Nahum 3:8-19

Nahum 3:8-19 AFR20

Is jy beter as No-Amon, gevestig aan die Nyl en omring deur water, waarvan die voormuur 'n see van water was, waarvan die stadsmuur ook water was? Kus is talryk en ook Egipte, Put en die Libiërs eindeloos in getal, hulle was haar helpers. Selfs sy was bestem vir ballingskap; sy moes in gevangenskap gaan. Ook háár kleuters is verbrysel op al die straathoeke. Oor haar edelmanne is geloot, al haar vername mense is met kettings geboei. Ook jy sal dronk word en verward wees. Ook jy sal 'n toevlugsoord teen vyande soek. Al jou versterkte stede is vyebome met vroeë vye; as die bome geskud word, val die vye in die eter se mond. Kyk, die manskappe in jou midde is soos vrouens. Vir jou vyande staan die poorte van jou land wawyd oop; vuur het jou sluitbalke reeds verteer. Skep maar vir jou water vir die beleg! Versterk maar jou versterkte stede! Gaan kleigat toe en trap die klei! Vat die steenvorm vas! Daar sal die vuur jou verteer, die swaard jou afmaai. Dit sal jou verorber soos voetgangersprinkane. Vermeerder maar soos voetgangersprinkane, word maar so baie soos treksprinkane! Jy het jou handelaars meer gemaak as die sterre aan die hemel, maar voetgangersprinkane vervel en vlieg weg! Die mense aan jou hof is soos treksprinkane, en jou amptenare soos 'n swerm sprinkane wat op 'n koue dag op die mure sit – as die son deurbreek, vlieg hulle weg. Die plek waarheen hulle gaan, is onbekend. Koning van Assirië, jou herders slaap; jou vername mense rus. Jou manskappe is verstrooi oor die berge; niemand bring hulle bymekaar nie. Daar is geen herstel vir jou ineenstorting nie. Jou wond is ongeneeslik. Almal wat die nuus oor jou hoor, sal daaroor hande klap, want wie het nie voortdurend onder jou wreedheid deurgeloop nie?