FILIPPENSE 4:1-23

FILIPPENSE 4:1-23 Bybel vir almal (ABA)

My vriende, ek is baie lief vir julle en ek verlang na julle. Julle maak my bly en ek is baie trots op julle. Ek wil hê julle moet aanhou glo in die Here. Euodia en Sintige, ek vra vir julle om saam te werk, want julle altwee behoort aan die Here. En jy wat altyd saam met my werk, ek vra ook vir jou om hierdie twee vroue te help. Hulle het altwee hard saam met my gewerk om vir ander mense die goeie boodskap te bring, soos Klemens en my ander helpers ook gedoen het. Hulle name is almal geskryf in die boek van die lewe. Julle behoort aan die Here. Daarom moet julle altyd bly wees! Ek sê dit weer, julle moet bly wees! Julle moet vriendelik en geduldig wees met al die mense, want die Here sal gou weer kom! Julle moenie bekommerd wees nie. Julle moet ernstig bid tot God, julle moet vir Hom sê wat julle nodig het en julle moet vir Hom dankie sê daarvoor. Julle behoort aan Christus Jesus. Daarom sal God vir julle vrede gee, vrede wat baie beter is as enige iets waaraan mense kan dink, vrede wat die dinge beskerm wat julle dink. Vriende, ek wil vir julle nog iets sê. Julle moet altyd dink aan die dinge wat waar is, wat mooi is, wat reg is, wat rein is, wat pragtig en goed is. Ja, julle moet dink aan alles wat mooi is, alles waarop 'n mens trots kan wees. Julle het geleer en gehoor en gesien hoe ek lewe. Julle moet dieselfde doen, dan sal God wat vrede gee, by julle wees. Die Here het my baie bly laat word toe julle nou weer begin wys het dat julle aan my dink. Ek weet julle het voorheen ook aan my gedink, maar julle kon dit nie wys nie. Ek sê dit nie omdat ek te min het nie. Ek het geleer om tevrede te wees met dit wat ek het. In my lewe het baie dinge met my gebeur. Partymaal het ek te min gehad en partymaal het ek baie gehad, en so het ek geleer om tevrede te wees. Partymaal het ek genoeg gehad om te eet en partymaal was ek honger. Ja, partymaal het ek baie gehad en partymaal het ek te min gehad. Christus gee vir my die krag om enige iets te doen, maar julle het die regte ding gedoen toe julle my gehelp het toe ek swaargekry het. Gemeente van Filippi, nadat ek weggegaan het uit die provinsie Masedonië en begin het om die goeie boodskap te bring, het ander gemeentes nie vir my gesorg nie. Julle weet dat net julle vir my gesorg het. Julle het ook 'n paar maal vir my die dinge gestuur wat ek nodig gehad het toe ek in die stad Tessalonika was. Maar dit is nie vir my belangrik dat ek iets van julle ontvang nie. Dit is vir my belangrik dat julle die seën moet ontvang wat mense kry wanneer hulle vir ander mense iets gee. Ek het alles gekry wat julle gestuur het en ek het nou genoeg. Epafroditos het vir my die goed gebring wat julle gestuur het, en nou het ek genoeg. Dit wat julle gestuur het, is 'n offer wat julle vir God gegee het, 'n offer wat Hy graag wil hê, 'n offer waarvan Hy baie hou. My God sal vir julle alles gee wat julle nodig het, want Hy het baie wonderlike dinge wat Hy vir ons wil gee, dinge wat van Christus Jesus kom. Ons prys God, ons Vader, altyd en altyd! Amen. Ek stuur groete vir al die gelowiges in die stad Filippi wat aan Christus Jesus behoort. Al die vriende hier by my stuur ook groete vir julle. Al die gelowiges hier stuur ook groete vir julle. Die mense wat vir die keiser werk, stuur spesiale groete. Ek bid dat die Here Jesus Christus genadig sal wees vir julle almal.

