wanneer jy saam met wyse mense lewe, dan kry jy self wysheid, wanneer jy vir dwase mense wil sorg, dan word jy ook sleg. Dit gaan altyd sleg met sondaars, maar dit gaan goed met mense wat reg lewe. 'n Goeie mens se kleinkinders kry sy goed wanneer hy sterf, maar die rykdom wat 'n sondaar bêre, gaan na iemand anders. Iemand wat reg lewe, kry dit. Wanneer arm mense hulle koringlande die eerste maal geploeg het, dan sal daar baie kos vir hulle op die lande wees, maar hulle verloor al die kos wanneer ander mense nie reg wil doen aan hulle nie. Wanneer iemand nie sy kind straf nie, dan is hy nie lief vir sy kind nie, as hy lief is vir sy kind, dan sal hy vir die kind reg leer. Mense wat reg lewe, het meer as genoeg kos om te eet, mense wat verkeerd doen, bly altyd honger.

SPREUKE 13:1-25 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

'N WYSE seun luister na die tug van die vader, maar 'n spotter hoor nie na berisping nie. Van die vrug van iemand se mond eet hy die goeie, maar die begeerte van die ontroues is 'n daad van geweld. Wie sy mond bewaak, bewaar sy lewe; wie sy lippe wyd oopmaak, vir hom is daar ondergang. Die siel van die luiaard begeer, en daar is niks nie, maar die siel van die vlytiges word versadig. Die regverdige haat leuentaal, maar die goddelose maak gehaat en handel skandelik. Geregtigheid bewaar die regskapene van wandel, maar goddeloosheid bring die sondaar tot 'n val. Daar is een wat hom ryk hou, en hy het glad niks nie; een wat hom arm hou, en hy het baie goed. Die losprys vir die lewe van 'n man is sy rykdom, maar die arme hoor geen dreigement nie. Die lig van die regverdige brand vrolik, maar die lamp van die goddelose gaan dood. Vermetelheid gee net getwis af; maar by die wat hulle laat raai, is wysheid. Goed wat uit niks verkry is, word minder; maar hy wat met die hand bymekaarmaak, kry altyd meer. 'n Uitgestelde hoop maak die hart siek; maar 'n wens wat uitkom, is 'n lewensboom. Wie die Woord verag, moet dit ontgelde; maar hy wat die gebod vrees, ontvang vergelding. Die onderrig van die wyse is 'n fontein van die lewe, om die strikke van die dood te ontwyk. 'n Goeie verstand verskaf guns, maar die weg van die ontroues is hard. Elke skrandere handel met kennis, maar die dwaas strooi sotheid rond. 'n Goddelose boodskapper val in die ongeluk, maar 'n betroubare boodskapper is 'n gerusstelling. Armoede en skande is vir hom wat die tug verwerp; maar hy wat die teregwysing in ag neem, word geëer. 'n Vervulde wens is soet vir die siel, maar om af te wyk van die kwaad, is 'n gruwel vir die dwase. Gaan met die wyse om, dan word jy wys; maar hy wat met dwase verkeer, versleg. Die onheil vervolg die sondaars, maar Hy sal die regverdiges met goed vergelde. 'n Goeie mens laat sy kindskinders erwe, maar die vermoë van die sondaar word vir die regverdige weggebêre. Die braakland van die armes lewer oorvloedig spys op, maar daar is wat deur ongeregtigheid verlore gaan. Wie sy roede terughou, haat sy seun; maar hy wat hom liefhet, besoek hom met tugtiging. Die regverdige eet totdat hy versadig is; maar die maag van die goddelose ly gebrek.

