NUMERI 14:1-12

NUMERI 14:1-12 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Die hele volksvergadering het toe hard uitgeroep en die volk het daardie hele nag gekerm. Al die Israeliete het by Moses en Aäron gemor en die hele volksvergadering het vir hulle gesê: “Het ons maar in Egipteland gesterf; of het ons maar in hierdie woestyn gesterf! Waarom bring die HERE ons na hierdie land, net om deur die swaard te val? Ons vroue en ons jong kinders gaan buit word! Is dit nie vir ons beter om na Egipte terug te keer nie?” Hulle sê toe vir mekaar: “Kom ons wys 'n leier aan en gaan terug na Egipte.” Moses en Aäron het op hulle gesigte neergeval voor die hele byeenkoms van die volksvergadering van die Israeliete. Josua, seun van Nun, en Kaleb, seun van Jefunne, twee van dié wat die land verken het, het hulle klere geskeur en vir die hele volksvergadering van die Israeliete gesê: “Die land wat ons deurkruis het om dit te verken, is 'n buitengewoon goeie land. As die HERE ons goedgesind is, sal Hy ons in hierdie land inneem en dit vir ons gee – 'n land wat oorloop van melk en heuning. Teen die HERE moet julle net nie in opstand kom nie. Julle moenie bang wees vir die volk van die land nie, want hulle is 'n maklike prooi vir ons. Hulle beskutting het van hulle gewyk, en die HERE is met ons. Moenie vir hulle bang wees nie.” Toe die hele volksvergadering dreig om hulle met klippe dood te gooi, het die heerlikheid van die HERE in die Tent van Ontmoeting aan al die Israeliete verskyn. Die HERE het vir Moses gesê: “Hoe lank gaan hierdie volk My nog minag? Hoe lank gaan hulle My nie vertrou nie, ten spyte van al die tekens wat Ek onder hulle gedoen het? Ek gaan hulle met pessiekte tref en hulle onterf. Dan sal Ek jou 'n nasie maak, groter en sterker as hulle.”

NUMERI 14:1-12 Bybel vir almal (ABA)

Die hele volksvergadering het hard geskree, en die mense het daardie hele nag gehuil. Al die Israeliete het vir Moses en Aäron beskuldig. Die hele vergadering het vir hulle gesê: “Ons wens ons het in Egipte gesterf of hier in die woestyn, ons wens ons was dood. Hoekom bring die Here ons na hierdie land om in oorlog te sterf? Die vyande sal ons vroue en kinders vir hulleself vat. Dit sal vir ons beter wees as ons teruggaan na Egipte.” Hulle het vir mekaar gesê: “Kom ons kies 'n leier en gaan terug na Egipte.” Moses en Aäron het daar voor die volksvergadering, voor die vergadering van die Israeliete, gaan lê met hulle gesigte teen die grond. Josua seun van Nun en Kaleb seun van Jefunne was twee van die manne wat gaan kyk het hoe die land lyk. Hulle het hulle klere geskeur en hulle het vir die hele vergadering van die Israeliete gesê: “Ons het deur die land gegaan en ons het na die land gaan kyk. Dit is 'n baie goeie land, baie goed. As die Here goed is vir ons, dan sal Hy ons in hierdie land bring en Hy sal dit vir ons gee. Dit is 'n land waar daar baie melk en heuning is. Maar dan moet julle nie opstandig wees teen die Here nie en julle moenie bang wees vir die mense in die land nie. Ons sal hulle maklik oorwin. Niemand sal hulle kan beskerm nie. Die Here is by ons, julle moenie bang wees nie.” Die hele vergadering het toe gesê hulle gaan vir Josua en Kaleb doodgooi met klippe. Maar toe sien al die Israeliete dat die Here, die Koning, by die tent is waar Hy aan die Israeliete verskyn. Die Here sê toe vir Moses: “Hierdie volk hou aan om te maak of Ek nie vir hulle belangrik is nie. Ek het vir hulle baie tekens gewys. Hulle glo nie dat Ek hulle sal help nie. Hoe lank wil hulle aanhou om dit te doen? Ek sal hulle siek laat word van pes en Ek sal hulle almal laat sterf. Dan sal Ek jou nageslag 'n volk maak wat groter en sterker as hulle is.”

