MARKUS 4:26-41

MARKUS 4:26-41 Bybel vir almal (ABA)

Jesus het gesê: “Wanneer God Koning is, dan is dit soos wanneer 'n man saad in die grond saai, en dan in die aand gaan slaap en in die oggend opstaan. Die saad begin groei en die plante word groter. Die man weet nie hoe dit gebeur nie. Die grond laat die koring self groei. Eers groei 'n klein plantjie, dan kom die koring-aar uit en daarna word dit 'n groot koring-aar. Wanneer die koring ryp is, dan sny die man dit dadelik af met 'n sekel, want dan is dit die tyd om dit te doen.” Jesus het gesê: “Hoe kan Ek vir julle verduidelik hoe dit is wanneer God Koning is? Watter gelykenis kan Ek gebruik? Dit is soos 'n mosterd-saad. Iemand plant dit, en dit is die kleinste saadjie op die aarde. Maar wanneer hy dit geplant het en die plant klaar gegroei het, dan is dit groter as al die ander plante in die tuin. Dit kry groot takke en die voëls maak neste in sy skaduwee.” Jesus het baie gelykenisse soos hierdie vertel wanneer Hy met die mense gepraat het. Hy het gelykenisse vertel wat hulle kon verstaan. Hy het altyd gelykenisse gebruik wanneer Hy met die mense gepraat het. Wanneer Hy alleen was saam met sy dissipels, dan het Hy vir hulle verduidelik wat die gelykenisse beteken. Daardie aand het Jesus vir sy dissipels gesê: “Kom ons gaan oor na die ander kant van die see.” Die dissipels het weggegaan van die groot klomp mense. Jesus was nog in die boot en die dissipels het Hom saamgeneem. Daar was ook ander bote saam met hulle. 'n Sterk stormwind het begin waai en die branders het so hoog teen die boot begin slaan dat die boot vol water begin word het. Jesus het agter in die boot op 'n kussing gelê en slaap. Die dissipels maak Hom toe wakker en hulle vra vir Hom: “Meneer, is U nie bekommerd oor ons nie? Ons sal verdrink!” Jesus het opgestaan en Hy het kwaai met die wind gepraat. Hy het vir die see gesê: “Bly stil! Word kalm!” Die wind het opgehou waai en die see het stil en kalm geword. Jesus vra toe vir hulle: “Hoekom is julle bang? Glo julle nou nog nie in My nie?” Die dissipels het baie bang geword. Hulle sê toe vir mekaar: “Wie is hierdie Man? Ook die wind en die see luister na Hom.”

MARKUS 4:26-41 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN Hy het gesê: So is die koninkryk van God, soos wanneer 'n mens die saad in die grond gooi; en hy gaan slaap en staan op, nag en dag, en die saad spruit uit en word groot — hoe, weet hy self nie. Want vanself bring die aarde vrug voort, eers 'n halm, dan 'n aar, dan die volle koring in die aar. En wanneer die vrug dit toelaat, steek hy die sekel dadelik in, omdat die oes daar is. EN Hy het gesê: Waarmee moet ons die koninkryk van God vergelyk, of met watter soort gelykenis moet ons dit voorstel? Dit is soos 'n mosterdsaad, wat die kleinste is van al die soorte saad op die aarde wanneer dit in die grond gesaai is; en wanneer dit gesaai is, kom dit op en word groter as al die groentesoorte en maak groot takke, sodat die voëls van die hemel onder sy skaduwee nes kan maak. En met baie sulke gelykenisse het Hy die woord tot hulle gespreek volgens wat hulle kon verstaan; en sonder gelykenis het Hy tot hulle nie gespreek nie; maar afsonderlik het Hy vir sy dissipels alles uitgelê. EN toe dit aand geword het op daardie dag, het Hy vir hulle gesê: Laat ons oorvaar na die ander kant. En hulle het die skare verlaat en Hom, net soos Hy was, saamgeneem in die skuit; en daar was ook ander skuitjies by Hom. En 'n groot stormwind het opgekom, en die golwe het in die skuit geslaan, sodat dit al vol wou word. Maar Hy was agter op die skuit aan die slaap op die kussing. En hulle het Hom wakker gemaak en vir Hom gesê: Meester, gee U nie om dat ons vergaan nie? En Hy het opgestaan en die wind bestraf en vir die see gesê: Swyg, wees stil! En die wind het gaan lê, en daar het 'n groot stilte gekom. Toe sê Hy vir hulle: Waarom is julle so bang? Hoe het julle dan geen geloof nie? En 'n groot vrees het hulle oorweldig, en hulle het vir mekaar gesê: Wie is Hy tog, dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam is!