FILIPPENSE 4:1-23 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

DAAROM, my geliefde broeders, na wie ek ook verlang, my blydskap en kroon, staan so vas in die Here, geliefdes. Ek vermaan Euódia en ek vermaan Síntiché om eensgesind te wees in die Here. En ek vra jou ook, opregte metgesel, wees hierdie vroue behulpsaam wat met my saam gestry het in die evangelie, ook saam met Clemens en my ander mede-arbeiders wie se name in die boek van die lewe is. Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle! Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word. Die Here is naby. Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus. Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is — watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit. En wat julle geleer en ontvang en gehoor en in my gesien het, doen dit, en die God van vrede sal met julle wees. EK het my grootliks verbly in die Here dat julle nou eindelik weer opgeleef het om aan my belange te dink; waaraan julle ook gedink het, maar julle het die geleentheid nie gehad nie. Nie dat ek dit uit gebrek sê nie, want ek het geleer om vergenoeg te wees met die omstandighede waarin ek is. Ek weet om verneder te word, ek weet ook om oorvloed te hê; in elke opsig en in alle dinge is ek onderrig: om versadig te word sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly. Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee. Nogtans het julle goed gedoen toe julle deel gehad het in my verdrukking. En julle, Filippense, weet ook dat in die begin van die evangelie, toe ek van Macedónië vertrek het, geen gemeente deel gehad het in my rekening van uitgawe en inkomste nie, behalwe julle alleen. Want ook in Thessaloníka het julle vir my behoefte meer as een maal iets gestuur. Nie dat ek die gawe soek nie, maar ek soek die vrug wat oorvloedig word op julle rekening. Maar ek het alles ontvang, en ek het oorvloed. Ek het dit volop noudat ek van Epafrodítus ontvang het wat deur julle gestuur is, 'n lieflike geur, 'n welgevallige offer, welbehaaglik by God. En my God sal elke behoefte van julle vervul na sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus. Aan onse God en Vader die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen. Groet elke heilige in Christus Jesus. Die broeders wat saam met my is, groet julle. Al die heiliges, en veral die wat aan die keiserlike huis behoort, groet julle. Die genade van onse Here Jesus Christus sy met julle almal! Amen.

FILIPPENSE 4:1-23 Afrikaans 1983 (AFR83)

Daarom, my broers, moet julle vas staan en getrou bly aan die Here. Ek het julle baie lief en verlang na julle. Julle is my blydskap en my kroon. Ek vermaan vir Euodia en ek vermaan vir Sintige om eensgesind te wees in die Here. Ja, ek vra jou ook, getroue medewerker, wees hierdie vroue behulpsaam. Hulle het saam met my die stryd gevoer in diens van die evangelie, net soos Klemens ook en my ander medewerkers, wie se name in die boek van die lewe staan. Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby. Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus. Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig. En wat julle van my geleer en ontvang het, en gehoor en gesien het, dit moet julle doen. En God wat vrede gee, sal by julle wees. Ek was baie bly in die Here dat julle na so 'n lang tyd weer gewys het dat julle nog aan my dink. Nie dat julle my ooit vergeet het nie, julle het net nie die kans gehad om iets te doen nie. Ek sê dit nie omdat ek gebrek ly nie, want ek het geleer om my in alle omstandighede te behelp. Ek weet wat armoede is en ek weet wat oorvloed is; van alles het ek ondervinding: om genoeg te hê om te eet sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly. Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee. Nietemin het julle goed gedoen deur my in my moeilike omstandighede by te staan. Julle in Filippi weet ook dat in die begin van my evangelieprediking, na my vertrek uit Masedonië, geen enkele gemeente behalwe julle 'n aandeel gehad het aan my rekening van inkomste en uitgawe nie. Ook toe ek in Tessalonika was, het julle meer as een maal iets vir my behoeftes gestuur. Dit gaan vir my egter nie om die gawe nie, maar om die vrug daarvan: daardeur word julle self ryker. Maar ek het alles ontvang en ek het meer as genoeg. Noudat ek van Epafroditos ontvang het wat julle gestuur het, het ek alles wat ek nodig het. Julle gawe is voor God 'n offer met lieflike geur, vir Hom aanneemlik en welgevallig. En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus. Aan ons God en Vader behoort die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen. Groete aan almal wat aan God behoort deur Christus Jesus. Die broers hier by my stuur vir julle groete. Ook al die gelowiges en veral dié wat aan die huis van die keiser verbonde is, stuur vir julle groete. Die genade van die Here Jesus Christus sal by julle wees.