NUMERI 14:1-12 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

TOE het die hele vergadering uitgeroep — hulle het hul stem verhef, en die volk het dié nag geween. En al die kinders van Israel het gemurmureer teen Moses en teen Aäron, en die hele vergadering het aan hulle gesê: Ag, as ons maar in Egipteland gesterf het! Of as ons maar hier in die woestyn gesterf het! En waarom bring die HERE ons na hierdie land om deur die swaard te val? Ons vroue en ons kinders sal 'n buit word. Sal dit nie beter vir ons wees om na Egipte terug te gaan nie? En hulle sê vir mekaar: Laat ons 'n hoof aanstel en na Egipte teruggaan. Toe het Moses en Aäron op hulle aangesig geval voor die hele vergadering van die gemeente van die kinders van Israel. En Josua, die seun van Nun, en Kaleb, die seun van Jefúnne, twee van die wat die land verken het, het hulle klere geskeur en die hele vergadering van die kinders van Israel toegespreek en gesê: Die land wat ons deurgetrek het om dit te verken, is 'n buitengewoon goeie land. As die HERE 'n welbehae in ons het, sal Hy ons in hierdie land inbring en dit aan ons gee, 'n land wat oorloop van melk en heuning. Wees net nie teen die HERE opstandig nie, en wees julle nie bevrees vir die volk van die land nie, want hulle is ons spys. Hulle beskutting het van hulle gewyk, en die HERE is met ons. Wees nie bevrees vir hulle nie! Toe sê die hele vergadering dat hulle gestenig moet word. Maar die heerlikheid van die HERE het in die tent van samekoms verskyn voor al die kinders van Israel. Daarop het die HERE aan Moses gesê: Hoe lank sal hierdie volk My verag? En hoe lank sal hulle in My nie glo nie, ondanks al die tekens wat Ek onder hulle gedoen het? Ek sal hulle met die pes tref en hulle uitroei; en Ek sal jou 'n groter en sterker nasie maak as hulle.

NUMERI 14:1-12 Afrikaans 1983 (AFR83)

Daardie nag het die hele volksvergadering aanhoudend gekla. Al die Israeliete was in verset teen Moses en Aäron, en die hele vergadering het vir hulle gesê: “As ons maar in Egipte of in hierdie woestyn gesterf het! Waarom het die Here ons na hierdie land toe gebring? Net om doodgemaak te word? Ons vrouens en kinders sal krygsgevangenes word. Is dit nie vir ons beter om na Egipte toe terug te gaan nie?” Hulle het toe vir mekaar gesê: “Kom ons kies 'n leier en gaan terug Egipte toe!” Moses en Aäron het toe voor die hele vergadering van Israeliete wat daar saam was, op hulle knieë geval. Ook het Josua seun van Nun, en Kaleb seun van Jefunne, manne wat saam die land verken het, hulle klere geskeur, en vir die hele vergadering Israeliete gesê: “Die land wat ons gaan verken het, is 'n buitengewoon goeie land. As die Here ons goedgesind is, sal Hy ons na hierdie land toe bring en dit aan ons gee, 'n land wat oorloop van melk en heuning. Julle moet net nie teen die Here in opstand kom nie. Moet ook nie vir die mense van die land bang wees nie, want ons sal hulle maklik verslaan. Hulle gode sal hulle nie kan beskerm nie. Die Here is by ons. Moenie vir hulle bang wees nie!” Maar die hele vergadering het gedreig om vir Josua en Kaleb met klippe dood te gooi. Toe het die magtige teenwoordigheid van die Here by die tent van ontmoeting vir al die Israeliete sigbaar geword. Die Here het vir Moses gesê: “Hoe lank sal hierdie volk my almag bly onderskat? Hoe lank sal hulle weier om op My te vertrou ten spyte van al die wonders wat Ek onder hulle gedoen het? Ek gaan hulle tref met die pes en hulle uitroei, en dan sal Ek jou 'n volk maak, groter en sterker as hulle!”

NUMERI 14:1-12 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En die hele vergadering het hul stem verhef en geroep; en die mense het daardie nag gehuil. En al die kinders van Israel het teen Moses en teen Aäron gemurmureer, en die hele vergadering het vir hulle gesê: Mag ons tog maar in Egipteland gesterf het! of sou God ons in hierdie woestyn gesterf het! En waarom het die HERE ons na hierdie land gebring om deur die swaard te val, sodat ons vroue en ons kinders 'n prooi sou word? was dit nie vir ons beter om na Egipte terug te keer nie? En hulle het vir mekaar gesê: Laat ons 'n owerste aanstel en na Egipte teruggaan. Toe val Moses en Aäron op hulle aangesig voor die hele vergadering van die vergadering van die kinders van Israel. En Josua, die seun van Nun, en Kaleb, die seun van Jefunne, wat was van die wat die land verken het, het hulle klere geskeur. En hulle het met die hele menigte van die kinders van Israel gespreek en gesê: Die land wat ons deurgetrek het om dit te verken, is 'n uitermate goeie land. As die HERE 'n welbehae in ons het, dan sal Hy ons in hierdie land bring en dit aan ons gee; 'n land wat oorloop van melk en heuning. Wees net nie opstandig teen die HERE nie, en vrees nie die volk van die land nie; want hulle is vir ons brood; hulle verdediging is van hulle afgewyk, en die HERE is met ons; vrees hulle nie. Maar die hele vergadering het beveel om hulle met klippe te stenig. En die heerlikheid van die HERE het in die tent van samekoms verskyn voor al die kinders van Israel. Toe sê die HERE vir Moses: Hoe lank sal hierdie volk My terg? en hoe lank sal dit duur voordat hulle My glo, vanweë al die tekens wat Ek onder hulle gedoen het? Ek sal hulle met die pes tref en hulle onterf, en Ek sal van jou 'n groter nasie en sterker maak as hulle.

