Numeri 14:1-12

Numeri 14:1-12 AFR20

Die hele volksvergadering het toe hard uitgeroep en die volk het daardie hele nag gekerm. Al die Israeliete het by Moses en Aäron gemor en die hele volksvergadering het vir hulle gesê: “Het ons maar in Egipteland gesterf; of het ons maar in hierdie woestyn gesterf! Waarom bring die HERE ons na hierdie land, net om deur die swaard te val? Ons vroue en ons jong kinders gaan buit word! Is dit nie vir ons beter om na Egipte terug te keer nie?” Hulle sê toe vir mekaar: “Kom ons wys 'n leier aan en gaan terug na Egipte.” Moses en Aäron het op hulle gesigte neergeval voor die hele byeenkoms van die volksvergadering van die Israeliete. Josua, seun van Nun, en Kaleb, seun van Jefunne, twee van dié wat die land verken het, het hulle klere geskeur en vir die hele volksvergadering van die Israeliete gesê: “Die land wat ons deurkruis het om dit te verken, is 'n buitengewoon goeie land. As die HERE ons goedgesind is, sal Hy ons in hierdie land inneem en dit vir ons gee – 'n land wat oorloop van melk en heuning. Teen die HERE moet julle net nie in opstand kom nie. Julle moenie bang wees vir die volk van die land nie, want hulle is 'n maklike prooi vir ons. Hulle beskutting het van hulle gewyk, en die HERE is met ons. Moenie vir hulle bang wees nie.” Toe die hele volksvergadering dreig om hulle met klippe dood te gooi, het die heerlikheid van die HERE in die Tent van Ontmoeting aan al die Israeliete verskyn. Die HERE het vir Moses gesê: “Hoe lank gaan hierdie volk My nog minag? Hoe lank gaan hulle My nie vertrou nie, ten spyte van al die tekens wat Ek onder hulle gedoen het? Ek gaan hulle met pessiekte tref en hulle onterf. Dan sal Ek jou 'n nasie maak, groter en sterker as hulle.”