FILIPPENSE 4:1-23 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Daarom, my broers, julle vir wie ek lief is, en na wie ek verlang, my vreugde en my kroon – geliefdes, staan dan só vas in die Here. Ek vermaan Euodia en ek vermaan Sintige om in die Here eensgesind te wees. Ja, ek vra jou ook, getroue medewerker, help hierdie vroue. Hulle het saam met my vir die saak van die evangelie gestry, ook saam met Klemens en my ander medewerkers wie se name in die boekrol van die lewe staan. Verbly julle altyd in die Here! Ek herhaal: Verbly julle! Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word. Die Here is naby. Moet oor niks bekommerd wees nie, maar maak in alles julle versoeke deur gebed en smeking met danksegging aan God bekend. En die vrede van God, wat alle begrip oortref, sal in •Christus Jesus oor julle harte en gedagtes waak. Verder, broers, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat lof verdien, ja, watter deug of watter prysenswaardige saak daar ook mag wees: rig julle gedagtes daarop. Wat julle van my geleer en ontvang en gehoor en in my gesien het: hou aan om dit te doen. En die God van vrede sal met julle wees. Ek is in die Here besonder bly dat julle nou uiteindelik opnuut aan my gedink het. Eintlik het julle wel aan my gedink, maar julle het net nie die geleentheid daarvoor gehad nie. Ek sê dit nie omdat ek gebrek ly nie, want ek het geleer om in alle omstandighede tevrede te wees. Ek weet wat dit is om te min te hê, en ek weet wat dit is om oorvloed te hê; ek is in elke opsig in al hierdie dinge ingewy: om versadig te wees, sowel as om honger te ly; om oorvloed te hê, sowel as om gebrek te ly. Tot dit alles is ek in staat deur Hom wat my krag gee. Nogtans was dit goed van julle om in my swaarkry te deel. Julle weet ook, Filippense, dat aan die begin van my evangelieverkondiging, toe ek van Macedonië vertrek het, geen •gemeente tot my rekening van inkomste en uitgawes bygedra het nie, behalwe slegs julle. Ook in Thessalonika het julle meer as een maal iets vir my behoeftes gestuur. Dit is nie dat ek van julle 'n bydrae verlang nie; ek verlang eerder dat die opbrengs op julle belegging toenemend sal groei. Ek is ten volle vergoed, en het meer as genoeg; ek is ten volle versorg, noudat ek van Epafroditus ontvang het wat van julle af kom: 'n geurige offer, 'n aanneemlike offergawe wat God behaag. En my God sal ruimskoots in al julle behoeftes voorsien, in ooreenstemming met sy heerlike rykdom in •Christus Jesus. Aan ons God en Vader kom die heerlikheid toe vir ewig en ewig! •Amen. Groet elke heilige in Christus Jesus. Die broers wat hier by my is, stuur vir julle groete. Al die •heiliges, veral dié van die keiser se huishouding, stuur vir julle groete. Die genade van die Here Jesus •Christus bly met julle gees!

FILIPPENSE 4:1-23 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Daarom, my geliefde broeders en wat na my verlang, my vreugde en kroon, staan so vas in die Here, my dierbare geliefde. Ek smeek Euodias en Syntige dat hulle eensgesind moet wees in die Here. En ek smeek jou ook, ware jukgenoot, help daardie vroue wat saam met my gewerk het in die evangelie, ook met Klemens en met ander my medearbeiders wie se name in die boek van die lewe is. Wees altyd bly in die Here, en ek sê weer: Wees bly. Laat julle matigheid aan alle mense bekend wees. Die Here is byderhand. Pasop vir niks; maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en sinne bewaar deur Christus Jesus. Ten slotte, broeders, alles wat waar is, alles wat eerlik is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat lofwaardig is; as daar enige deug is, en as daar enige lof is, dink aan hierdie dinge. Doen daardie dinge wat julle geleer en ontvang en gehoor en in My gesien het, en die God van vrede sal met julle wees. Maar ek was baie bly in die Here, dat julle nou op die laaste weer floreer het; waarin julle ook versigtig was, maar die geleentheid het julle ontbreek. Nie dat ek uit gebrek spreek nie, want ek het geleer om tevrede te wees in watter toestand ek ook al is. Ek weet om verneder te word, en ek weet om oorvloed te hê: oral en in alles is my opgedra om versadig te word sowel as om honger te ly, sowel om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly. Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee. Nieteenstaande het julle goed gedoen, dat julle met my ellende gekommunikeer het. Nou weet julle ook, Filippense, dat in die begin van die evangelie, toe ek uit Masedonië vertrek het, geen gemeente met my gekommunikeer het oor gee en ontvang nie, behalwe julle alleen. Want selfs in Tessalonika het julle keer op keer na my behoefte gestuur. Nie omdat ek 'n gawe begeer nie, maar ek begeer vrugte wat oorvloedig kan wees vir julle rekening. Maar ek het alles en is oorvloedig: ek is versadig, nadat ek van Epafroditus die dinge ontvang het wat van julle gestuur is, 'n geur van 'n lieflike geur, 'n welgevallige offer, aan God welgevallig. Maar my God sal in al julle behoeftes voorsien volgens sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus. Nou aan God en ons Vader kom die heerlikheid toe tot in alle ewigheid. Amen. Groet elke heilige in Christus Jesus. Die broeders wat saam met my is, groet julle. Al die heiliges groet julle, veral die wat van die keiser se huis is. Die genade van onse Here Jesus Christus sy met julle almal. Amen. (Aan die Filippense geskryf uit Rome, deur Epafroditus.)

