MARKUS 8:1-21

MARKUS 8:1-21 Bybel vir almal (ABA)

In daardie tyd was daar weer 'n groot klomp mense saam met Jesus en hulle het niks kos gehad nie. Jesus het sy dissipels na Hom toe geroep en vir hulle gesê: “Ek voel baie jammer vir al hierdie mense, want hulle is al drie dae by My en hulle het niks kos nie. As Ek hulle nou honger wegstuur huis toe, dan sal hulle flou word voordat hulle by die huis is. Party van hulle het van ver gekom.” Jesus se dissipels het vir Hom gevra: “Waar sal ons genoeg brood kry vir al die mense? Ons is ver van 'n stad, hier woon niemand nie.” Jesus vra toe vir hulle: “Hoeveel brood het julle?” En hulle sê vir Hom: “Ons het sewe brode.” Jesus het toe vir al die mense gesê hulle moet op die grond gaan sit om te eet. Hy het die sewe brode geneem en vir God dankie gesê daarvoor. Daarna het Hy die brood in stukke gebreek en dit vir sy dissipels gegee om vir al die mense te gee, en hulle het dit vir die mense gegee. Hulle het ook 'n paar vissies gehad. Jesus het dit geneem en weer vir God dankie gesê. Toe het Hy gesê sy dissipels moet die vis ook vir die mense gee. Al die mense het genoeg geëet. Sy dissipels het die stukkies bymekaargemaak wat oorgebly het. Dit was sewe groot mandjies vol. Daar was omtrent 4 000 mense wat geëet het. Toe het Jesus almal huis toe gestuur. Jesus en sy dissipels het toe dadelik in 'n boot geklim en na plekke naby die stad Dalmanuta gegaan. Daar kom toe Fariseërs en hulle het met Jesus begin stry. Hulle wou Hom toets en kyk wat Hy doen. Daarom het hulle vir Hom gevra om 'n wonderteken te wys wat van God kom. Jesus het gesug en gesê: “Hoekom wil die mense wat nou lewe, 'n wonderteken sien? God sal nie 'n wonderteken vir hulle wys nie. Dit is seker.” Jesus het weggegaan van die Fariseërs. Hy het weer in die boot geklim en na die ander kant van die see gegaan. Die dissipels het nie genoeg brood saamgeneem nie. Hulle het net een brood by hulle in die boot gehad. Jesus het sy dissipels gewaarsku en vir hulle gesê: “Julle moet oppas, julle moet versigtig wees vir die suurdeeg van die Fariseërs en die suurdeeg van koning Herodes.” Die dissipels het daaroor met mekaar gepraat. Hulle het gedink Jesus sê dit omdat hulle nie brood gehad het nie. Jesus het geweet wat hulle dink en Hy het vir hulle gevra: “Hoekom praat julle oor die brood wat julle nie het nie? Weet julle nie, verstaan julle nog nie? Hoekom is julle so hardkoppig? “ Julle het oë, maar julle sien nie, en julle het ore, maar julle hoor nie. “Kan julle nie onthou nie? Toe Ek vyf brode gebreek het en vir die 5 000 mense kos gegee het, hoeveel mandjies vol stukkies het julle daarna opgetel?” Die dissipels het geantwoord: “Twaalf mandjies.” Jesus vra toe weer: “En toe Ek die sewe brode gebreek het en vir die 4 000 mense kos gegee het, hoeveel groot mandjies vol stukkies het julle toe opgetel?” Die dissipels het geantwoord: “Sewe mandjies.” Toe vra Jesus vir sy dissipels: “Verstaan julle nog nie?”

