FILIPPENSE 1:12-26

FILIPPENSE 1:12-26 NLV

Julle moet weet, broers en susters, dat dit wat met my gebeur het, gelei het tot bevordering van die Goeie Nuus. Dit het vir almal hier, ook vir die soldate van die paleiswag, duidelik geword dat ek in die tronk is ter wille van Christus. En die meerderheid mede-gelowiges hier is só deur my gevangenskap in hulle vertroue in die Here versterk dat hulle dit al hoe meer waag om oor die boodskap van God te praat sonder om bang te wees. Daar is wel sommige wat dit doen omdat hulle jaloers is of iets teen my het, maar daar is ook ander wat Christus met goeie bedoelings bekendmaak. Hulle doen dit uit liefde omdat hulle weet dat ek hier is om die Goeie Nuus te verdedig. Maar dié wat in eiebelang Christus verkondig, doen dit met onsuiwer motiewe. Hulle bedoeling is om die swaarkry van my gevangenskap nog swaarder te maak. Maar wat maak dit saak? Of hulle motiewe nou onsuiwer of suiwer is – die feit is dat Christus op allerhande maniere verkondig word, en daaroor is ek baie bly! My blydskap sal ook voortduur, want ek weet dat deur julle voorbidding en die hulp van die Gees van Jesus Christus alles op my vrylating sal uitloop. Dit is my strewe en hoop dat ek nooit iets sal doen waaroor ek my sal hoef te skaam nie. Ek wil eerder, soos nog altyd, ook nou in my hele bestaan – of ek bly leef en of ek moet sterf – Christus met volle vrymoedigheid verheerlik. Want vir my is die lewe Christus, en die sterwe wins. As ek aanhou lewe, kan ek vrugbaar werk. Ek weet regtig nie wat om te kies nie! Ek is in ’n tweestryd. Aan die een kant verlang ek om te vertrek en bý Christus te wees, want dit is vir my verreweg die beste. Aan die ander kant is dit vir julle belangriker dat ek bly lewe. Dit weet ek vas en seker: my blywende betrokkenheid by julle almal sal daartoe lei dat julle groei en blydskap in julle geloof sal beleef. Dan, wanneer ek weer by julle is, sal julle nog meer rede hê om dit wat Christus Jesus deur my gedoen het, te besing.