SPREUKE 13:1-25 Afrikaans 1983 (AFR83)

'n Wyse seun laat hom leer deur sy vader, 'n ligsinnige slaan nie eens op dreigemente ag nie. 'n Mens kan voorspoedig word deur altyd die regte woorde te gebruik; onbetroubare mense is net uit op geweld. Wie sy mond in bedwang hou, behou sy lewe; wie sy mond nie kan hou nie, gaan sy ondergang tegemoet. Die luiaard se honger word nie gestil nie; hardwerkende mense het meer as genoeg om te eet. Die regverdige haat leuens; die goddelose maak hom gehaat en veragtelik. Die opregte bly behoue deur sy gehoorsaamheid aan die Here; ongehoorsaamheid laat die sondaar te gronde gaan. Party mense hou hulle ryk maar het niks nie; party doen hulle arm voor maar besit baie. Met sy rykdom moet 'n ryk man hom soms loskoop; 'n arm man kom nie in so 'n gevaar nie. Die lewe van die regverdiges is vol vreugde; die lewenslig van die goddeloses word uitgedoof. Selfverheffing lei altyd tot twis; dié wat goeie raad aanneem, het wysheid. Rykdom wat sommerso gekom het, verminder maklik; wie bietjie vir bietjie bymekaarmaak, word ryk. 'n Verwagting wat nie uitkom nie, maak 'n mens mismoedig; 'n begeerte wat vervul word, bring nuwe lewe. Wie hom nie aan die woorde van die Here steur nie, sal die gevolge dra; wie eerbied het vir sy gebooie, sal die goeie vrugte pluk. Wat wyse mense jou leer, is 'n bron van lewe; dit laat jou die strikke van die dood vermy. Iemand wat goeie insig het, geniet goedgesindheid; die pad van onbetroubare mense lei tot vernietiging. Alles wat 'n verstandige mens doen, word met kennis gedoen; wie nie wysheid het nie, begaan een dwaasheid na die ander. 'n Onbetroubare boodskapper kom in die moeilikheid; 'n gesant op wie jy kan staatmaak, stel sake weer reg. Armoede en vernedering wag vir iemand wat hom nie wil laat leer nie, wie 'n teregwysing ter harte neem, word geëer. 'n Begeerte wat vervul is, bring vreugde. Dwase het 'n afkeer daarvan om kwaad te vermy. Wie met wyse mense omgaan, kry self wysheid; wie hom met dwase ophou, word self sleg. Teenspoed volg die sondaars op hulle pad; die regverdige word met voorspoed vergoed. 'n Goeie mens laat 'n erfenis na ook vir sy kleinkinders; die besittings van die sondaar kom in die hande van die regverdige. Grond wat die eerste keer geploeg is, lewer genoeg kos vir die armes, maar waar daar nie wet en orde is nie, word die kos van hulle af weggevat. Wie sy seun nie straf nie, het hom nie lief nie; as hy hom liefhet, sal hy hom straf wanneer dit nodig is. Die regverdige het meer as genoeg om te eet; goddelose mense bly honger.

SPREUKE 13:1-25 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

'n Wyse seun luister na die tug van sy vader, maar 'n spotter hoor nie teregwysing nie. 'n Mens sal goed eet uit die vrug van sy mond, maar die siel van die oortreders sal geweld eet. Hy wat sy mond bewaar, bewaar sy lewe; maar hy wat sy lippe wyd oopmaak, sal vernietiging hê. Die siel van die luiaard begeer en het niks nie, maar die siel van die vlytiges sal vet word. 'n Regverdige man haat leuens, maar 'n goddelose is 'n gruwel en kom tot skande. Geregtigheid bewaar hom wat op die pad opreg is, maar goddeloosheid vernietig die sondaar. Daar is wat homself ryk maak, maar niks het nie; daar is wat homself arm maak, maar tog groot rykdom het. Die losprys van 'n man se lewe is sy rykdom, maar die arme luister nie na teregwysing nie. Die lig van die regverdiges is bly, maar die lamp van die goddelose gaan dood. Alleenlik deur hoogmoed kom twis, maar by die wat goed ingelig is, is wysheid. Rykdom wat deur nietigheid verkry is, sal verminder word, maar hy wat deur arbeid insamel, sal vermeerder. Uitgestelde hoop maak die hart siek, maar as die begeerte kom, is dit 'n boom van die lewe. Wie die woord verag, sal vernietig word; maar hy wat die gebod vrees, sal beloon word. Die wet van die wyse is 'n fontein van die lewe, om van die strikke van die dood af te wyk. Goeie insig gee guns, maar die weg van oortreders is hard. Elke skrandere handel met kennis, maar 'n dwaas maak sy dwaasheid oop. 'n Bose boodskapper verval in onheil, maar 'n getroue boodskapper is gesondheid. Armoede en skaamte is vir hom wat die tug verwerp, maar hy wat teregwysing ag, sal geëer word. Die begeerte wat vervul word, is soet vir die siel, maar dit is 'n gruwel vir die dwase om van die kwaad af te wyk. Hy wat met wyse mense wandel, sal wys wees, maar 'n metgesel van dwase sal vernietig word. Kwaad jaag sondaars na, maar aan die regverdige sal goed vergeld word. 'n Goeie mens laat 'n erfdeel aan sy kindskinders na, en die rykdom van die sondaar word weggelê vir die regverdige. Baie voedsel is in die bewerking van die armes, maar daar is wat vernietig word weens gebrek aan oordeel. Hy wat sy roede spaar, haat sy seun; maar hy wat hom liefhet, tugtig hom betyds. Die regverdige eet tot versadiging van sy siel, maar die maag van die goddelose sal gebrek hê.