MARKUS 8:1-21 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

IN dié dae toe daar 'n baie groot menigte was en hulle niks gehad het om te eet nie, het Jesus sy dissipels na Hom geroep en vir hulle gesê: Ek voel innig jammer vir die skare, omdat hulle al drie dae by My bly en niks het om te eet nie. En as Ek hulle honger huis toe stuur, sal hulle op die pad beswyk, want sommige van hulle kom van ver. En sy dissipels antwoord Hom: Waarvandaan sal 'n mens hulle hier in die woestyn kan versadig met brood? Toe vra Hy hulle: Hoeveel brode het julle? En hulle sê: Sewe. En Hy gee aan die skare bevel om op die grond te gaan sit; daarop neem Hy die sewe brode, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan sy dissipels om dit voor te sit; en hulle sit dit aan die skare voor. Hulle het ook 'n paar vissies gehad; en nadat Hy gedank het, sê Hy dat hulle dit ook moet voorsit. En hulle het geëet en versadig geword en die oorskot van die brokstukke opgetel, sewe mandjies vol. En die wat geëet het, was omtrent vierduisend. En Hy het hulle weggestuur. EN dadelik het Hy met sy dissipels in die skuit geklim en in die streke van Dalmanúta gekom. En die Fariseërs het uitgegaan en met Hom begin redetwis en van Hom 'n teken uit die hemel gevra om Hom te versoek. Toe sug Hy swaar in sy gees en sê: Waarom begeer hierdie geslag 'n teken? Voorwaar Ek sê vir julle, aan hierdie geslag sal sekerlik geen teken gegee word nie. En Hy het hulle verlaat en weer in die skuit geklim en na die oorkant gegaan. En hulle het vergeet om brode saam te neem, en het net een brood by hulle in die skuit gehad. En Hy het hulle beveel en gesê: Pas op, wees op julle hoede vir die suurdeeg van die Fariseërs en die suurdeeg van Herodes. Toe redeneer hulle onder mekaar en sê: Dit is omdat ons geen brode het nie. En Jesus merk dit en sê vir hulle: Waarom redeneer julle dat julle geen brode het nie? Begryp julle nie en verstaan julle nie? Het julle nog jul verharde hart? Het julle oë en sien julle nie? En het julle ore en hoor julle nie? En onthou julle nie toe Ek die vyf brode vir die vyfduisend gebreek het, hoeveel mandjies vol brokstukke julle opgetel het nie? Hulle sê vir Hom: Twaalf. En die sewe vir die vierduisend — hoeveel mandjies vol brokstukke het julle opgetel? En hulle sê: Sewe. Toe sê Hy vir hulle: Hoe verstaan julle dan nie!

MARKUS 8:1-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

In daardie selfde tyd was daar weer 'n keer 'n groot menigte mense by Jesus, en hulle het niks gehad om te eet nie. Hy roep toe sy dissipels nader en sê vir hulle: “Ek kry hierdie mense innig jammer, want hulle is nou al drie dae lank hier by My en hulle het niks om te eet nie. As Ek hulle nou sonder kos huis toe stuur, sal hulle langs die pad beswyk. Party van hulle kom van ver af.” Maar die dissipels sê vir Hom: “Waar sal 'n mens in hierdie verlatenheid genoeg brood vir hulle kan kry?” Hy vra hulle toe: “Hoeveel brood het julle?” “Sewe,” antwoord hulle. Toe gee Hy die mense bevel om op die grond te gaan sit. Nadat Hy die sewe brode geneem en God gedank het, het Hy dit gebreek en vir sy dissipels gegee om uit te deel, en hulle het dit aan die mense voorgesit. Hulle het ook 'n paar vissies gehad; en nadat Hy die seën gevra het, het Hy gesê hulle moet dit ook uitdeel. Die mense het geëet en genoeg gekry. En hulle het nog sewe mandjies vol bymekaargemaak van die stukke wat oorgebly het. Daar was omtrent vier duisend mense. Daarna het Hy hulle huis toe gestuur. Hy het toe dadelik saam met sy dissipels in die skuit geklim en na die gebied Dalmanuta toe gegaan. Daar kom toe Fariseërs wat met Jesus begin redeneer. Om Hom op die proef te stel, wou hulle van Hom 'n wonderteken uit die hemel hê. Hy het diep gesug en gesê: “Waarom wil hierdie geslag 'n teken hê? Dit verseker Ek julle: Aan hierdie geslag sal beslis nie 'n teken gegee word nie.” Hy het hulle daar laat staan, weer in die skuit geklim en na die oorkant van die see toe gegaan. Die dissipels het vergeet om brood saam te vat; hulle het net een by hulle in die skuit gehad. Jesus het hulle toe gewaarsku: “Pas op, wees op julle hoede vir die suurdeeg van die Fariseërs en die suurdeeg van Herodes.” Hulle het toe vir mekaar gesê dit is omdat hulle nie brood het nie. Toe Jesus dit hoor, sê Hy vir hulle: “Waarom praat julle daaroor dat julle nie brood het nie? Begryp en verstaan julle nog nie? Is julle nog steeds so traag van begrip? Julle wat oë het, sien julle dan nie? Julle wat ore het, hoor julle dan nie? Onthou julle nie, toe Ek die vyf brode vir die vyf duisend gebreek het, hoeveel mandjies vol stukke brood julle oorgehou het nie?” “Twaalf,” sê hulle vir Hom. “En sewe brode vir die vier duisend, hoeveel mandjies vol stukke het julle toe oorgehou?” “Sewe,” sê hulle vir Hom. Toe sê Hy vir hulle: “Verstaan julle dan nog nie?”