FILIPPENSE 4:1-23 Die Boodskap (DB)

Ai, broers en susters, ek verlang so na julle, want ek het julle lief. Julle maak my bly en laat my soos ’n koning voel. Daarom, my goeie vriende, is dit vir my so belangrik dat julle getrou op die pad sal bly wat die Here vir ons gewys het. Euodia en Sintige, ek vra julle baie mooi: los julle geskille op. Julle behoort mos al twee aan die Here. En ek vra by name vir jou, getroue vriend wat so lekker met my saamwerk, om hierdie twee vroue te help. Hulle het baie saam met my gedoen en verduur om vir mense van die goeie boodskap te vertel. Hulle kan in een asem genoem word met Klemens en van die ander wat saam met my gewerk het. Hulle name staan opgeteken in die boek waarin almal se name opgeskryf is wat vir ewig saam met God sal lewe. Julle hart behoort oor te loop van blydskap omdat julle aan die Here behoort. Ek sê weer, julle moet baie bly wees. Moenie vergeet om almal mooi te behandel nie. Die Here kom mos binnekort terug. Moenie oor dinge sit en tob of jou bekommer nie. Gaan praat met God daaroor. Bespreek dit met Hom. Vertel Hom hoe jy daaroor voel. Sê dan vir Hom dankie dat jy met Hom daaroor kan praat en dat Hy die beste weet. Jy sal dan verlig en tevrede voel. Jy sal hierdie verligte gevoel nie altyd kan verklaar of wetenskaplik kan uitlê nie. Omdat jy egter weet dat jy aan Jesus behoort, sal jy nie meer omgekrap voel nie. Hierdie wete dat Jesus by jou is, sal keer dat die bekommernisse weer met jou emosies weghardloop of dat jy jou weer van voor af begin bekommer. Weet julle waaraan julle moet dink in plaas daarvan om julle te sit en bekommer? Dink aan dit wat vir God saak maak, dinge wat ordentlik en reg is, dinge waaraan God sal dink en waarvan Hy sal hou, dinge wat God sal sê goed is. Moenie julle tyd mors om aan allerhande nuttelose dinge te sit en dink nie. Hou julle besig met dinge wat die moeite werd is en wat God in ’n goeie lig stel. Ek stel mos vir julle ’n goeie voorbeeld. Ek het baie dinge vir julle vertel. Julle het baie by my geleer. Wat julle my gesien doen en gehoor sê het, moet julle net so doen en sê. God sal julle nie los nie. Hy sal by julle bly. By Hom sal julle veilig en gelukkig voel. Ek kan julle nie sê hoe bly ek is dat julle my nie vergeet het nie. Ek is saam met die Here daaroor bly. Vir ’n lang tyd het julle nie kans gehad om dit te wys nie. Maar ek weet dit het nie beteken dat julle nie vir my omgee nie. Daar was net nie vir julle ’n kans om iets te doen nie. Moet my nie verkeerd verstaan nie. Dit is nie omdat dit met my so swaar gaan dat ek nie sonder julle hulp kon klaarkom nie. Die lewe het my al geleer om klaar te kom met wat ek het, maak nie saak wat gebeur nie. Ek weet hoe dit voel om arm, nee, brandarm te wees, maar ek weet ook hoe dit voel om genoeg of selfs te veel geld te hê. Maar ek laat nie toe dat sulke dinge my onderkry of met my weghardloop nie. Ek is en bly altyd tevrede, wat my ook al tref. Dit maak nie saak of ek sonder ’n krieseltjie kos gaan slaap of soveel kos het dat ek dit nie alles kan opeet nie. Of ek net die klere aan my lyf het en of ek ’n huis vol goed op my naam het, vir my is dit eintlik maar om’t ewe. Vir alles in die lewe, die goeie of die slegte, sien ek kans omdat Jesus my bron van krag is. Moet my asseblief nie misverstaan nie. Dit was baie mooi van julle om my te help toe dit maar sleg met my gegaan het. My liewe mede-Christene in Filippi, julle onthou mos nog hoe dit in die begin gegaan het. Ek het die goeie boodskap oor Jesus daar in die noordelike deel van Griekeland versprei. Nie ’n enkele gemeente wou my toe help nie. Maar julle was daar! Julle was bereid om te help. Ek was al in Tessalonika toe het julle my nog steeds gehelp. Sommer ’n paar maal het julle vir my iets gestuur toe ek dit regtig nodig gehad het. Tog is die geld wat julle vir my gestuur het nie die belangrikste nie. Wat belangriker is, is dat God vir julle ook wonderlike dinge gaan teruggee omdat julle so goed vir my was. Epafroditos het vir my alles gegee wat julle gestuur het. Nou het ek oorgenoeg, alles wat ek nodig het. God hou baie daarvan. Vir Hom is dit soos ’n wonderlike offer wat baie lekker ruik. Niemand is en kan ooit so ryk en belangrik wees soos God nie. Hy sal vir julle sorg deur vir julle te gee wat julle nodig het. Dit sal Hy doen omdat julle aan Jesus behoort. Al die eer en respek en belangrikheid in hierdie wêreld is God s’n, vir ewig en altyd. So is dit en so sal dit wees. Sê asseblief groete namens my aan al die Christene daar by julle. Die Christene hier stuur ook groete. Die Christene wat op die keiser se personeel is, sê spesiaal groete. Mag ons Here Jesus Christus baie goed vir julle wees, ver meer as wat julle verdien. Mag julle hierdie goedheid diep in julle binneste ervaar.

