Markus 4:26-41

Markus 4:26-41 AFR20

En Hy het gesê: “Die •koninkryk van God is soos 'n man wat saad op die land uitstrooi, en nag ná nag gaan slaap, en dag ná dag opstaan, en die saad ontkiem en groei – hoe, weet hy self nie. Die land bring die graan vanself voort: eers 'n halm, dan 'n aar en dan die koring vol in die aar. Wanneer die graan ryp is, steek hy dadelik die sekel in, omdat die oestyd daar is. ” En Hy het gesê: “Hoe sou mens die •koninkryk van God uitbeeld, of deur watter gelykenis sou mens dit voorstel? Dit is soos die mosterdsaadjie wat, wanneer dit in die grond gesaai word, kleiner is as al die soorte saad op die land. Maar wanneer dit gesaai is, kom dit op en word dit die grootste van al die tuinplante, en maak sulke groot takke dat die voëls van die hemel in sy skaduwee kan nesmaak. ” Deur baie sulke gelykenisse het Hy die boodskap op so 'n manier aan hulle vertel dat hulle dit kon verstaan. Sonder 'n gelykenis het Hy nie met hulle gepraat nie, maar wanneer hulle op hulle eie was, het Hy alles vir sy eie dissipels uitgelê. Op daardie dag, toe dit aand geword het, sê Hy vir hulle: “Kom ons gaan na die oorkant!” Hulle het toe die skare agtergelaat en Hom saamgeneem, aangesien Hy reeds in die boot was. Daar was ook ander bote by Hom. 'n Hewige stormwind het opgekom, en die golwe het in die boot geslaan, sodat die boot reeds vol water begin word het. Hy self was egter agter in die boot op die kussing aan die slaap. Hulle maak Hom toe wakker en sê vir Hom: “Meester, gee U nie om dat ons vergaan nie?” Toe staan Hy op, bestraf die wind en sê vir die see: “Wees stil, bedaar!” Die wind het gaan lê, en daar het 'n groot kalmte gekom. Hy vra hulle toe: “Waarom is julle bang? Het julle nog steeds nie geloof nie?” Hulle is met diep ontsag vervul en het vir mekaar gesê: “Wie is Hy tog dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam?”

Gratis leesplanne en oordenkings oor Markus 4:26-41