MARKUS 8:1-21 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Toe daar gedurende daardie dae weer 'n groot skare was en hulle niks gehad het om te eet nie, het Jesus die dissipels nader geroep en vir hulle gesê: “Ek voel innig jammer vir die skare, want hulle is reeds drie dae by My en het niks om te eet nie. As Ek hulle honger huis toe stuur, sal hulle op pad beswyk. Sommige van hulle kom immers van ver af.” Sy dissipels het Hom egter geantwoord: “Waar in hierdie verlate plek sal mens brood kan kry om hulle te versadig?” Hy vra hulle toe: “Hoeveel brode het julle?” Hulle antwoord: “Sewe.” Toe beveel Hy die skare om op die grond te gaan sit. Nadat Hy die sewe brode geneem en gedank het, breek Hy dit en gee vir sy dissipels om voor te sit, en hulle het dit aan die skare voorgesit. Hulle het ook 'n paar vissies gehad. Nadat Hy die seëngebed daaroor uitgespreek het, het Hy gesê dat hulle ook dit moet voorsit. Die mense het geëet en versadig geword, en van die stukke wat oorgebly het, sewe mandjies vol opgetel. Daar was ongeveer vierduisend mense. Daarna het Hy hulle weggestuur. Hy het dadelik in 'n boot geklim en saam met sy dissipels na die streek van Dalmanuta gegaan. Die •Fariseërs het na vore getree en begin om met Hom te redeneer. Om Hom te toets, het hulle Hom 'n teken uit die hemel gevra. Hy het in sy binneste diep gesug en gesê: “Waarom vra hierdie geslag 'n teken? •Amen, Ek sê vir julle: Aan hierdie geslag sal beslis geen teken gegee word nie.” Hy het hulle verlaat, weer in die skuit geklim en na die oorkant vertrek. Hulle het vergeet om brode saam te neem. Behalwe 'n brood, het hulle niks anders by hulle in die boot gehad nie. Jesus het hulle gewaarsku: “Pasop, wees op julle hoede vir die suurdeeg van die •Fariseërs en die suurdeeg van Herodes. ” Hulle het toe onder mekaar bespiegel dat dit is omdat hulle nie brood het nie. Bewus hiervan, sê Hy vir hulle: “Waarom redekawel julle daaroor dat julle nie brood het nie? Verstaan julle nie en begryp julle nie? Het julle steeds verharde harte? “Het julle oë, en sien julle nie? Het julle ore, en hoor julle nie? “En onthou julle nie toe Ek die vyf brode vir die vyfduisend gebreek het, hoeveel mandjies vol stukke julle opgetel het nie?” Hulle antwoord Hom: “Twaalf.” “En toe Ek die sewe brode vir die vierduisend gebreek het, hoeveel mandjies vol stukke wat oorgebly het, het julle toe opgetel?” Hulle antwoord Hom: “Sewe.” Hy sê toe vir hulle: “Begryp julle steeds nie?”