MARKUS 4:26-41 Afrikaans 1983 (AFR83)

Verder het Hy gesê: “Met die koninkryk van God gaan dit só: Iemand saai die saad op die land en gaan slaap en staan op, dag na dag, en die saad ontkiem en groei – hóé weet hy self nie. Vanself bring die aarde die graan voort, eers 'n halm, dan 'n aar, dan die vol koringaar. En wanneer die graan ryp is, steek hy dadelik die sekel in, omdat die oestyd daar is.” Hy het ook gesê: “Hoe sal ons die koninkryk van God voorstel, of met watter gelykenis sal ons dit uitbeeld? Dit is soos 'n mosterdsaadjie. Wanneer dit in die land geplant word, is dit die kleinste van al die soorte saad daar in die land. Maar as dit eenmaal geplant is, kom dit op en word dit groter as al die tuinplante. Dit kry sulke groot takke dat die voëls in sy skaduwee kom nes maak.” Deur baie sulke gelykenisse het Jesus met die mense oor sy boodskap gepraat, vir sover hulle dit kon verstaan. Sonder 'n gelykenis het Hy nie met hulle gepraat nie, maar wanneer Hy met sy dissipels alleen was, het Hy vir hulle alles uitgelê. Laat daardie middag sê Jesus vir sy dissipels: “Kom ons vaar oorkant toe.” Hulle het toe die mense wat daar was, daar laat bly en Hom saamgeneem in die skuit waarin Hy gesit het. Daar was ook nog ander skuite by. Skielik het daar 'n groot storm losgebars, en die golwe het in die skuit geslaan, sodat die skuit al begin vol word het. Jesus het op die bank in die agterstewe gelê en slaap. Hulle maak Hom toe wakker en sê vir Hom: “Meneer, gee U dan nie om dat ons vergaan nie?” Toe staan Hy op, bestraf die wind en sê vir die see: “Hou op! Bedaar!” Die wind het gaan lê en daar het 'n groot stilte gekom. Toe sê Hy vir hulle: “Waarom is julle bang? Het julle dan nie geloof nie?” Hulle is met groot ontsag vervul en het vir mekaar gesê: “Wie kan Hy tog wees dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam?”

