Markus 8:1-21

Markus 8:1-21 ABA

In daardie tyd was daar weer 'n groot klomp mense saam met Jesus en hulle het niks kos gehad nie. Jesus het sy dissipels na Hom toe geroep en vir hulle gesê: “Ek voel baie jammer vir al hierdie mense, want hulle is al drie dae by My en hulle het niks kos nie. As Ek hulle nou honger wegstuur huis toe, dan sal hulle flou word voordat hulle by die huis is. Party van hulle het van ver gekom.” Jesus se dissipels het vir Hom gevra: “Waar sal ons genoeg brood kry vir al die mense? Ons is ver van 'n stad, hier woon niemand nie.” Jesus vra toe vir hulle: “Hoeveel brood het julle?” En hulle sê vir Hom: “Ons het sewe brode.” Jesus het toe vir al die mense gesê hulle moet op die grond gaan sit om te eet. Hy het die sewe brode geneem en vir God dankie gesê daarvoor. Daarna het Hy die brood in stukke gebreek en dit vir sy dissipels gegee om vir al die mense te gee, en hulle het dit vir die mense gegee. Hulle het ook 'n paar vissies gehad. Jesus het dit geneem en weer vir God dankie gesê. Toe het Hy gesê sy dissipels moet die vis ook vir die mense gee. Al die mense het genoeg geëet. Sy dissipels het die stukkies bymekaargemaak wat oorgebly het. Dit was sewe groot mandjies vol. Daar was omtrent 4 000 mense wat geëet het. Toe het Jesus almal huis toe gestuur. Jesus en sy dissipels het toe dadelik in 'n boot geklim en na plekke naby die stad Dalmanuta gegaan. Daar kom toe Fariseërs en hulle het met Jesus begin stry. Hulle wou Hom toets en kyk wat Hy doen. Daarom het hulle vir Hom gevra om 'n wonderteken te wys wat van God kom. Jesus het gesug en gesê: “Hoekom wil die mense wat nou lewe, 'n wonderteken sien? God sal nie 'n wonderteken vir hulle wys nie. Dit is seker.” Jesus het weggegaan van die Fariseërs. Hy het weer in die boot geklim en na die ander kant van die see gegaan. Die dissipels het nie genoeg brood saamgeneem nie. Hulle het net een brood by hulle in die boot gehad. Jesus het sy dissipels gewaarsku en vir hulle gesê: “Julle moet oppas, julle moet versigtig wees vir die suurdeeg van die Fariseërs en die suurdeeg van koning Herodes.” Die dissipels het daaroor met mekaar gepraat. Hulle het gedink Jesus sê dit omdat hulle nie brood gehad het nie. Jesus het geweet wat hulle dink en Hy het vir hulle gevra: “Hoekom praat julle oor die brood wat julle nie het nie? Weet julle nie, verstaan julle nog nie? Hoekom is julle so hardkoppig? “ Julle het oë, maar julle sien nie, en julle het ore, maar julle hoor nie. “Kan julle nie onthou nie? Toe Ek vyf brode gebreek het en vir die 5 000 mense kos gegee het, hoeveel mandjies vol stukkies het julle daarna opgetel?” Die dissipels het geantwoord: “Twaalf mandjies.” Jesus vra toe weer: “En toe Ek die sewe brode gebreek het en vir die 4 000 mense kos gegee het, hoeveel groot mandjies vol stukkies het julle toe opgetel?” Die dissipels het geantwoord: “Sewe mandjies.” Toe vra Jesus vir sy dissipels: “Verstaan julle nog nie?”

Video for Markus 8:1-21

Gratis leesplanne en oordenkings oor Markus 8:1-21