FILIPPENSE 4:1-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

My broers en susters, ek het julle lief en verlang baie na julle. Júlle maak my bly, ja, op júlle is ek baie trots. Geliefdes, bly dan nou regtig getrou aan die Here. Ek moedig sowel Euodia as Sintige aan om hulle meningsverskille op te los omdat hulle aan die Here verbonde is. En ek vra ook dat jy, getroue kollega, hulle sal help. Hulle het hard gewerk saam met my en ook saam met Klemens en die ander medewerkers om die Goeie Nuus uit te dra. Hulle almal se name staan opgeskryf in die Boek van die Lewe. Wees altyd bly omdat julle weet dat julle aan die Here behoort. Ek sê dit weer: “Wees bly!” Laat almal sien hoe bedagsaam julle lewe. Onthou: Die Here kom binnekort! Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles. Vra alles wat julle nodig het van God, terwyl julle Hom ook dank vir alles wat Hy doen. En God se vrede, wat meer is as wat ’n mens dink, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou omdat julle aan Christus Jesus verbonde is. Ten slotte, broers en susters, vul julle gedagtes met alles wat waar, eerbaar, skoon, suiwer, lieflik en lofwaardig is. En leef volgens alles wat julle van my geleer, oorgeneem, gehoor en gesien het. Dan sal die God wat vrede gee, by julle wees. Ek prys die Here met groot blydskap omdat julle weer ’n slag aan my kon dink. Ek weet julle het eintlik heeltyd aan my gedink, maar het net nie die geleentheid gehad om iets te doen nie. Ek sê dit nie omdat ek iets kortkom nie. Ek het regtig geleer om onder alle omstandighede reg te kom. Ek weet wat dit is om boomskraap te lewe, en ek weet wat dit is om oorvloed te hê. Ek het lewenservaring opgedoen vir alle omstandighede, vir wanneer ek genoeg het om te eet én wanneer ek honger is, vir oorvloed én tekort. Ek kan alles doen deur Hom wat my krag gee. Nietemin, julle het goedgedoen deur my in my swaarkry by te staan. Julle, Filippense, weet wat in die beginjare met die uitdra van die Goeie Nuus gebeur het. Toe ek van Masedonië af vertrek het, het geen gemeente behalwe julle my finansieel ondersteun nie. Selfs toe ek in Tessalonika was, het julle meer as een keer iets gestuur om my te help. Nie dat ek ’n skenking soek nie; ek soek die resultaat daarvan: groter krediet op julle rekening! Op hierdie stadium het ek alles ontvang – en meer as genoeg! Met dit wat julle saam met Epafroditus gestuur het, het ek alles wat ek nodig het. Wat julle gestuur het, is ’n lieflike reukoffer waarvan God hou. Omdat Christus Jesus dit verdien het, sal my God uit sy heerlike rykdom vir julle voorsien in elke behoefte wat julle het. Aan dié God, wat ook ons Vader is, behoort die heerlikheid tot in alle ewigheid. Amen. Dra my groete oor aan Christene daar. Al die broers en susters hier by my stuur groete. Al die ander Christene stuur ook groete, in besonder dié wat in die keiser se paleis werk. Mag ons Here Jesus Christus se genade julle geestelik versterk.