MARKUS 8:1-21 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

In daardie dae toe die skare baie groot was en niks gehad het om te eet nie, het Jesus sy dissipels na Hom geroep en vir hulle gesê: Ek ontferm my oor die skare, want hulle is nou drie dae by my en het niks om te eet nie. En as Ek hulle vassend na hul huise wegstuur, sal hulle op die pad beswyk, want verskillende van hulle het van ver af gekom. En sy dissipels antwoord Hom: Waarvandaan kan iemand hierdie manne hier in die woestyn met brood versadig? En hy vra hulle: Hoeveel brode het julle? En hulle sê: Sewe. En Hy het die volk bevel gegee om op die grond te gaan sit; en Hy het die sewe brode geneem en gedank en gebreek en aan sy dissipels gegee om hulle voor te sit; en hulle het hulle voor die volk gestel. En hulle het 'n paar klein vissies gehad, en hy het geseën en bevel gegee om hulle ook voor hulle te sit. Hulle het toe geëet en versadig geword, en van die gebreekte vleis wat oorgebly het, het hulle sewe mandjies opgetel. En die wat geëet het, was omtrent vier duisend, en hy het hulle weggestuur. En dadelik het Hy saam met sy dissipels in 'n skip geklim en in die streke van Dalmanutha gekom. En die Fariseërs het uitgegaan en met Hom begin ondervra en van Hom 'n teken uit die hemel gesoek om Hom te versoek. En hy het diep in sy gees gesug en gesê: Waarom soek hierdie geslag na 'n teken? Voorwaar Ek sê vir julle, aan hierdie geslag sal geen teken gegee word nie. En hy het hulle verlaat en in die skip geklim en weer na die oorkant vertrek. En die dissipels het vergeet om brood te neem, en hulle het nie meer as een brood saam met hulle in die skip gehad nie. En Hy het hulle bevel gegee en gesê: Pas op, pas op vir die suurdeeg van die Fariseërs en vir die suurdeeg van Herodes. En hulle het onder mekaar geredeneer en gesê: Dit is omdat ons geen brood het nie. En toe Jesus dit weet, sê Hy vir hulle: Waarom redeneer julle, omdat julle geen brood het nie? bemerk julle nog nie en verstaan julle nie? het jy jou hart al verhard? As julle oë het, sien julle nie? en as julle ore het, hoor julle nie? en onthou julle nie? Toe ek die vyf brode onder vyfduisend gebreek het, hoeveel mandjies vol brokstukke het julle opgetel? Hulle sê vir hom: Twaalf. En toe die sewe onder vier duisend, hoeveel mandjies vol brokstukke het julle opgetel? En hulle sê: Sewe. En Hy sê vir hulle: Hoe is dit dat julle nie verstaan nie?

MARKUS 8:1-21 Die Boodskap (DB)

Terwyl Jesus daar rond was, was daar op ’n slag weer so baie mense bymekaar. Hulle het niks by hulle gehad om te eet nie. Jesus roep toe sy getrouste volgelinge eenkant toe en sê: “Ek voel jammer en bekommerd oor die mense. Hulle is nou al drie dae hier by My en hulle het niks meer oor om te eet nie. As Ek hulle nou op ’n leë maag huis toe stuur, is Ek seker gaan party van hulle dit nie maak nie, want hulle bly baie ver.” Sy volgelinge sê toe: “Waar op aarde gaan ons hier in die grammadoelas kos kry vir so baie mense?” “Hoeveel kos het ons?” vra Jesus. “Ons het sewe brode,” kom die antwoord. Jesus vra die mense toe om almal op die grond te gaan sit. Hy het vir God dankie gesê vir die kos en die brood begin deel. Die dissipels het die stukke brood vir die mense uitgedeel. Daar was ’n paar klein vissies ook. Ook daarvoor het Jesus vir God dankie gesê en dit onder die mense uitgedeel. Die mense het geëet tot hulle genoeg gehad het. Na die tyd het die dissipels die kos wat oorgebly het, bymekaargemaak - dit was sewe houers vol. Daar was altesaam omtrent 4 000 mense. Toe hulle klaar geëet het, het Jesus die mense gevra om huis toe te gaan. Hy en sy getrouste volgelinge is met die skuit na die gebied van Dalmanuta toe. Daar kom Jesus toe ’n klompie godsdienstige Jode teë wat hulleself Fariseërs noem. Hulle wou met Hom kom stry. Om te kyk of Hy nie dalk iets verkeerds sal doen of sê nie, vra hulle Hom toe om vir hulle iets te doen as bewys dat God aan sy kant is. Met ’n swaar sug sê Jesus toe: “Waarom soek hierdie mense net heeltyd na iemand wat buitengewone dinge kan doen? Laat Ek nou vir julle sê: so ’n bewys gaan Ek nie vir julle gee nie.” Jesus het die stryerige Jode daar gelos, in die skuit geklim en na die ander kant van die See van Galilea gevaar. Sy volgelinge het vergeet om genoeg brood in te pak. Hulle het net een by hulle gehad. Jesus sluit toe daarby aan met ’n voorbeeld: “Wees baie versigtig vir die suurdeeg van die godsdienstige Jode wat hulleself die Fariseërs noem en ook vir die suurdeeg van Herodes.” Die dissipels wonder toe onder mekaar waarom Jesus nou juis dit sê. “Dit is seker omdat ons nie genoeg brood saamgebring het nie,” dink hulle toe. Jesus kom toe agter wat hulle besig was om te bespreek. “Julle misgis julle heeltemal,” sê Hy. “Waarom praat julle oor die brood wat julle vergeet het? Is julle so dom dat julle nie kan verstaan wat Ek bedoel nie? Of wil julle dalk nie verstaan nie? Julle het oë, maar sien niks nie en het ore, maar gaan soos dowes deur die lewe. Kan julle dan nie onthou hoe baie kos oorgebly het toe Ek met vyf brode vir die 5 000 mense kos gegee het nie?” “Twaalf houers vol,” antwoord hulle vinnig. “En toe Ek met sewe brode 4 000 mense genoeg gegee het om te eet, hoeveel kos was daar toe oor?” vra Jesus. Weer laat hulle nie op hulle wag nie: “Sewe houers vol.” Toe sê Jesus vir hulle: “Kan julle dan nog steeds nie insien dat dit nie brood is waarteen Ek julle waarsku nie?”