SPREUKE 13:1-25 Die Boodskap (DB)

’n Slim jongmens vergeet nie sy ouers se opvoeding nie. ’n Domme laat hom deur niemand leer nie, selfs al dreig jy hom. ’n Gelowige se woorde kan baie vir ander mense beteken. Hy trek self ook voordeel daaruit. Slegte mense kan nie genoeg van geweld kry nie. Hy wat sy mond kan hou, bly uit die moeilikheid uit. ’n Kletskous praat maklik sy mond verby en beland in groot moeilikheid. ’n Luiaard smag na baie dinge, maar hy kry niks daarvan nie. Iemand wat hard werk, het kos en klere. Hy het oorgenoeg om van te leef. ’n Gelowige haat alles wat sleg is. ’n Slegte mens tree walglik op. Sy lewe stink van al die vieslikhede. Die regte manier van leef beskerm die gelowige teen verkeerde dinge. Sonde vernietig ’n booswig se lewe heeltemal. Baie mense maak asof hulle ryk is. Eintlik is hulle brandarm. Ander leef nederig terwyl hulle baie geld in die bank het. Rykdom help baie. As jy geld dringend nodig het, is dit beskikbaar. Armoede is sleg, want dit maak die arme weerloos. Hy is altyd aan ander se genade uitgelewer. ’n Gelowige se vreugde skyn soos ’n helder lig wat almal kan sien. Ongelowiges se bietjie blydskap verdwyn in die sand. Dit is soos ’n lamp wat al hoe dowwer brand. Mense wat altyd beter weet, beland maklik in rusies. Gelowiges luister graag na ander en neem hulle standpunte in ag. Kitsrykdom sonder harde werk hou nie lank nie. Wie bietjie vir bietjie spaar, word ryk. Drome wat nie waar word nie, bring hartseer. ’n Wens wat waar word, maak die lewe die moeite werd. Wie die Here se woord verwerp, vernietig homself. Wie dit sy eie maak, is ’n gelukkige mens. Mense wat die lewe ken, kan jou baie leer. Hulle lewenswysheid is ’n onuitputlike bron van kennis. Wie dit sy eie maak, word baie ellende gespaar. Lewenswysheid maak dat almal van jou hou. Ongelowiges gaan onder. ’n Slim mens dink voordat hy iets doen. ’n Dom mens weet nie wat hy doen nie. Almal sien en hoor hoe dwaas hy is. ’n Slegte boodskapper vergeet maklik wat hy moet sê. Mense word dan baie kwaad vir hom. ’n Goeie boodskapper se woorde maak mense gelukkig. Wie hom nie steur aan die voorskrifte vir ’n gelukkige lewe nie, word gou arm. Skande op skande is sy lot. Diegene wat na goeie raad luister, word deur ander gerespekteer. Dit is lekker as ons ons ideale bereik. Slegte mense bereik niks nie, want hulle sukkel om hulle verkeerde dade te los. Wie dikwels in die geselskap van gelowiges is, leer self ook met die tyd om reg op te tree. Wie altyd net met ligsinniges en ongelowiges meng se lewe is leeg. Mense wat die Here verwerp se lewe is hel. Gelowiges ervaar intense geluk en voorspoed. Iemand wat verstandig met sy geld werk se kleinkinders sal nog eendag daarvan erf. Selfs goddeloses se geld beland dikwels in die hande van gelowiges. Arm mense se grond lewer genoeg op dat hulle kan eet. Maar as wet en orde nie gehandhaaf word nie, verloor hulle selfs die bietjie wat hulle het. Wie nooit met sy kinders raas nie, het hulle nie werklik lief nie. Iemand wat sy kinders regtig liefhet, sal hulle kortvat as dit nodig is. ’n Gelowige het genoeg om van te leef. Ongelowiges ly gebrek.