NUMERI 14:1-12 Die Boodskap (DB)

Die klomp Israeliete het toe verskriklik begin huil, hulle het sommer dwarsdeur die nag aangehou. Hulle het teen Moses en Aäron in opstand gekom en gesê: “As ons maar eerder in Egipte of in die woestyn doodgegaan het, dan was dit baie beter! Hoekom het die Here ons na die land toe gebring as ons in elk geval net doodgemaak gaan word en ons vroue en kinders as gevangenes weggevat gaan word? Miskien is dit vir ons beter om terug te gaan Egipte toe!” Hulle het toe onder mekaar begin planne maak: “Kom ons kies vir ons ’n nuwe leier wat ons sal terugvat Egipte toe.” Moses en Aäron het uit pure moedeloosheid op hulle knieë voor die volk gaan staan. Maar Nun se seun Josua en Jefunne se seun Kaleb, twee van die leiers wat saam was Kanaän toe, het van hartseer hulle klere stukkend geskeur en vir die hele vergadering wat daar bymekaar was, gesê: “Dit is ’n ongelooflike mooi land waarna ons gaan kyk het. As die Here tevrede met ons is, sal Hy ons help om hierdie land in te neem en daar te gaan bly. Soos ons vroeër vir julle gesê het: dit is ’n land waar dit lyk of die melk en heuning oral in strome loop. Moet asseblief nie die Here se gesag nou uitdaag nie. Moet ook nie vir die land en sy inwoners bang wees nie, ons kan hulle maklik oorrompel. Hulle afgode waarop hulle staatmaak, sal hulle nie kan help nie, want die Here is aan ons kant. Moenie vir daardie spul bang wees nie!” Die hele vergadering was egter min beïndruk met wat Josua en Kaleb gesê het en wou hulle sommer daar op die plek met klippe doodgooi. Maar skielik het die verblindende glans van die Here se teenwoordigheid oor die tent sigbaar geword. Almal kon dit sien. Die Here vra toe vir Moses: “Hoe lank gaan hierdie volk aanhou om die rug vir My te draai en weier om My te vertrou, ten spyte van die wonderwerke wat Ek al voor hulle oë gedoen het? Ek gaan ’n siekte-epidemie onder hulle instuur om hulle uit te roei. Dan maak Ek jou nageslag ’n baie magtiger volk as wat hierdie spul nog ooit was!”

NUMERI 14:1-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die gemeenskap het toe begin kla. Die volk het deur die nag gesit en huil. Al die Israeliete het by Moses en Aäron kom kla. Hulle het gesê: “As ons tog maar liewer in Egipte gesterf het, of selfs hier in die woestyn! Hoekom het die HERE ons na hierdie land toe laat kom om hier met die swaard doodgemaak te word? Ons vroue en ons dogters gaan nog oorlogsbuit word. Is dit nie beter dat ons maar liewer na Egipte toe teruggaan nie?” Hulle het toe onder mekaar gekonkel: “Kom ons kies ’n leier en ons gaan terug na Egipte toe.” Moses en Aäron het voor die gemeenskap van die Israeliete neergeval. Josua, seun van Nun, en Kaleb, seun van Jefunne, wat saam die land gaan verken het, het hulle klere geskeur. Hulle het vir die gemeenskap van die Israeliete gesê: “Die land wat ons gaan verken het, is ’n besondere mooi land. As die HERE ons liefhet, sal Hy ons in die land laat kom en dit vir ons gee. Dit is ’n baie vrugbare land. Moenie teen die HERE in opstand kom nie! Moenie bang wees vir die mense van die land nie. Hulle is ons slagoffers. Hulle het geen beskerming nie. Die HERE is met ons. Moenie bang wees nie!” Die gemeenskap het egter gedreig om hulle met klippe dood te gooi. Die Israeliete het toe bewus geword van die HERE se magtige teenwoordigheid by die tabernakel. Die HERE het vir Moses gesê: “Hoe lank gaan hierdie volk nog aanhou om My te minag? Hoe lank gaan hulle bly weier om op My te vertrou, selfs al het Ek al die wonders tussen hulle laat gebeur? Ek gaan ’n pessiekte onder hulle laat uitbreek. Ek gaan hulle uitroei. Ek gaan jou egter ’n groot nasie maak wat baie sterker is as hulle!”