Filippense 1:12-26

Filippense 1:12-26 AFR20

Broers, ek wil hê julle moet weet dat wat met my gebeur het, in werklikheid tot bevordering van die evangelie gelei het. Sodoende het dit by die hele pretorium en al die ander bekend geword dat ek ter wille van •Christus in gevangenskap verkeer. Ook waag die meeste van die broers in die Here, omdat hulle as gevolg van my gevangenskap vertroue verkry het, dit baie meer om die woord vreesloos te verkondig. Sommige verkondig Christus wel uit jaloesie en twisgierigheid, ander egter uit goedgesindheid. Hulle doen dit uit liefde, omdat hulle weet dat ek bestem is om die evangelie te verdedig, maar die ander verkondig Christus uit selfsugtige ambisie – nie met opregte motiewe nie, maar met die bedoeling om vir my in my gevangenskap verdrukking te veroorsaak. Wat maak dit egter saak? In elke geval, of dit met bybedoelings of in waarheid is, word Christus verkondig – en daaroor is ek vol blydskap. Ja, ek sal voortdurend bly wees, want ek weet dat dit alles tot my verlossing sal lei, omdat julle vir my bid, en die Gees van Jesus Christus my ondersteun. Dit is immers my innige verwagting en hoop dat ek nie in enige opsig beskaam sal word nie, maar dat Christus met alle vrymoedigheid ook nou, soos altyd, deur my liggaam verheerlik sal word, of dit nou deur my lewe of deur my dood is. Want vir my is om te leef Christus, en om te sterf wins; maar as my liggaam bly leef, beteken dit dat ek nog verder vrugbaar sal kan werk. Ek weet werklik nie wat om te kies nie. Ek is in 'n tweestryd gewikkel: Aan die een kant verlang ek om heen te gaan en saam met Christus te wees. Dit is immers verreweg die beste. Aan die ander kant is dit ter wille van julle noodsaakliker dat ek liggaamlik hier bly. Juis omdat ek hiervan oortuig is, weet ek dat ek hier sal bly, ja, dat ek wel by julle almal sal bly, sodat julle vordering kan maak en geloofsvreugde kan ervaar. So sal julle trots op my, wanneer ek weer by julle is, in Christus Jesus nog meer kan toeneem.

Video for Filippense 1:12-26