SPREUKE 13:1-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

’n Wyse seun laat sy pa toe om hom reg te help. Een wat met alles spot, steur hom nie eens aan dreigemente nie. Wat ’n mens sê, kan goeie dinge vir jou bring. Hulle wat afvallig is, soek net na geweld. Iemand wat op sy woorde let, bewaar sy lewe. ’n Eindelose gepratery kan alles ruïneer. Luiaards begeer baie dinge, maar hulle kry dit nie. Mense wat hard werk, kry alles wat hulle begeer. Regverdige mense haat leuens. Goddelose mense bring skade en skande oor hulleself. Geregtigheid bewaar dié wat onberispelik lewe. Goddeloosheid vernietig die sondaar. Sommige mense gee voor hulle is ryk, maar hulle het eintlik niks nie. Ander maak of hulle arm is, maar intussen besit hulle baie. Die ryk man het geld om homself mee los te koop. Die arm man kan nooit afgedreig word nie. Die lewe van die regverdiges is vol vreugde. Die lewenslig van goddeloses word uitgedoof. Selfvoldaanheid lei altyd tot rusies. Hulle wat na ander luister, het wysheid. Rykdom wat maklik kom, verdwyn net so maklik. Wie bietjie vir bietjie bymekaarmaak, het naderhand baie. Verwagtings wat nie realiseer nie, lei tot mismoedigheid. ’n Begeerte wat vervul word, is soos ’n boom wat lewe gee. Hy wat hom nie steur aan raad nie, soek na moeilikheid. Hy wat hom aan die reëls steur, sal die goeie vrugte daarvan pluk. Die raad wat wyse mense gee, is soos ’n fontein met water wat lewe gee; as jy dit volg, ontsnap jy die lokvalle van die dood. Mense het respek vir iemand wat goeie insig het. ’n Onbetroubare mens loop ’n pad van vernietiging. ’n Verstandige mens dink voor hy iets doen. Dwase mense verkondig hulle dwaasheid aan die wêreld. ’n Onbetroubare boodskapper kry moeilikheid. ’n Gesant wat jy kan vertrou, bring voorspoed. Hy wat hom nie wil laat reghelp nie, beland in armoede en vernedering. Hy wat ’n teregwysing ter harte neem, ontvang eer. Begeertes wat vervul word, bring vreugde; dwase mense het ’n afkeer daaraan om kwaad te vermy. Hy wat met wyse mense meng, verkry self ook wysheid. Meng jou met dwase en jy word self soos hulle. Teëspoed lê op die hakke van die sondaars. Die regverdiges word met voorspoed beloon. ’n Goeie mens laat iets na vir kleinkinders. ’n Sondaar se besittings beland by die regverdiges. Wanneer armes se grond bewerk is, gee dit genoeg kos vir hulle; maar deur onreg word die kos van hulle af weggevat. Hy wat sy seun nie dissipline leer nie, het hom nie regtig lief nie. As hy hom liefhet, sal hy hom dissiplineer. Die regverdige mens het oorgenoeg om te eet. Goddelose mense bly altyd honger.