Numeri 26:52-65

Numeri 26:52-65 AFR20

Die HERE het met Moses gepraat en gesê: “Onder hierdie mense moet die land met erfreg verdeel word volgens die getal name. Vir dié wat meer is, moet jy hulle erfdeel vergroot; vir dié wat minder is, moet jy hulle erfdeel verklein. Aan elkeen moet sy erfdeel gegee word volgens die getal van dié wat ingeskryf is. Maar die land moet deur loting verdeel word. Volgens die name van hulle voorouers se stamme moet hulle dit as erfenis ontvang. Deur loting moet 'n stam se erfdeel toegewys word, tussen dié wat baie en dié wat min is.” Dit was dié wat ingeskryf is van die Leviete volgens hulle familiegroepe: van Gerson, die Gerson-familiegroep; van Kehat, die Kehat-familiegroep; van Merari, die Merari-familiegroep. Dit was die familiegroepe wat van Levi afgestam het: die Libni-familiegroep; die Hebron-familiegroep; die Magli-familiegroep; die Musi-familiegroep en die Korag-familiegroep. Kehat het Amram verwek. Die naam van Amram se vrou was Jogebed, 'n dogter van Levi wat vir Levi in Egipte gebore is. Vir Amram het sy Aäron, Moses en Mirjam, hulle suster, in die wêreld gebring. Vir Aäron is Nadab, Abihu, Eleasar en Itamar gebore. Nadab en Abihu het gesterf toe hulle ongeoorloofde vuur voor die HERE nadergebring het. Dié wat ingeskryf is van die Leviete, al die manlike persone, een maand en ouer, was 23 000. Hulle is immers nie saam met die Israeliete ingeskryf nie, omdat daar nie vir hulle 'n erfdeel gegee is tussen die Israeliete nie. Dit was dié wat ingeskryf is deur Moses en die priester Eleasar, wat die Israeliete in die vlaktes van Moab by die Jordaan, teenoor Jerigo, ingeskryf het. Onder hulle was daar egter nie een van dié wat deur Moses en die priester Aäron ingeskryf is toe hulle die Israeliete in die Sinaiwoestyn ingeskryf het nie. Omdat die HERE vir hulle gesê het dat hulle beslis sal sterf in die woestyn, het nie een van hulle oorgebly nie, behalwe Kaleb, seun van Jefunne, en Josua, seun van Nun.