Markus 8:1-21

Markus 8:1-21 AFR20

Toe daar gedurende daardie dae weer 'n groot skare was en hulle niks gehad het om te eet nie, het Jesus die dissipels nader geroep en vir hulle gesê: “Ek voel innig jammer vir die skare, want hulle is reeds drie dae by My en het niks om te eet nie. As Ek hulle honger huis toe stuur, sal hulle op pad beswyk. Sommige van hulle kom immers van ver af.” Sy dissipels het Hom egter geantwoord: “Waar in hierdie verlate plek sal mens brood kan kry om hulle te versadig?” Hy vra hulle toe: “Hoeveel brode het julle?” Hulle antwoord: “Sewe.” Toe beveel Hy die skare om op die grond te gaan sit. Nadat Hy die sewe brode geneem en gedank het, breek Hy dit en gee vir sy dissipels om voor te sit, en hulle het dit aan die skare voorgesit. Hulle het ook 'n paar vissies gehad. Nadat Hy die seëngebed daaroor uitgespreek het, het Hy gesê dat hulle ook dit moet voorsit. Die mense het geëet en versadig geword, en van die stukke wat oorgebly het, sewe mandjies vol opgetel. Daar was ongeveer vierduisend mense. Daarna het Hy hulle weggestuur. Hy het dadelik in 'n boot geklim en saam met sy dissipels na die streek van Dalmanuta gegaan. Die •Fariseërs het na vore getree en begin om met Hom te redeneer. Om Hom te toets, het hulle Hom 'n teken uit die hemel gevra. Hy het in sy binneste diep gesug en gesê: “Waarom vra hierdie geslag 'n teken? •Amen, Ek sê vir julle: Aan hierdie geslag sal beslis geen teken gegee word nie.” Hy het hulle verlaat, weer in die skuit geklim en na die oorkant vertrek. Hulle het vergeet om brode saam te neem. Behalwe 'n brood, het hulle niks anders by hulle in die boot gehad nie. Jesus het hulle gewaarsku: “Pasop, wees op julle hoede vir die suurdeeg van die •Fariseërs en die suurdeeg van Herodes. ” Hulle het toe onder mekaar bespiegel dat dit is omdat hulle nie brood het nie. Bewus hiervan, sê Hy vir hulle: “Waarom redekawel julle daaroor dat julle nie brood het nie? Verstaan julle nie en begryp julle nie? Het julle steeds verharde harte? “Het julle oë, en sien julle nie? Het julle ore, en hoor julle nie? “En onthou julle nie toe Ek die vyf brode vir die vyfduisend gebreek het, hoeveel mandjies vol stukke julle opgetel het nie?” Hulle antwoord Hom: “Twaalf.” “En toe Ek die sewe brode vir die vierduisend gebreek het, hoeveel mandjies vol stukke wat oorgebly het, het julle toe opgetel?” Hulle antwoord Hom: “Sewe.” Hy sê toe vir hulle: “Begryp julle steeds nie?”

Video for Markus 8:1-21

Gratis leesplanne en oordenkings oor Markus 8:1-21