Filippense 4:1-23

Filippense 4:1-23 AFR20

Daarom, my broers, julle vir wie ek lief is, en na wie ek verlang, my vreugde en my kroon – geliefdes, staan dan só vas in die Here. Ek vermaan Euodia en ek vermaan Sintige om in die Here eensgesind te wees. Ja, ek vra jou ook, getroue medewerker, help hierdie vroue. Hulle het saam met my vir die saak van die evangelie gestry, ook saam met Klemens en my ander medewerkers wie se name in die boekrol van die lewe staan. Verbly julle altyd in die Here! Ek herhaal: Verbly julle! Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word. Die Here is naby. Moet oor niks bekommerd wees nie, maar maak in alles julle versoeke deur gebed en smeking met danksegging aan God bekend. En die vrede van God, wat alle begrip oortref, sal in •Christus Jesus oor julle harte en gedagtes waak. Verder, broers, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat lof verdien, ja, watter deug of watter prysenswaardige saak daar ook mag wees: rig julle gedagtes daarop. Wat julle van my geleer en ontvang en gehoor en in my gesien het: hou aan om dit te doen. En die God van vrede sal met julle wees. Ek is in die Here besonder bly dat julle nou uiteindelik opnuut aan my gedink het. Eintlik het julle wel aan my gedink, maar julle het net nie die geleentheid daarvoor gehad nie. Ek sê dit nie omdat ek gebrek ly nie, want ek het geleer om in alle omstandighede tevrede te wees. Ek weet wat dit is om te min te hê, en ek weet wat dit is om oorvloed te hê; ek is in elke opsig in al hierdie dinge ingewy: om versadig te wees, sowel as om honger te ly; om oorvloed te hê, sowel as om gebrek te ly. Tot dit alles is ek in staat deur Hom wat my krag gee. Nogtans was dit goed van julle om in my swaarkry te deel. Julle weet ook, Filippense, dat aan die begin van my evangelieverkondiging, toe ek van Macedonië vertrek het, geen •gemeente tot my rekening van inkomste en uitgawes bygedra het nie, behalwe slegs julle. Ook in Thessalonika het julle meer as een maal iets vir my behoeftes gestuur. Dit is nie dat ek van julle 'n bydrae verlang nie; ek verlang eerder dat die opbrengs op julle belegging toenemend sal groei. Ek is ten volle vergoed, en het meer as genoeg; ek is ten volle versorg, noudat ek van Epafroditus ontvang het wat van julle af kom: 'n geurige offer, 'n aanneemlike offergawe wat God behaag. En my God sal ruimskoots in al julle behoeftes voorsien, in ooreenstemming met sy heerlike rykdom in •Christus Jesus. Aan ons God en Vader kom die heerlikheid toe vir ewig en ewig! •Amen. Groet elke heilige in Christus Jesus. Die broers wat hier by my is, stuur vir julle groete. Al die •heiliges, veral dié van die keiser se huishouding, stuur vir julle groete. Die genade van die Here Jesus •Christus bly met julle gees!

Video vir Filippense 4:1-23