MARKUS 4:26-41 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

En Hy het gesê: “Die •koninkryk van God is soos 'n man wat saad op die land uitstrooi, en nag ná nag gaan slaap, en dag ná dag opstaan, en die saad ontkiem en groei – hoe, weet hy self nie. Die land bring die graan vanself voort: eers 'n halm, dan 'n aar en dan die koring vol in die aar. Wanneer die graan ryp is, steek hy dadelik die sekel in, omdat die oestyd daar is. ” En Hy het gesê: “Hoe sou mens die •koninkryk van God uitbeeld, of deur watter gelykenis sou mens dit voorstel? Dit is soos die mosterdsaadjie wat, wanneer dit in die grond gesaai word, kleiner is as al die soorte saad op die land. Maar wanneer dit gesaai is, kom dit op en word dit die grootste van al die tuinplante, en maak sulke groot takke dat die voëls van die hemel in sy skaduwee kan nesmaak. ” Deur baie sulke gelykenisse het Hy die boodskap op so 'n manier aan hulle vertel dat hulle dit kon verstaan. Sonder 'n gelykenis het Hy nie met hulle gepraat nie, maar wanneer hulle op hulle eie was, het Hy alles vir sy eie dissipels uitgelê. Op daardie dag, toe dit aand geword het, sê Hy vir hulle: “Kom ons gaan na die oorkant!” Hulle het toe die skare agtergelaat en Hom saamgeneem, aangesien Hy reeds in die boot was. Daar was ook ander bote by Hom. 'n Hewige stormwind het opgekom, en die golwe het in die boot geslaan, sodat die boot reeds vol water begin word het. Hy self was egter agter in die boot op die kussing aan die slaap. Hulle maak Hom toe wakker en sê vir Hom: “Meester, gee U nie om dat ons vergaan nie?” Toe staan Hy op, bestraf die wind en sê vir die see: “Wees stil, bedaar!” Die wind het gaan lê, en daar het 'n groot kalmte gekom. Hy vra hulle toe: “Waarom is julle bang? Het julle nog steeds nie geloof nie?” Hulle is met diep ontsag vervul en het vir mekaar gesê: “Wie is Hy tog dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam?”

MARKUS 4:26-41 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En hy sê: So is die koninkryk van God, asof 'n mens saad in die grond gooi; en sou slaap en nag en dag opstaan, en die saad sou opspring en opgroei, hy weet nie hoe nie. Want die aarde dra uit haarself vrugte; eers die lem, dan die aar, daarna die vol koring in die aar. Maar as die vrugte gebore is, gooi hy dadelik die sekel in, want die oes het gekom. En hy sê: Waarmee sal ons die koninkryk van God vergelyk? of met watter vergelyking sal ons dit vergelyk? Dit is soos 'n mosterdsaad wat, wanneer dit in die aarde gesaai word, minder is as al die saad wat op die aarde is; Maar wanneer dit gesaai word, groei dit op en word dit groter as al die kruie, en dit skiet groot takke uit; sodat die voëls van die hemel in die skadu daarvan kan bly. En met baie sulke gelykenisse het Hy die woord aan hulle gespreek, soos hulle dit kon hoor. Maar sonder gelykenis het Hy nie met hulle gespreek nie; en toe hulle alleen was, het Hy alles aan sy dissipels uitgelê. En op dieselfde dag, toe dit aand geword het, sê Hy vir hulle: Laat ons oortrek na die oorkant toe. En toe hulle die skare weggestuur het, het hulle hom gevat terwyl hy in die skuit was. En daar was ook ander klein skepe by hom. En daar het 'n groot stormwind opgekom, en die golwe het in die skip geslaan, sodat dit nou vol was. En hy was agter in die skip en slaap op 'n kussing; en hulle maak hom wakker en sê vir hom: Meester, gee u nie om dat ons vergaan nie? En hy het opgestaan en die wind bestraf en vir die see gesê: Vrede, wees stil! En die wind het gaan lê, en daar het 'n groot stilte gekom. En Hy sê vir hulle: Waarom is julle so bang? hoe is dit dat julle geen geloof het nie? En hulle het uitermate bang geword en vir mekaar gesê: Watter soort mens is Hy dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam?

MARKUS 4:26-41 Die Boodskap (DB)