MARKUS 8:1-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Ongeveer dieselfde tyd was daar weer ’n groot menigte mense by Jesus. Omdat hulle nie kos gehad het nie, het Jesus sy dissipels nadergeroep met die woorde: “Ek is baie jammer vir hierdie mense, want hulle is nou al drie dae by My en het niks om te eet nie. As Ek hulle met leë mae huis toe stuur, gaan hulle langs die pad van honger doodgaan. Party van hulle kom ook nog van ver af.” Sy dissipels antwoord Hom toe: “Hoe op aarde sal ons in hierdie verlate wêreld kos kry vir al hierdie mense?” “Hoeveel brode het julle?” het Hy gevra. “Sewe,” was hulle antwoord. Hy sê toe almal moet op die grond gaan sit. Daarop neem Jesus die sewe brode, dank God daarvoor, breek dit en gee dit aan sy dissipels, wat dit weer onder die skare uitdeel. Hulle het ook ’n paar vissies gehad. Nadat Jesus die seën oor die vissies uitgespreek het, het Hy gesê dat dit ook uitgedeel moes word. Hulle het geëet totdat hulle versadig was. Van die oorskiet van die brood het hulle nog sewe mandjies vol opgetel. Daar was omtrent 4 000 mense. Daarna het Hy hulle huis toe gestuur. Toe het Hy dadelik saam met sy dissipels in die boot geklim en die see oorgesteek na die omgewing van Dalmanuta. Toe die Fariseërs hoor van Jesus se aankoms, het hulle met Hom begin argumenteer. Om die egtheid van Jesus se aansprake te toets dring hulle toe by Hom aan op ’n goddelike wonderteken. Jesus sug toe diep en sê: “Waarom wil julle mense so graag ’n wonderteken hê? Ek verseker julle, Ek gaan aan hierdie bose geslag mense geen teken gee nie.” Hy het hulle toe net daar gelos, in die skuit geklim en weer na die oorkant toe vertrek. Die dissipels het vergeet om brood te koop. Hulle het net een brood by hulle in die skuit gehad. Jesus waarsku hulle toe: “Wees baie versigtig vir die suurdeeg van die Fariseërs en Herodes.” Hulle het toe onder mekaar geargumenteer: “Hy sê dit omdat ons geen brood by ons het nie.” Jesus het geweet wat hulle dink en sê toe vir hulle: “Waarom argumenteer julle onder mekaar omdat julle nie brood het nie? Sal julle nooit leer of verstaan nie? Is daar nog steeds soveel weerstand in julle harte? Julle het oë – kan julle dan nie sien nie? Julle het ore – kan julle dan nie hoor nie? Onthou julle dan glad nie? Toe Ek die vyf brode vir die 5 000 gebreek het, hoeveel mandjies vol oorskiet het julle opgetel?” Hulle antwoord Hom: “Twaalf.” “En toe Ek die 4 000 met sewe brode gevoed het, hoeveel mandjies vol oorskiet het julle opgetel?” “Sewe,” het hulle geantwoord. “Verstaan julle selfs nou nog nie?” het Hy hulle gevra.