Jesus het nog ’n verhaal vertel: “God se nuwe wêreld kan vergelyk word met ’n man wat saad saai. Die saad kom op en groei vanself, terwyl die boer maar sy gewone gang gaan. Die boer self kan dit nie presies verklaar nie. Al wat hy weet, is dat dit gebeur. Die saad groei self uit die grond uit. Eers kom die plantjie uit. Daarna maak dit ’n klein vruggie en uiteindelik hang die ryp vrug daar. As die vrug ryp is, oes die boer dit af omdat die oestyd daar is. “Waarmee kan Ek God se nuwe wêreld nog vergelyk of met watter voorbeelde kan Ek dit nog verder vir julle verduidelik?” het Jesus gevra. “Dit is soos ’n mosterdsaadjie. Dit is seker die kleinste saadjie wat ’n mens kan saai. Tog, as ’n mens dit plant, word dit die grootste van al die plante in die tuin. Die takke is so groot dat die voëls dit tussen ander uitsoek om daar nes te maak.” Jesus het nog baie ander voorbeelde vir hulle gegee, meer as genoeg vir hulle om oor na te dink. Alles het Hy vir hulle met sulke voorbeelde uiteengesit. Wanneer Hy saam met sy dissipels alleen was, het Hy mooi vir hulle verduidelik wat Hy met die verhale bedoel. Toe dit begin skemer word, sê Jesus vir sy dissipels: “Kom ons gaan na die oorkant van die meer toe.” Die dissipels is toe saam met Jesus, wat nog in die skuit was, daar weg. Die ander mense het op die strand agtergebly, hoewel party wel met skuitjies saam oorkant toe is. Daar bars toe ’n woeste storm los. Die golwe het tot binne-in die skuit geslaan en die skuit het vol water begin word. Jesus het agter in die skuit op ’n kussing gelê en slaap. Die dissipels skud Hom toe wakker en sê: “Gee U nie om dat ons besig is om te sink nie?” Jesus staan toe op en praat streng met die wind en die golwe: “Stil! Word rustig.” Dadelik het die wind gaan lê en alles was heeltemal kalm. Toe draai Hy na sy dissipels toe: “Vir wat was julle so bang? Vertrou julle My dan nie?” Hulle was heeltemal verslae en het klein gevoel in sy teenwoordigheid. “Wie is Hy werklik? Selfs die wind en die see doen wat Hy sê,” het hulle onder mekaar gewonder.

MARKUS 4:26-41 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Jesus het ook gesê: “God se koningsheerskappy is soos ’n boer wat saad op sy land saai. Dan gaan hy voort met sy ander daaglikse aktiwiteite. Intussen ontkiem en groei die saad – hoe, weet hy self nie mooi nie. Die grond produseer die graan vanself: eers kom die eerste blaartjie uit, dan vorm die aar en uiteindelik sit die volgroeide koringkorrel in die aar. En sodra die koring ryp is, steek die boer die sekel in, want die oestyd is daar.” “Waarmee kan Ek die koningsheerskappy van God vergelyk?” het Jesus gevra. “En met watter gelykenis sal ons dit toelig? “Dis soos ’n mosterdsaadjie wat wel die kleinste van alle sade is, maar nadat dit geplant is, skiet dit op en word groter as al die plante in die tuin. Dit maak takke wat so groot word dat die voëls veilig daarin kan kom nes maak.” Jesus het baie sulke gelykenisse gebruik om die woord aan die mense te bedien volgens wat hulle kon verstaan. Eintlik het Hy in sy openbare onderrig net gelykenisse gebruik, maar wanneer Hy agterna alleen was saam met sy dissipels, het Hy alles vir hulle verder verduidelik. Teen die aand sê Jesus vir sy dissipels: “Kom ons vaar oorkant toe.” Hulle het die skare toe agtergelaat en Jesus – Hy was immers alreeds in die skuit – sommer net so saamgeneem (alhoewel daar ander skuite agternagekom het). Daar het ’n hewige stormwind opgekom. Groot golwe het teen die skuit gebreek, met die gevolg dat dit alreeds vol water begin word het. Jesus het agter in die skuit gelê en slaap met sy kop op ’n kussing. Sy dissipels maak Hom toe wakker en sê vir Hom: “Leermeester, gee U nie om dat ons besig is om te vergaan nie?” Jesus het opgestaan, die stormwind ernstig aangespreek en vir die see gesê: “Bedaar! Word kalm!” Toe het die wind gaan lê en daar het ’n groot rustigheid gekom. Hy vra toe vir hulle: “Hoekom is julle so verskrik? Vertrou julle My nog steeds nie?” Hulle was heeltemal oorweldig en het vir mekaar gesê: “Wie is Hy werklik? Selfs die wind en die see luister na Hom!”